Ons praat met

André Schwartz se hoop en drome

Ek hoop . . .

  • my swing-en-big-band-CD, 12 plus 1, bring ’n glimlag na mense se gesigte. Dis nie musiek waar jy jou vingers op doef-doef-klanke kan tik nie. Jy moet dit luister en ervaar.
  • my dekor-onderneming hou aan groei. Ek geniet die kreatiewe sy van ruimtes mooimaak en hou daarvan om ’n teatergevoel in projekte in te bring.
  • almal in SA aanvaar verantwoordelikheid. Elkeen moet toerekenbaar wees vir ons land se probleme – van die ou wat ’n verkeerskonstabel omkoop tot die man wat sy hoë posisie in ’n maatskappy misbruik.

Ek is bang . . .

  • vir min dinge. Ek het nog nooit groot vrese gehad nie. Snaaks, elke keer as dit gelyk het asof ek van die wipwa gaan afval, was daar ’n hand wat my gevang het. Hoekom moet jy jou maag op ’n knop trek oor dinge waaroor jy nie beheer het nie? Jy kan nie beheer wat met jou gebeur nie, maar jy kan wel jou houding oor hoe jy dit hanteer, beheer.
  • mense gaan nie hou van my vertolking van die liedjies op 12 plus 1 nie. Ek glo jy sing nie ’n ander kunstenaar se liedjies voor jy nie jou eie stempel daarop kan afdruk nie – anders kan mense mos net sowel na Frank Sinatra self luister.
  • ek voldoen nie aan mense se verwagtinge vir The Phantom of the Opera later vanjaar nie. Toe ek die “phantom” ’n paar jaar terug gespeel het, was ek die buiteperd. Niemand het iets verwag nie. [Hy het toe die Fleur du Cap- en die Naledi-teatertoekenning vir sy rol gekry.] Ek het ’n idee ek gaan hierdie keer baie meer na die rol toe bring. My gut sê ek verstaan hierdie ou nou beter.

Wat ek nou weet

  • Om ’n swing-en-big-band-CD te maak is elke kunstenaar se droom. Jy kan nie so iets vervaardig as jy ’n “baba” is nie. As jy liedjies soos “The Way You Look Tonight” of “New York, New York” sing, moes jy al ’n entjie gestap het om die lirieke werklik te verstaan. Omdat my sangloopbaan al soveel draaie geloop het, was dit ’n natuurlike proses om dié CD te maak.
  • Soms moet jy sê “dit is nou genoeg”. Ek is ’n perfeksionis in alles wat ek doen. Ek wil heeltyd aan dinge verander en dit beter maak, maar daar kom tye dat ek dit net moet laat gaan.
  • Ek haat kunswerke wat nageboots is. Moenie ’n plakkaat teen jou muur opsit nie, spaar eerder vir ’n ordentlike skildery.
  • Jou drome verander soos jy ouer word. Nadat my eerste CD bekend gestel is, het ek gedroom van die dag dat iemand my handtekening gaan vra. Vandag gaan my drome nie meer net oor myself nie – dit gaan oor liefde en vrede vir die wêreld.
  • As ek nie weet wat die pad vorentoe is nie, is ek nie bang om raad te vra nie. Mense word nie net sommer jou vriende nie. Hulle is deel van dit wat vir ons gegee is om ons te help op ons lewensreis. Ek het ’n wonderlike netwerk van vriende by wie ek kan antwoorde soek.
  • My ma het my geleer moenie vrees vir die dag van môre nie, moenie jou kwel oor gister nie. Al wat jy het, is vandag.
  • Ek is spyt ek kon nie ’n volwasse gesprek met my pa hê nie. Hy’s oorlede toe ek 13 was. Ek sou hom graag beter wou leer ken.
  • Ek kasty myself nie oor foute nie. Maar as jy gefouteer het, moet jy kan jammer sê, daaruit leer en dit doodeenvoudig nieweer doen nie.
  • Ek is dankbaar dat ek nog altyd my probleme kon oplos met dit wat ek het.
  • Begin jou dag op ’n gesonde manier. Ek drink elke oggend ’n glas vars sap wat my wonderlike huishulp maak met enigiets wat sy in die yskas kry: Sy gooi sommer tamatie, seldery en piesangs bymekaar. Dis soms die slegsmakendste ding onder die son, maar teen die tyd dat my dag afgeskop het, het ek al vier groentes en vrugte in!
  • Ek het so ’n effense weersin in roem. Hierdie sangers met hul gesig op hul kar – ek verstaan dit nie. Ek respekteer bekendes wat hul private lewe privaat kan hou.
  • Honde byt mense wat bang is. Ek glo as jy in vrees leef, is die kans groter dat dinge met jou gaan skeefloop. Die dag wanneer jy jou vrese in bedwang het, kan jy gelukkig wees.
  • Daar is niks in die lewe wat my die gevoel gee wat sang my gee nie. Soms gebeur daar ’n ding met jou wanneer jy ’n noot raakvat – dis soos ’n ligstraal wat jou omvou en daar is nie ’n bom in die wêreld wat dit van jou kan wegneem nie.
  • Eurika

    Dankie vir hierdie wow artikel oor Andre. Sy hoop en drome. Mal oor Andre, hy het dit net 🙂 .. Bid hom net die beste toe.. want hy verdien dit.

  • Lorett

    Hy bly maar die beste.

  • jana

    dankie sarie vir die prag onerhoud met andre. eks nog my lewe lank gek na sy musiek en mal oor hom.

    kt tans elke cd van hom en sien uir daarna om d nuutste ene ook te kry.

    andre sien uit na d tweede phantom rol en toekomstige cds

    loveualways

    xxxxxxxxxx

  • Hanli

    Ek stem dat dit n Wow artikel is! Andre word net beter hoe ouer hy word!

  • Nico

    Ja nee Andre, wat is dit met die sangers wat met hul bakkies op ou panelvans rondry? Dit laat my altyd dink aan ouens met namebadges, so al asof hulle sal vergeer wie hulle is!

  • Sonja

    Jy is sowaar geseen in alles wat jy doen jou toekoms is net so skoon en rein soos jou hede. Sterkte met alles wat jy nog in die toekoms wil aanpak, want iemand so wonderlik soos jy gaan nie stilsit nie. Jy is sowaar `n engel van God.

  • Nita

    Andre was en is nog steeds n wonderlike kunstenaar met hope talent, bly dat hy nog ons verreik met sy mooi stem. Stem met baie goed saam oor wat hy geleer het, en veral om te spaar vir daai mooi kunswerk teen die muur. Ek het net so n gly daaraan aan prints en nagebootste kuns. As ek iemand sien dit koop, wil ek net naderstap en se moenie daai gemors koop nie, 100 persent kom juis uit China. Ondersteun eerder die kunstenaars, nie almal sin is so duur. Wens Andre net die beste toe, hy is een van die min kunstenaars wat kwaliteit musiek maak en sing.