Ons praat met

Patricia Lewis: Altyd my ma se superster

Sy het geleef vir haar ouers se applous en vir elke “Good girl!” Vandat sy 6 was tot op 16 het Patricia Lewis twee tot drie uur per dag gimnastiek geoefen. Dan was daar die klavierlesse, koor, operette en modelwerk. En elke jaar moes sy aan Miss Mondeor High en elke moontlike ander skoonheidswedstryd deelneem. Haar ma se eie klein superster, wat haar geduldig van die een aktiwiteit na die ander aangery het. Sy het 13 skoonheidstitels agter haar naam.

Vir Patricia was daar van kleins af nie kans vir onwilligheid nie. Dan het Linda Lewis,’n oudstadsraadslid van Johannesburg, haar voet neergesit: “Jy sál gimnastiek toe gaan. Trek daai leotard nou aan! Ek wag vir jou in die kar.” Dis dieselfde ma wat haar nou sal aanspoor as sy die dag nie die krag het vir ’n vertoning nie: “Gaan stort en trek jou aan.” Die ma wat nou vir klein Max versorg tydens haar dogter se druk program.

Vandag weet Patricia dit was haar ma se dryfkrag wat haar van die middelklas-huis in Mondeor tot in die spoghuis in Glen Vista aan die regte kant van die berg laat uitstyg het. Haar ouers kon haar nie materiële dinge gee nie, maar met liefde en ondersteuning het hulle haar en haar twee susters geleer ’n mens behaal net sukses as jy hard daarvoor werk.

Linda vertel Patricia was skaars 4 toe sy haar oom Frans op die orrel kon naboots. “Sy het gestaan en luister hoe hy speel en dit die volgende dag perfek nagedoen. Sy is een van daardie gelukkige mense wat minstens vyf talente gekry het.”Ja, soms moes Ma maar streng wees, beken sy. “En ek sou brood eet, maar ek het gesorg dat sy die regte toerusting en klere het.” Dit was soms straf op ’n kind. Menige aand het Patricia moeg by die huis gekom met kneusplekke, en drie keer met ’n gebreekte arm. Haar vingers en tone was gereeld uit lit. Een keer was dit haar skouer, maar sy het geweet sy sal weer en weer teruggaan gimnastiek toe.

Later het sy ’n paar groot foute in haar loopbaan gemaak en een keer byna haar ster uitgebrand, maar danksy haar ingewortelde dryfkrag kon sy elke keer opstaan. Op 40 kyk sy terug op haar loopbaan, en sy weet sy het die vrugte gepluk van die boompie wat haar ma van kleins af gebuig het.

Hoe voel dit om 40 te wees?
Dit was soos ’n oogwink tussen 20 en nou. Daar is dinge wat hang en ek weeg ’n bietjie meer. Maar ek is wyser. Soms wens ek ek het op 20 geweet wat ek nou weet, maar as jy nie deur goeie en slegte ervarings in jou lewe gaan nie, leer jy niks nie.

Jy is gemakliker in Engels, hoekom sing jy in Afrikaans?
Dit was die goeie ou Jurie Els wat my die kans van ’n leeftyd gegee het. My eerste Engelse CD, Don’t Tempt Me, in 1992 was ’n mislukking. Net 4 000 eksemplare is verkoop en ek kon daarna nie weer ’n platekontrak kry nie. Ek was 29 en het gedink ek het my laaste kans gehad. Toe vra Jurie my by ’n geleentheid waar ek ’n beoordeelaar was of ek nie lus is vir ’n Afrikaanse CD nie. Ek het skielik besef die meeste mense wat na my vertonings kom, is Afrikaans. Ek was in Engelse skole, maar het altyd ’n sterk Afrikaanse invloed gehad, want my ma is Afrikaans.

GUNSTELINGE

FLIEK: Grease

BOEK: Enige outobiografie

KOS: Kreef en sjokolade

DRANKIE: Melk of Franse sjampanje

AKTEUR: Kan nie nou aan een dink nie.

AKTRISE: Meryl Streep

GOUE OOMBLIK: Toe Max gebore is en ek hom kon vashou. Hy het aan my wang begin suig.

WOORDE: Mommy, I love you!
TV-PROGRAM: Oprah

En die res is geskiedenis?
Ek aanvaar niks in die lewe as vanselfsprekend nie. Ek het nog nie vir een sekonde nadat Jurie my die kans gegee het, opgehou werk vir my sukses nie. 8 000 eksemplare van my eerste Afrikaanse CD is in die eerste maand verkoop en die syfer het bly styg tot goud. Maar ek het steeds gedink dit was die kruin, ek het nie gedink my loopbaan sal verder groei nie. Aan die einde van daardie jaar was die verkoopsyfer ’n ongelooflike 115 000. Ek was ’n ster!

Daarna was dit nie altyd ’n glanslewe nie?
Ek het in ’n stadium 30 vertonings ’n maand gedoen. Dit het ’n tol geëis: My hare het begin uitval, my vel het opgepak en my stem was rou. Ek moes vertonings begin kanselleer. Dit was die einde van 1998. My nuwe ster was byna uitgebrand, maar ek moes aangaan. Die volgende CD moes uit, en die volgende een en die volgende een. En hier sit ek byna 10 jaar later en ek kan nie glo ek het dit gemaak nie.

Jy het ’n hele paar lesse geleer?
Ek het met goeie en slegte mans uitgegaan. Op 20 het ek die Baywatch-ster David Hasselhoff by Sun City ontmoet toe hy ’n rolprent kom maak het. Ek was jonk en baie gevlei dat Knight Rider in my belangstel. Ek was selfs op die Baywatch-stel en almal wou weet of ek in die reeks gaan optree. Ek het steeds ná 20 jaar kontak met hom. Hy is ’n goeie man, ek kry hom jammer oor alles waardeur hy gaan. ’n Paar kêrels het my daarna emosioneel verniel.

Ek was deur hel in my verhouding van nege jaar met Pierre Griffioen. Hy het my besprekings gedoen en as my klankingenieur opgetree. Dit was intens. Ons het onder baie spanning saamgewerk. Hy is seker ’n goeie ou op sy eie en met iemand anders, maar saam was ons nie goed vir mekaar nie. Dit was ’n afbrekende verhouding. Ek was 35 jaar oud toe ek Mark Whitfield ontmoet het. Ek het begin moed verloor, maar my Prince Charming het gekom. Mark is deur God na my gestuur.

Jul haarstyle trek baie aandag?
(Sy lag lekker oor mense se ewige kommentaar oor Mark se hare.) Hy is die laaste mens op aarde wat omgee oor sy hare. Mense is net so behep met my hare. Hulle kom trek daaraan om seker te maak dis my regte hare. (Sy gooi haar kop vooroor sodat ’n mens kan sien daar is geen haarverlengings nie.) Mense wil dit nie glo nie, omdat ek in ’n advertensieveldtog vir haarverlengings opgetree het. Hulle het my ’n kontrak aangebied, omdat so baie mense gevra het vir haarverlengings “soos Patricia Lewis s’n”.

Ek het ingestem om vir ’n paar maande die gesig van die maatskappy te wees. Die geld was destyds redelik goed, maar as ek nou terugkyk, sal ek dit nie weer doen nie, want ek het my siel verkoop. Dit het die indruk gewek als aan my is vals. Oukei, dit is nie my regte haarkleur nie (sy sê sy is eintlik ’n rooikop) en ek dra ’n bietjie grimering, maar als aan my is eg.

Pla die bewustheid oor voorkoms jou?
Dis ongelukkig deel van die bedryf. Ek bly maer, want ek is aktief en doen tien tot twaalf optredes per maand. Drie weke voor Strictly Come Dancing het ek fikser geword, want ek het teen meisies soos die 21-jarige Wonderbra-model Lieschen Botes deelgeneem. Ek het tot vyf uur per dag, drie of vier keer per week vir die program geoefen om my lyf reg te kry.

Die reeks was nie vir jou ’n goeie ervaring nie?
Ek wou nog altyd daaraan deelneem. Hulle het my eenkeer genooi vir ’n Nuwejaarsvertoning, maar ek was besig. Vir dié reeks het hulle my ’n jaar vooruit bespreek. Ek het April en Mei oopgehou, maar toe skuif hulle die datum ses weke later, in die tyd toe my Supersterre-oudisies moes begin.Ek het van Donderdag tot Sondag die een program gedoen en van Maandag tot Woensdag die ander een. Dit was stresvol en ek en my dansmaat het minder as die helfte van die oefentyd as die ander deelnemers gehad.

Toe loop dinge skeef?
Ek het ná die eerste episode begin vermoed daar was ’n vooraf georganiseerde wenner.* Ek werk vir SABC2. Hulle is wonderlike mense. Supersterre is op SABC2, so ek kan nie veel meer sê nie as: Good luck to them. My kop was reg om my beste te doen, maar ek was gedoem om elke week laaste te kom voor die beoordelaars. Hulle was ook baie selektief met hul kameraskote. Ek het net een keer in trane uitgebars, maar hulle het dit elke week gewys. Ek het daardie aand verneder en seergemaak voor die publiek gevoel. Ek het in my hart geweet ek het nie die lae punte verdien nie. Gelukkig was Mark agter die skerms om my te troos.

Is Mark beskermend?
Vir die eerste keer voel ek ek word beskerm deur ’n man. Ons is al vyf jaar saam en het nog nooit baklei nie, ons debatteer net soms. Hy is ’n sterk man, dis hoekom ek op hom verlief geraak het. Maar hy is hoflik, en raas en skreeu nie soos ander mans nie. Hy steun my loopbaan en help my, maar sy hart is meer in eiendom en ontwikkeling. Hy het sy eie onderneming in die rekenaarbedryf. Hy’s baie slim en ek dink my baby het my man se brein geërf.

Het jy al onveilig op die verhoog gevoel?
Ek is ’n paar jaar gelede met ’n windbuks in my rug geskiet terwyl ek opgetree het. Dit was vir my ’n skok toe ek die skoot voel. Toe ek omdraai, sien ek dis ’n seun van so 6 jaar. Dit was ’n ongeluk, maar dit het my geruk. Ja, ek voel soms kwesbaar, maar Mark is met elke vertoning daar. Daar is baie mense wat geskenkies en blomme by my hek los, maar hulle respekteer my privaatheid.

Hoekom het jy soveel jare stilgebly nadat jou destydse bestuurder, Louis van Wyk, jou glo geteister het?
Ek was jonk, onervare en geskok toe Louis my eenkeer agter die verhoog betas het en bang dat ek hom dalk aanleiding gegee het. Toe daar later ’n verkragtingsklag teen hom ingedien is, het ek die vrou dadelik geglo, maar wou niks sê nie omdat ek pas in my nuwe verhouding met Mark was. Maar toe al hoe meer klagtes van teistering teen hom ingedien word, het ek besluit ek kan nie langer stilbly nie. Hy mag nie toegelaat word om weer daarmee weg te kom nie.

Jy word as ’n gedugte sakevrou beskou?
Vir my is dit net pret. ’n Mens voel wanneer jy agter die skerms betrokke moet begin raak. Daar was ’n stadium vyf jaar gelede toe dit nie goed gegaan het met my loopbaan nie. Almal kry sulke af tye. Maar toe genereer ek nuwe dinge en maak ’n CD en bied Blonde Ambisie en Supersterre aan. Daar gaan weer insinkings wees, maar ek het baie by mense soos Steve Hofmeyr geleer oor hoe om jou loopbaan elke keer weer tot op ’n hoogtepunt te stuur. Saans, as Mark en Max al slaap, lê ek allerlei planne vir volgende programme en uitdink.

Ek is ’n groot TV-kyker en ek glo ek weet waarvan ander mense sal hou. Ek is in ’n mate ’n perfeksionis en ’n beheervraat. Ek glo ’n mens doen ’n ding reg of jy doen dit glad nie. Ek is trots op my Supersterre-wenners. Veral op die laaste een, Shaun Tait. Iemand het my gevra of ek nie bang is hy oorskadu my nie, maar ek wil juis hê hy moet! Ek het my tyd van glory gehad. Ons bestuur ons wenners goed. Ek het ’n 50%-aandeel in hul CD’s.

Wat’s jou planne ná Supersterre?
Ek is besig met die vooraf-produksie van Sokkiesterre, wat eers oor ’n jaar of 18 maande gereed sal wees. Ons gaan landwyd oudisies doen. Die danse sal lekker langarm-dansmusiek soos sokkiedanse, lyndanse en square dancing wees. Ons werk ook nog aan die voorafproduksie van Shake My Shack, waarin ons gaan probeer om in elke episode ’n huis vir ’n behoeftige gesin te bou, en ek beoog ’n reeks wat gegrond is op die Amerikaanse Bachelor-program, Boertjie soek vroutjie, waarin ons vir ’n boerseun gaan vrou soek.

Sien jy op 40 kans vir nog ’n kind?
Die hele land wag blykbaar daarvoor! Ons gaan die dag nadat Supersterre op 28 November eindig oorsee en sal dan finaal oor nog ’n kind besluit. Dis dalk my laaste kans. Ek vermoed ons gaan positief besluit, want ek is klaar weer broeis. Ek bederf Max (3) baie. Ek weet ek moet ophou daarmee, maar ek kan dit nie help nie.

Jy het ’n klein hartjie?
Mark spot as ek in die straat af loop, sal ek bankrot wees voor ek aan die einde kom, omdat ek vir almal gee. Ek het baie skuldgevoelens. Soms wonder ek hoekom het ek al die weelde om my. Ek is nie meer spesiaal as ander mense nie. Maar ek bly dankbaar, want weelde kan net so gou vergaan …

*Elke deelnemer aan Strictly Come Dancing is met dieselfde professionaliteit behandel, sê die programbestuurder van SABC2, Ed Worster. “Die beoordelaars het tegniese dansvaardighede beoordeel en die SMS-deel van die wedstryd is deur ouditeurs gekontroleer.”