FOTO Aubrey Jonsson

FOTO Aubrey Jonsson

Ons praat met

Amalia Uys praat oor haar suster se dood

Dit gebeur min dat jou eerste indruk van iemand heeltemal verkeerd is. Tydens ’n ontmoeting met Amalia Uys so vyf jaar gelede het sy bot voorgekom – intens privaat, en oënskynlik ontsteld oor die vrae wat na haar kant toe kom. Hoekom, het jy gewonder, sal iemand wat die kollig kies dit dan ook verafsku?

Maar nóú het sy besluit om oop te maak – oor haar persoonlike lewe én hoekom sy dit nooit voorheen wou doen nie.

Op die stoep van haar woonstel in Lonehill, Johannesburg, teug die rooikop aan ’n glas lemoensap terwyl sy nadenkend oor die blare van een van die potplante op die tafel vryf. Haar woonstel is netjies (net Domestos en ander skoonmaakmiddels op die inkopielysie teen haar kombuismuur) en in rustige, kalm skakerings versier. ’n Ligte frons is nou tussen haar oë sigbaar, en haar kenmerkende rooi lippe ’n dun lyn soos sy na die regte woorde soek.

“Ek het ’n broertjie dood aan mense wat hul persoonlike lewe te veel blootlê. Ek dink jy moet jouself afvra hoekom jy ’n storie wil deel: Is dit om aandag te kry? In die openbare oog te bly? Of wil jy mense inspireer? Daar’s ’n fyn lyn.”

En sy kan nou “ja” antwoord op die laaste vraag. Haar suster, Hermien, is in September verlede jaar, op 36, oorlede ná ’n lang stryd met skisofrenie. En Amalia hoop haar storie kan iemand help wat dieselfde deurmaak.

“Ek het nog nooit oor my sus gepraat nie, want haar lewe was reeds ingewikkeld en seer genoeg. Dit sou vir my verkeerd voel om te praat oor hoe haar probleme my raak.” Dít verklaar dan Amalia se kort draad as persoonlike vrae ter sprake was: sy wou haar suster en gesin beskerm. “Nou is dinge anders, want die seer is daar of ek dit wil erken of nie. Ek het ’n pad gestap met haar, haar siekte en my eie emosies daaroor. Ek voel ek kan help en inlig.”

Onkunde is een van die grootste uitdagings by skisofrenie. “Mense steek die draak daarmee, of is bang daarvoor, en dis omdat hulle oningelig is. Soms het hulle nog nooit daarvan gehoor nie. Dis ook nie iets waarvoor daar maklik geld geskenk word nie, maar enige hulp is so nodig, spesifiek vir mense in tehuise.”

Hermien het in Huis Yana, ’n Pretoriase tehuis vir skisofrene wat hulself kan versorg, gebly. “Sy’t gekies om daar te wees omdat sy dan om mense kan wees wat verstaan waardeur sy gaan. Skisofrenie kan nie genees word nie en die lewensverwagting is kort omdat die medikasie so straf is. Sy is vermoedelik aan orgaanversaking of ’n hartaanval dood.”

Die tweede insig wat sy wil deel, is dat jy moet lief wees vir die mense in jou lewe, en vrede maak waar dit dalk nodig is. “As jong kind het ek Hermien net nie verstaan nie. Sy was ses jaar ouer as ek, hierdie vreemde, rebelse mens met wie ek nie kon identifiseer nie. Skielik moes ek toe as 13-jarige empatie hê met haar diagnose, maar daar was nie ’n verhouding om mee te begin nie.

“Op universiteit het ek besef ek het ’n verantwoordelikheid om met haar en haar siekte te begin vrede maak, want sy het dit nie gekies nie. Haar lewe is basies van haar gesteel,” sê sy, en haar stem breek.

“Toe ek in Johannesburg kom woon het, het ek meer moeite gedoen om vir haar te gaan kuier. Vanjaar [verlede jaar], die tweede laaste keer dat ek haar gesien het, het ek na haar gekyk en gedink ‘ek’s lief vir jou en ek geniet jou’. Al was dinge tussen ons moeilik, het ek steeds gevoel ek het ’n sussie.

Twee weke later is sy dood. Dat ek nie nog meer tyd daarna gehad het nie . . .” Sy skud haar kop en raak stil. “As jy met iemand na aan jou moet vrede maak, doen dit. Jy wil nie later dink jy kon meer moeite gedoen het nie, dat jy vasgevang was in werk, die alledaagse, of selfs jou eie drome nie.”

En dít het sy by haar suster geleer. “Sy was geanker in eenvoudige goed omdat sy nie ’n eenvoudige lewe gehad het nie. Sy’t baie gedigte geskryf, haar geloof was sterk, en sy’t altyd moeite gedoen om ons te bel. Sy was ’n ongelooflike mens en ’n fighter, sy het altyd hoop behou.

“Ek het nou die aand ’n oomblik gehad: Ek het altyd gedink Hermien is een van die sterkste mense wat ek ken. Ek het ’n vrek moeilike jaar agter die rug, en ek kan ook die mooi daarin sien. Ek kon sien ek aard na Mien, want ek is oukei en ek is gelukkig, ten spyte van en selfs as gevolg van die moeilike tye.”

FOTO: Aubrey Jonsson

FOTO: Aubrey Jonsson

Lees die volledige onderhoud met Amalia in die Januarie-uitgawe van SARIE. Laai dít HIER af.

Lees nou