Ons praat met

Andre Jacobs werk in Parys, Frankryk, aan fliek oor Saartjie Baartman

Hendrick het Saartjie oortuig om Europa toe te gaan om munt te slaan uit haar uitsonderlike liggaamsbou.

“Ek het hoë verwagtinge van die fliek, wat moontlik aanstaande jaar hierdie tyd uitgereik gaan word. In Frankryk praat die mense al daaroor. Ek hoop dit gaan vir my deure in die buiteland oopmaak. Die regisseur, Abdellatif Kechiche, het al verskeie toekennings, waaronder Césars (Franse filmtoekennings), gewen. Dis ook die produksiemaatskappy se grootste fliek nóg.

“Die rolverdelers (casting agents) het in Europa na twee akteurs gesoek om die Cezar-broers te speel, maar niemand gekry nie. Hulle het toe in SA begin rondkyk, op my agentskap se webtuiste afgekom, op die internet na van my werk gekyk, my oorgevlieg Europa toe en my gekies vir die rol. As jy in jouself glo, kom die regte dinge na jou kant toe.

“Om aan die fliek te werk was intens, met lang ure. Die regisseur glo ‘n akteur lewer sy beste werk as hy baie moeg is, want dan dink jy nie meer wat jy doen nie, jy doen net!

“Ek moes ook vir lang tye konsentreer, omdat die tonele baie lank was. Ek het met ‘n moeilike toneel tussen my en Saartjie begin. Ek het nie tyd gehad om te dink hoe ek dit gaan benader nie, maar ek het dit met soveel energie moontlik gedoen. Ons het twee dae daaraan geskiet. Ek het myself letterlik in die toneel ingegooi. Almal het stil geraak op die stel.

“Toe’t ek geweet ek het dit goed gedoen. Die regisseur praat min Engels en ‘n vertaler het my gehelp om hom te verstaan. My Frans het baie verbeter en ek wil nou klasse by die Alliance Française neem. Ek praat Engels en Afrikaans in die fliek en hier en daar laat val ek ‘n Xhosa- en Franse frase.”