apr08voorbladartikel1a
Ons praat met

Andriëtte se eie idols – van haar ma tot Nicholis Louw . . .

Eers die kollig van die Idols-verhoog, toe die teleurstelling van ’n tweede plek, al het baie kykers geglo sý moes eintlik gewen het. Maar ’n tweede plek kan óók ’n treffer oplewer. Hou maar dié naaswenner van Idols 2007, Andriëtte Norman (21), dop en jou ore oop vir haar eerste CD. Sy’s vanjaar beslis een van die trekpleisters by die KKNK.

Sy het haar eie stem gevind – en ’n sterloopbaan wag na alle waarskynlikheid vir haar in Johannesburg waarheen dié Kapenaar onlangs getrek het. En sy sien kans vir die glans. Sy skud haar blonde kop en sê haar voete is ferm op Moeder Aarde. Sy weet wie sy is.“As my ma bekommerd oor my wil raak, dan stel ek haar gou gerus. Ek gaan net my bes doen en sien uit na alles wat voorlê.”

Met haar vertolking van die Judy Garland-treffer “Somewhere over the Rainbow” en liedjies soos “Black Velvet” het sy die Idols-beoordelaars oortuig. Selfs die uiters kritiese Randall Abrahams was uitgeboul. Sy’s ’n bietjie Eva Cassidy, ’n tikkie Allanah Miles, selfs ’n skeut Barbra Streisand, maar op die ou einde 100% Andriëtte.

In elke mens se lewe is daar inspireerders op jou pad wat jou máák wat jy is. Wat die saadjies plant wat jou later laat deurdruk en aanhou, jou help om jou volle potensiaal te ontwikkel of jou ’n glimpsie gee van wat kán wees.

Só het Andriëtte ook haar eie idols. Op die kantlyn is internasionale sterre wat haar tot groot hoogtes aangespoor het: mense soos Madonna (“Kyk haar lyf!”), Barbra Streisand (“Haar stem bly ewig inspireer!”) en Dana Winner (“Sy is só vroulik.”).

Maar nader aan haar hart is ’n paar wat uitstaan, háár idols. Haar ma, Anita, haar musiekonderwyser op skool, Anton Stadler, die Idols-beoordelaar Randall Abrahams en die sangers Nicholis Louw en Nianell. Vandag sê sy vir húlle dankie.

ANDRIËTTE OOR NICHOLIS LOUW

“Hy is gefokus, gedissiplineerd, vermaaklik en hy hanteer sy bewonderaars met respek. Sy sexy bewegings en daardie rasper-stem dóén dinge vir my. Nicholis is so nice en verskriklik aantreklik. Eintlik heel mal, snaaks en talkative. Sy moves voor die kamera het my skoon rooi in die gesig gehad, maar ek was gemaklik by hom. Ek het soos ’n skoolmeisie gegiggel. Hy’t my ook gevra of ek nie ’n ou het wat gaan jaloers wees as hy sien hoe ons moet pose nie . . .”

Nicholis oor Andriëtte: “Ek het my fotosessie met haar geniet omdat sy lighartig en energiek was. Sy het ’n fantastiese persoonlikheid en sy het my heeldag aan die lag gehad. En haar glimlag . . . haar hele gesig lag saam. Ek dink met ’n stem en persoonlikheid soos hare het sy ’n blink toekoms. Suid-Afrikaners sal nie anders kan as om vir haar lief te raak nie.  Sy’s ’n ster!”

 

 

 

 

MY MA, ANITA

“Sy het haar hele lewe vir ons opgeoffer en ons altyd bederf. Saterdagaande wanneer ons partytjie gehou het, het sy Afrikaanse liedjies op die klavier gespeel en dan het ons saamgesing. Liedjies van Laurika Rauch, Theuns Jordaan en Steve Hofmeyr. Sy is ook baie lief vir dans. By haar het ek geleer om musiek te geniét. Sy het my ook nooit gedruk om te presteer nie. Nou is haar raad aan my om nugter te bly oor die musiek-en-geldmakery van die Idols-roem – dat dit nie na my kop toe gaan nie. Maar sy het niks om te vrees nie. Ek sal my nie met ‘verkeerde dinge’ ophou nie.”

Anita sê: “Dis wonderlik as jou dogter tevrede is met hoe jy haar grootgemaak het. Sy het nooit baie materiële dinge gehad nie, maar ek en hul pa, André, het elke sent probeer afknyp om hul talente te ontwikkel. As Andriëtte ongelukkig was dat sy dalk nie klere met etikette gedra het nie, het sy besef sy het die geleentheid om sang-, klavier- of gholflesse te neem. Ek wou nie roem vir haar hê nie. Dit het net so gebeur. Ek glo sy het so goed gevaar in Idols vanweë haar nederigheid, deursettingsvermoë en natuurlike talent. Nou hoop ek sy hou haar voete altyd op die grond en kyk op na die Here. Dán kan jy nie foute maak nie. Dís die waardes wat ek my kinders probeer inprent het. Iemand soos Jo-Ann Strauss kry dit goed reg. Sy is ’n celeb wat baie ordentlik gebly het ondanks haar roem.”

 

 

RANDALL

“Sy persoonlikheid was konstant dieselfde. Hy het altyd konstruktiewe kommentaar gelewer en dinge gesê wat sin maak. Randall is nie net daarop gefokus om sogenaamde ‘goeie TV’ te verskaf nie. Ek het sy kritiek ter harte geneem. Hy is ernstig, maar ook gebalanseerd, want hy het ’n baie witty kant. As hy sosiaal is, is hy soos ’n sewentienjarige seuntjie wat uithaak – heeltemal speels en prettig. ’n Mens kan nie glo hy is al ouer as dertig nie. Randall is altyd goed aangetrek en stylvol. Dit het my ook opgeval dat hy nie voor ons Idols-optredes met ons kom gesels het en dan ná die tyd ernstige kritiek gelewer het nie. Dit kan soms ’n tweegesig-indruk skep.”

Randall sê: “Dit is lekker om te dink jy maak ’n verskil in nuwe sterre se lewens. Dis seker vreeslik geyk, maar dit is deel van die opwinding van my werk. Dit maak dit die moeite werd. En ek hoop ek het dit ook al in die verlede gedoen met ander opkomende sterre. Andriëtte was ’n ongelooflike deelnemer en het die wedstryd baie goed verstaan. Sy maak goeie keuses en het besef sy moet Johannesburg toe trek vir haar loopbaan. En sy is oopkop daaroor. Idols open vir jou deure, maar jy moet ook hard werk om dit vir jou te láát werk. Dis wonderlik om te sien dat sy dít verstaan.”

 

 

 

 

MY MUSIEK-ONNIE

“Mnr. Stadler is ’n perfeksionis wat enigiets met ons kon regkry. Hy was baie streng, maar dit het gewerk en hy het ’n baie groot invloed op my gehad. Ná revue-optredes het ons almal heerlik gekuier, maar hy het nie nonsens gevat as ons geoefen het nie. Tog het hy ons selfvertroue gegee. Ek was só skaam toe ek in gr. 8 in die skoolsaal vir my eerste oudisie vir ’n revue voor hom moes sing. Daar daag ek toe op in ’n tennisbroekie, met geswete haartjies en ’n rooi gesig. Ek het soos ’n seuntjie gelyk. Hy sê toe ek lyk soos Het van Verlangekraal! Hy het my geleer hoe om professioneel voor ’n gehoor te sing en van myself en die eie ego te vergeet. Die show moes net aangaan. Jaar ná jaar het ek in sy revues gesing en dit gate uit geniet.”

Anton sê: “As ek sou kon roem op ‘suksesverhale’ in my onderwysloopbaan, is Andriëtte een. Dis ’n voorreg om te sien hoe dié skaam kind ontwikkel het. Ek kon nie glo sy kon soos ’n engel sing toe sy haar mond oopmaak nie, want ek het min moed gehad met die eerste oogopslag. Sy was só teruggetrokke . . . Maar haar talent het jaarliks bly ontwikkel. Toe ek haar die eerste keer op TV in Idols sien, kon ek my oë nie glo nie. Daardie trots van ’n onderwyser! Ek was in trane. Daar is baie kinders wat kom en gaan, maar min met wie jy só ’n spesiale band het. Sy het eenvoudig ontpop. Ek dink sy moes gewen het. Haar intonasie was altyd ongelooflik, sy vertolk elke liedjie wat sy sing met emosie. Sy het ’n mooi houding en is altyd nét haarself. Dit kom uit die hart. Dís hoekom mense van haar hou.”

NIANELL

“Nianell is ’n inspirasie, want sy is só veelsydig en haar stem het ’n ongelooflike omvang. As sy op die verhoog is, het sy nie allerlei tierlantyntjies nodig nie. Sy het dadelik die gehoor in die palm van haar hand, want haar stem doen die werk. Dit bekoor ’n mens. Sy is boonop baie vroulik en grasieus. Jy lees nooit enige skindernuus of onsmaaklikhede van haar in die pers nie. Haar beeld is uitstekend. Sy is een van SA se top-sangeresse.”

Nianell sê: “Andriëtte was mý wenner. As sy só op die verhoog klink, kan ek nie eens dink hoe goed sy in die ateljee sal klink nie. Dis asof jy na ’n CD luister. Sy is die volle Idols-pakket. Sy het ’n baie unieke stemtoon – die X-faktor. Dis warm en sielvol. Dit gaan nou van háár afhang wat sy met haar loopbaan doen. As jy goed vaar in Idols, is dit maar die begin, nie die einde van jou loopbaan nie. Nóú lê die harde werk voor. Jy is eers regtig suksesvol ná jou eerste CD goed verkoop het. Werk nou baie hard en moenie aanvaar mense gaan so baie vir jou loopbaan doen soos hulle tot nou toe gedoen het om jou te help in die Idols-wedstryd nie. Dis nou die tyd om al hoe meer jou eie klank te kry en te ontwikkel.”