sr1207_anrichrz
Ons praat met

Andrich Herbst maak hart oop oor mislukte huwelike, pa-wees

Ek hoop…
my lewe word net meer en meer sinvol. Ek wil graag besig wees met dinge wat vir my en ander baie betekenis het.

dat ek ’n goeie pa kan wees vir my seuns* en dat ek eendag nader aan hulle kan bly. Hulle is nou onderskeidelik twee jaar en vyf maande oud en woon by hul ma in Kaapstad, terwyl ek in Johannesburg woon en werk. Ek gaan kuier minstens elke tweede naweek by hulle, maar dit takel my emosioneel af
om so baie van hulle weg te wees. Dis vir my die grootste teleurstelling van my lewe dat ek nie in dieselfde huis as my kinders leef nie. Dis ’n stuk van my wat ver weg is van my en daarom probeer ek eintlik nie te veel daaraan dink nie. Ek en hul ma is gelukkig op baie goeie voet en doen sover dit
moontlik is alles in die seuns se belang.

dat my kinders liefdevolle mense vol insig sal word (wat baie geld maak!).

my loopbaan sal so lank as moontlik aanhou.

ek kry die kans om weer in ’n lekker musiekblyspel te speel. In die verlede het ek in die blyspele Houtkruis, Mamma Mia! en Tree Aan! gespeel en dit baie geniet. Ek het wonderlike vriende gemaak en ongelooflike aanmoediging en aanvaarding in die groep gekry. Ek dink ek is ’n musiekblyspel-mens. As
ek kon, sou ek dit graag vir ’n lewe wou doen. Dis heerlik om in daardie vol teater met al sy energie te wees. Dis vir my ’n baie positiewe deel van die toneelbedryf.

om meer “myself” te word. En om ’n lewe van eerlikheid en integriteit te lewe.

om ’n rondgaande motiveringspreker of prediker te word. Dis tans my grootste droom. Dis vir my baie vervullend om mense van ’n verhoog af te kan help, om ’n boodskap van hoop oor te dra. Ek glo my lewe beweeg in daardie rigting.


Ek is bang…

vir min dinge.
Ek hoop egter wel ek is bang genoeg vir die donker in my en in die lewe. Daar is op ’n daaglikse basis versoekings waarvoor jy kan swig.

om verkeerde besluite te neem en soms maak dit my té versigtig. In die verlede het ek al verkeerde besluite geneem, maar ek tob nie te veel daaroor nie, want ek het daaruit geleer.

dat ek met my vryskutloopbaan nie genoeg geld sal verdien om al my geldelike verpligtinge na te kom nie. Aan die begin van my vryskutloopbaan was ek veral bang daarvoor, maar ná ’n paar maande het ek geleer om te vertrou dat God sal voorsien.

Wat ek geleer het

Jy moet getrou wees aan jouself, en weet jy is goed genoeg. Jy moet tot ruste kom om doeltreffend te kan lewe. Ek is nog nie heeltemal daar waar ek volkome rus en vrede het nie, maar ek is op pad daarheen.

My roem as kinderster [hy was Wimpie in die gewilde sitkom Orkney snork nie] het my geleer dat roem vlietend is en dat sukses iets is wat te doen het met getrouheid aan jou ware self.

My TV-loopbaan het my geleer om myself te pace – om my energie wys te gebruik sodat daar genoeg is vir vóór die kameras én vir al die ander dinge wat jou aandag op stel vereis.

Ek is van my eerste vrou geskei en ek en my huidige vrou is vervreem. Albei hierdie ervarings was natuurlik baie swaar, maar dit het my geleer om eerlik met myself te wees. Ek besef nou veral hoe belangrik eerlikheid en opregtheid in enige verhouding is.

Pa-wees het my perspektief op die lewe soveel ryker gemaak.

Uit verhoudings het ek geleer dat ’n goeie pel ’n goeie begin is vir ’n goeie verhouding.

My ma [die aktrise Kristie Herbst, wat onder meer te sien was as Belinda in die TV-reeks Nommer asseblief en Ouma in die TV-reeks Die jare daarna] het my geleer om die bedryf lief te hê en ook dat die lewe ’n opwindende plek is.

Moenie ’n besluit neem as jy op ’n slegte plek is nie.

Die grootste uitdaging in my lewe is om my innerlike oortuigings uit te leef.

Familie en goeie vriende is so belangrik. In tye van nood is ek baie gelukkig om op hul skouers te kan leun.

*Sy seuns se name is op Anrich se versoek weerhou.

  • Mev Smith

    Anrich.Ek dink jy is n pragtige mens. Sterkte vir die toekoms.

  • Michelle

    Jy was nog altyd n baie goeie rol vertalker ek dink ek het jou ook in n program voete van goud gesien ja dit is donkie jare terug toe het ek geweet jy gaan verkom in die lewe. Wees net jou self enjy kan baie ver in die lewe kom, gryp alle geleenthede met altwee hande aan

  • Martie

    Gister se foute is vandag se ‘stepping stones’ wat jy gebruik om oor die sterk strome van die lewe te kom.

    Streef daanra om vandag ‘n beter mens as gister te wees – Geniet wat jy doen en alles sal OK wees!

  • Amanda

    Sterkte Anrich. Ek het jou ma al persoonlik ontmoet by ‘n troue en langs haar gesit en is die ewebeeld van jou, ‘n sterk vrou, mag jy dit ook vorentoe in jou lewe bewys. Jy is vir ons nog steeds die ou wat ons leer ken het, en onthou foute word gemaak om reggestel te kan word. Sterkte en seen vir jou toekoms!

  • Alida

    Om seer te kry in die lewe is nie lekker nie en ‘n mens beplan dit tog ook nie. Veral as daar kinders betrokke is. Maar ‘n mens leer om sterker te word daaruit. Anrich baie sterkte vir die toekoms en ek glo dat alles vir jou goed sal uitwerk en dan jy ook weer geluk sal vind. Hoop ons sien nog baie van jou.