Ons praat met

Amor Vittone oor haar nuwe CD, en Joost help skryf

Sy’t pas haar nuwe CD met agttien liedjies, Glo altyd aan môre, bekend gestel. En dis presies ook hoe Amor Vittone oor die lewe dink – al moes sy die CD in moeilike omstandighede voltooi na al die bewerings rondom haar man, Joost van der Westhuizen, en ‘n seksvideo. Sy en haar gesin hou nou vakansie by Sun City en is volgende week by Wildernis met vakansie. Marguerite van Wyk het met haar gesels oor Joost, positiwiteit en sukses van die hart.

Sê die titel van die album iets van waar jy in dié stadium van jou lewe is?
Die liedjies is al oor die afgelope twee jaar deur onder andere Amanda Luyt, Don Kelly, Marc Brandon, Niel Schoombee en Sarah Theron geskryf. Maar baie van die liedjies maak meer sin in dié stadium van my lewe. Ek dink baie vroue gaan hulle ook met dié liedjies kan identifiseer. Dit is baie gemik op vandag se lewe. En die hoopvolle boodskap is dat daar altyd ‘n môre is, ongeag wát vandag met jou gebeur.

Jy het dit opgeneem ondanks ‘n baie moeilike emosionele tydperk in jou lewe . . .
Die laaste paar maande was ‘n groot toets vir my. Dit was ‘n emosionele toets om die CD op te neem omdat ek nie altyd so goed gevoel het nie. Tog het ek my daarna op ‘n sterker plek bevind as wat ek ooit kon wees. As jy vir my verlede jaar gesê het ek gaan dit vanjaar moet opneem ten spyte van als wat gebeur het, sou ek dit afgelag het. Ek het net weer eens besef mens kan nooit te ver vooruit beplan nie. Daar is ‘n Hoër Gesag wat in ‘n mens se lewe werk. Jy moet leer om na jouself om te sien en ook na jouself te kyk. Almal het keuses. Jy moet leer hoe om ander se advies te ag. Jy moet leer kommunikeer en ‘n uitlaatklep vir jou emosies kry. As jy goed is vir jouself, kan jy goed wees vir ander. Dís eintlik die boodskap van dié CD.

Jy en Joost het ‘n liedjie op die CD saam geskryf?
”Die Wêreld Wag”. Ek het die musiek van Select Platemaatskappy gekry en oor en oor daarna geluister. Ek vind dit soms moeilik om alleen te skryf. Toe vra ek vir Joost om saam met my te skryf. Ons het besluit om dit vir ons kinders, Jordan en Kylie, te skryf. Soms as ek my kinders in die bed aan die slaap maak, begin ek sommer huil. As Joost vra hoekom, dan sê ek omdat ek dink wat nog vir hulle voorlê. Ons is só geseën. Ek wonder hoe my kinders se harte nog gebreek gaan word op skool. Jy wonder maar altyd oor hulle. Jy wil hulle net beskerm. Dié liedjie gaan oor die besluite wat hulle gaan maak en oor ons as ouers wat altyd daar gaan wees vir hulle.

Beskryf die musiek op jou nuwe CD
Volwasse, kontemporêr, positief, diep en bietjie danserig. Daar is ‘n keurspel van Kylie Minogue. Ons dogtertjie is na haar genoem. Dié CD is ernstiger as die vorige een, Voluit.

Wat is jou gunsteling-liedjie op die CD?
”Kom val hier binne my”. Dis geestelik, hoewel ons dit nie só beplan het nie. Terwyl als in ons lewe die laaste ruk aan die gang was, het ek en die liedjieskrywer Amanda Luyt baie gesels en lekker gekliek. Elke keer as ek dit sing, is daar ‘n traan of twee wat vloei. En die vroue sit met hul snesies en huil in die winkelsentrums of shows wanneer ek dit sing. Dit gaan oor die lewe wat soms net te swaar is en mense kan daarmee identifiseer. My kinders raak kalm as hulle daai liedjie hoor. ”Somewhere over the rainbow” is Joost se gunsteling-liedjie.

Hoe gaan dit met Joost se gesondheid?
Oukei. Die vakansie met die kinders is lekker. Ons het familietyd saam en dit doen ons goed. Ons sien baie uit na ons vakansie op Wildernis by die see.

Dit klink of dit baie goed gaan met jou?
Elke dag neem ‘n mens ‘n tree vorentoe. ‘n Mens moenie besluite neem as jy te emosioneel is nie. En ‘n mens moet tyd maak vir jouself en jou omring met mense wat jy vertrou. Jy kan nie vir iemand iets beteken as jy nie gesond is nie. Soms gee die kinders en Joost my bietjie alleen-tyd en dan lees ek, of ek sal net iewers gaan stap en na die voëls luister. Ek sien uit om lang ente langs die see te gaan stap en dink. Ek dink op my beste as ek in die gimnasium is en die goedvoel-hormone word vrygestel en daar kan mens van jou woede ontslae raak. Daar is maar min aande wat ek deurslaap.’n Mens gaan kyk die heeltyd of die kinders toe is onder die duvet en of hulle nie iets nodig het nie. Ek glo aan ‘n power nap gedurende die dag. My kop is baie besig. Ek is hyper en moet my brein soms net afskakel.

Hoe kry jy tyd vir jou gesin, jou man én jou sangloopbaan?
‘n Werkende ma is altyd bietjie skuldig. Ek probeer my foto-shoots en ander verpligtinge rondom my kinders se verpligtinge reël. Hulle is nommer een in my lewe. Gelukkig het ek ook ‘n baie goeie ondersteuningstelsel by die huis en my én Joost se ouers is baie hulpvaardig oor naweke as ons soms besig is. Maar ons kinders is ongelooflik belangrik in ons lewens, so ons probeer soveel as moontlik tyd saam met hulle spandeer. En dis belangrik dat ons as gesin saam eet. Ek het ‘n Italiaanse pa wat heerlik kook. Ek het lekker resepte by hom gekry en spandeer in die aand graag ‘n uur of wat met ‘n glasie wyn om die kospotte. Dis ontspanning vir die gesin. Ek is mal oor lekker souse en fondues. Ek hou eintlik daarvan om die een oomblik ‘n Idol op die verhoog te wees, dan in die kombuis te wees met die voorskoot vol meel en die volgende oomblik my kinders by die skool te gaan haal en ongelooflik trots te wees oor hoe mooi my kinders iets ingekleur het. Dis áls deel van my lewe.

Jy is ‘n baie positiewe mens. Is dit net ‘n front of is jy régtig so?
Dis hoe ek groot gemaak is. Mense sien nie die tye wat ek in my bed wil opkrul en huil nie. Maar ek het ook al op 37 geleer jy hoef nie almal altyd tevrede te stel nie. Ek sing nie meer liedjies waarvan ek nié hou net ter wille van ander nie. Ek voel gemaklik met my ouderdom. Ek het baie spirituele energie. Ek straal baie positiewe energie uit en vang baie positiewer energie op. Ek het geleer van beide ouers dat as jy dinge wil regkry, moet jy dit self laat gebeur. As ek in die motor ry, praat ek met die Engele. Soms het ek af-dae en as ek my kinders by die skool oplaai sal die onderwyseresse vra: ‘Is jy oukei?’ Maar ek kry die innerlike sterkte om ten spyte van als met God te praat en op die verhoog te klim en net aan te gaan en met die gehoor te praat en sterk te wees. Ek praat myself positief.

Wat wil jy nog bereik tot die einde van die jaar?
Ek wil hê my gesin moet gesond wees, ek wil heel wees (fisiek en emosioneel) en ek wil hê ons gesin moet die lewe geniet en nie met negatiwiteit omring wees nie. Ek wil aanhou sing en shows doen. En ek is besig om ‘n TV-show se konsep te ontwikkel, ‘n spirituele ding, waar ek ‘n verskil kan maak. Ek wil nie net in mooi rokkies gesels oor lipstiek en hare nie. Ek wil ‘n goeie vrou wees vir my man en ‘n goeie ma wees vir my kinders. My pa reken die definisie van sukses gaan oor hartsdinge. Dís waar ek vandaan kom. Dis relatief maklik om te sê jy wil suksesvol in jou werk wees. Maar dis baie moeiliker om sake van die hart aan te spreek. Dis ‘n báie groot uitdaging om te sê jy wil ‘n suksesvolle vrou en ma wees.

  • Stephanie

    Sjoe, wat ‘n insperende vrou is hierdie Amor! Mag die Here julle gesin sëen
    en alle voorspoed met die nuwe CD. Ons gaan beslis koop en luister.

  • Maggie

    Ag nee Sarie, ons is nou al hartlik siek vir soetsappigheid en Joost en Amor. Daar is soveel meer inspirerende en opregte celebs waaroor julle kan skryf, of beter nog, gewone mense met gewone probleme. Spaar ons van die publisiteitshonger wannabe’s!

  • Glodina

    Jip ek stem, vir Amor het ek al my respek verloor omdat sy verkies om saam met haar man te lieg lieg lieg. Ek het nie ‘n probleem as sy by haar man wil bly en hom vergewe nie, hulle saak, maar om so leuen te leef maak my siek.

  • Rita Grobler

    Almal wat so klippe gooi, is julle verhoudings (as julle ooit so iets het)so wonderlik?. As jy een vinger wys, wys drie terug na na jou. Maak julle hangkaste skoon voor julle ‘n eier te le het oor iemand anders. Ek keur glad nie goed wat Joost gedoen het nie, maar gee hulle ‘n regverdige kans om dinge reg te maak. Dit is vir Joost en Amor om dinge tussen hulle skoon te maak. Ek is seker wat ook al die waarheid is dat hulle albei opregte berou het en ‘n harde les daaruit geleer het.

    Net vir die rekord, ek was nog n groot Joost bewonderaar nie maar dit gee my nog nie die reg om te oordeel nie. En vir al die kamma vernederende/verontregte vroue wat nou ewe skielik na vore kom, julle het goed geweet die mans is getroud so, gedra julle self en hou op om so goedkoop te wees. Sit die manne op hulle plek en geen huwelike sal vernietig word nie.

  • Judy

    Amor volg jou hart !!!!
    Niemand op aarde het die reg om te oordeel nie. GOD sal op sy tyd oordeel.
    Wie kan vandag se ek weet dit was Joost,magtig was hulle daar. Nee hulle was nie. Wat gaan hierdie mense doen wat julle so sleg se as so iets hulle oorkom. Leef en laat leef.GOD gee jou die insig om keuses te maak en jy het joune gemaak. Jou keuses het niks met ander uit te waai nie.Geen sonde is erger as n ander een nie. Maggie en Glodina het julle nog NOOIT sonde gepleeg nie ? ek twyfel……..
    Dink voordat julle goed se waaroor julle later rekenskap moet gee.

  • Glodina

    Rita: Ek oordeel nie vir Amor as ek sê ek het my respek vir haar verloor nie. Ek stem saam, dit is ‘n ding tussen hulle en as sy besluit om by hom te bly en om hom te vergewe, wie is ons om haar daarvoor te veroordeel. Maar hulle is publieke figure wat op christelike tydskrifte se voorblaaie verskyn en almal probeer wysmaak hulle is hierdie gelukkige paartjie, en mense kyk op na hulle. Hulle stel ‘n slegte voorbeeld vir die res van ons. Ja ons almal maak foute, hulle is ook net mense, maar erken dit ten minste en gaan aan met jou lewe, hou op om ‘n rat voor die publiek se oë te draai asof ons blind en onnosel is. As Joost van die begin erken het hy het ‘n fout gemaak sou mense hulle vergewe het, en hierdie ding sou lankal vergete gewees het. Maar nee, hulle hou nog steeds vol met die leuen. Vir sulke mense het ek geen respek nie.

  • Sharon

    Ek lees na al die vorige kommentaar, en dit verbaas my hoeveel nydige, harde mense daar in ons samelewing is. Daar is een vraag wat een en elkeen van ons, onsself moet afvra :"wat sou ek gedoen of gesê het, as ek in of Joost, of Amor se situasie was?" Dis so maklik om klippe te gooi en te vergeet dat ons almal in glaskastele woon. Aan die einde van die dag, is Joost en Amor doodgewone mense, met gevoelens en harte. Wat seergemaak, verneder, verkleineer word, maar ‘n front moet voorhou probeer om hul seer weg te steek. kom laat ons almal liewer hande vat, en die lewe vir elkeen probeer beter maak.

  • Chantal Hanneman

    Stephanie, Rita, Judy en Sharon, ek stem saam. Ek moet eerlik wees as ‘n leun my huwelik bymekaar sou hou sou ek ook oorweeg het om een te vertel. Nie een van ons kan ‘n klip gooi nie, was ons al in so ‘n situasie, almal van ons maak foute, christene of nie, solank ons dit voor die Here belei, het ons nie werklik vergifnis van enige mens nodig nie. Joost soos ek al voorheen gese het almal maak foute solank ons daaruit leer, en Amor ek haal my hoed vir jou af maak nie saak wat nie, jy is bereid om te werk en te red aan jou huwelik. My ma en pa is geskei, ek is self geskei, en as ek dink wat dit aan my as kind gedoen het, werk ek elke dag harder om dit vir my kinders makliker te maak. Jammer ons hou aan om kommertaar te lewer, julle het tyd nodig om dinge vir julle self uit te sort en ons gin dit nie vir julle nie, maar weet net ons kyk op na julle en weet dat dinge vir julle ook sal regkom.

  • Corrie Daniell

    Ongeag wie jy is, is die feit dat jy ‘n goeie ma en vrou is wanneer jy altyd daar is vir jou kinders en altyd jou kinders bo jouself stel.

    Amor is beslis ‘n inspirerende vrou en ons gaan definitief haar CD koop en daarna luister.

    Ons moet altyd bewus wees dat net Hy ons werklike opregte vriend en koning is. Aan Hom sal ons een of ander tyd moet rekenskap gee van ons eie dade.

  • BtGZHO ddffvrnjbufl, [url=http://naqgobovncbe.com/]naqgobovncbe[/url], [link=http://zvqyylyqetgi.com/]zvqyylyqetgi[/link], http://dhhjtdteiltq.com/