Ons praat met

Angelique Gerber se tienerstryd teen anoreksie

Sy is die uitbundige, vrolike Clara wat diep in 7de Laan-kykers se hart gekruip het. Op straat keer aanhangers haar voor met ’n vriendelike “Clara-ja”, haar kenmerkende sê-ding in Die Laan. Kinders skryf vir haar briewe om te spog hulle kan al nes sy praat, en vir volwassenes helder sy tonele op met haar onkunde oor enigiets Afrikaans.

Die “-ja” is deur 7de Laan se skrywers ingesit, maar Angelique Gerber het gehelp om Clara se aksent te ontwikkel nadat sy navorsing oor die dialek van Roemenië vir haar karakter-uitbeelding gedoen het. Sommer met haar heel eerste oudisie het sy die rol van Clara losgeslaan met haar toneelspel. Sy was nog ’n dramastudent, aan die begin van haar tweede jaar aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) in Pretoria. Sy sou net ses weke lank op stel wees, maar het kykers toe só aangeraak dat die vervaardigers haar eenvoudig móés terugbring.

Sy was 25, gewapen met ’n brandende begeerte om toneel te speel, en het toe aan die einde van haar tweede dramajaar besluit om nie haar derde jaar te voltooi nie en eerder heeltyds aktrise te wees.

Vóór haar dramastudie het sy ’n B.Soc.Sc.-graad in sielkunde van Tukkies gekry omdat haar ma, Lynette, gedink het dis ’n veiliger keuse. Maar elke keer wanneer Angelique na ’n toneelstuk of balletuitvoering gaan kyk het, het haar trane geloop, vertel sy.

“My hart het daarna gesmag om op daardie verhoog te wees. Vandat ek kan onthou wanneer iemand my gevra het wat ek wil word as ek groot is, het ek gesê ’n ster!”
Sy gooi haar wysvinger parmantig in die lug. Haar krulhare vlam rooi om haar fyn gesig.

“Clara is ’n over the top-weergawe van my. Ek is ook loud en praat met my hande, intens en passievol. Clara is in my en ek is in haar. Ek leef nou my droom.”

Angelique Gerber

Angelique se storie lees soos ’n Aspoestertjie-verhaal. Sy’t ’n moeilike pad gestap om uiteindelik op ’n plek te kom waar haar voet sonder enige moeite in die glasskoen geglip het.
Sy’t as enigste kind saam met haar ma op Springs aan die Oos-Rand grootgeword, waar sy op 15 teen anoreksie baklei het.

Haar ouers is geskei toe sy net drie jaar oud was en daarna het sy en haar Italiaanse pa eers aan hul verhouding begin bou toe sy 25 was.

Angelique se ma is haar heldin. “Ek is waar ek vandag is danksy my ma en ek het die wêreld se respek vir haar. Sy’t haar lewe omgewerk – sewe dae ’n week as kredietbeheerder – sodat ek nie aan enigiets ’n tekort gehad het nie. Sy moes werk en spaar sodat ek ’n goeie kinderlewe kon hê.”

Dit was juis onder meer Angelique se verlange na haar ma wat haar ná twee jaar in Londen teruggelok het Suid-Afrika toe. Nadat sy haar sielkunde-graad gekry het, het sy as sekretaresse in banke daar gewerk om geld te spaar om drama te studeer.

Dit was ook haar ma wat haar terug na die werklikheid geskok het toe sy in graad nege net 38 kg geweeg het.

Die gemis aan haar pa het ’n “gat” in haar gelos wat sy met aanvaarding wou opvul.

“Ek het gevoel my pa aanvaar my nie. Dalk, as ek maerder of mooier is, sal dit anders wees, het ek gedink. Ek weet nie hoekom nie, maar dis die verband wat ek getrek het. Ek was in ’n moeilike stadium in my lewe. Dit was die oorgangstyd na my tienerjare. Ek het ’n lae selfbeeld gehad, al was ek ’n toppresteerder wat in sport en akademie uitgeblink het. Toe hou ek op eet, behalwe ’n appel ’n dag. As ek ’n toebroodjie geëet het, het ek dit gaan afdraf.”

Een aand het Angelique se ma by haar kom sit terwyl sy gebad het en vir haar gesê: “Weet jy, my kind, ek het eerder ’n vet kind as ’n dooie kind.

“Haar woorde het my geruk. Ek het besef hoe seer ek haar maak. Ek het gedink óf ek gaan so aan en gaan dood óf ek eet normaal en is gesond. Ek het geweet as ek op hierdie pad bly, gaan ek weggevat word van my ma. Ek wou dit nie aan haar doen nie.”

Sy het geleidelik gesonder begin leef.

“Ek het wilskrag. Toe ek besluit ek gaan begin eet, het ek. Baie meisies sukkel om dit te doen. Dit was gelukkig, dankie Here, nie my pad nie.”

Vandag het sy ’n gesonde verhouding met kos.

“Ek dink aan watter kos vir my die meeste energie gaan gee en nie aan wat my dalk gaan vet maak nie. Ek wil nie eens hê my brein moet vir ’n sekonde ’n gedagte koester dat ek vet is nie.”

Daar’s ’n hartseer storie agter haar pa se afwesigheid, sê sy. Sy kyk reguit, uitdagend met haar heldergroen oë en dan dam die trane daarin op en sy laat haar kop sak.

“Dis nie iets waaroor ek eintlik wil praat nie. My pa kon met my kontak gehad het as hy wou, maar hy het nie. Hy was jonk en het sy dinge gehad waardeur hy moes werk. Ek is nie kwaad vir hom nie. Ons het vrede gemaak en probeer nou kontak behou. Maar dis moeilik. Ek is al 27.”

Sy erken sy begeer om ’n band met haar pa te hê, nes ander meisies.

“Ek weet nie hoe dit voel nie. Ek wens dit was anders. Ek dink nie pa’s besef hoe belangrik die rol is wat hulle in hul dogters se lewe moet vervul nie. As daar een ding is wat ek vir ouers wat geskei is, wil sê, is dit: Asseblief, asseblief wees daar vir jou dogter. Bring tyd saam met haar deur. Dit maak nie saak hoe kwaad jy vir haar ma is nie, dit het niks met jou dogter te doen nie. Bel haar, gaan kuier vir haar, vertel vir haar wat sy moet weet oor die lewe. Sê vir haar sy’s mooi.”

Angelique se kêrel van die afgelope drie jaar, Ben-G van Niekerk, ’n skrynwerker met sy eie onderneming, leer haar baie oor verhoudings.

“Hy leer my veral oor mans. Ek het mans nie verstaan nie omdat ek nie saam met een grootgeword het nie. Ek het soveel respek vir hom, want hy’t respek vir waar ek vandaan kom.”
Angelique is baie gelowig. Dít het haar deur die moeilikste tye in haar lewe gehelp.

“In my derde jaar van sielkunde het ek uit die bloute paniekaanvalle begin kry. Ek het nie geweet wat met my aangaan nie. Ek het gedink ek is besig om dood te gaan of mal te word. Ek het ’n maand lank soos ’n kluisenaar geleef en nie uit my woonstel gegaan nie. As ek my voete in die klas gesit het of selfs op die snelweg gery het, het ek ’n paniekaanval gekry.”

Eendag het Angelique ’n tydskrif-artikel oor paniekaanvalle gelees.

“Toe besef ek wat besig is om met my te gebeur! Die oorsaak is ’n kombinasie van genetiese, fisiologiese en sielkundige faktore.” Sy’t vir terapie gegaan, asemhalingsoefeninge aangeleer om haar te kalmeer en moet vandag medikasie gebruik om dit te beheer.

“Ek moet probeer om nie negatief of angstig te word nie. Ek bid gereeld dat die Here my gedagtes sal help beheer.” Angelique se borrellag is terug as sy oor Clara gesels.

“Ek het baie navorsing vir my rol gedoen. Ek het geleer Roemene is baie trots op waar hulle vandaan kom – almal van die Oosblok-lande is so. Jy moenie Roemene en Russe oor dieselfde kam skeer nie.

“Ek het eenkeer nie geweet hoe om ’n Roemeense woord uit te spreek wat in my dialoog was nie en ’n Russiese outjie gevra wat soms op 7de Laan se stel werk. Toe sê hy vir my: ‘I’m from Russia. It is not the same as Bucharest.’ Dit was ’n klassieke voorbeeld van hoe trots hulle op hul kultuur is. En nou like Clara dit ook. Sy sê ook: ‘Ek is van Boekarest. Ek is nie van Rusland nie.’”

Terwyl dit vir sommige akteurs ’n irritasie is om bekend te wees en deur aanhangers voorgekeer te word beskou Angelique dit as deel van haar werk.

“Dis belangrik vir ’n akteur om nederig te bly en te waardeer waar jy is. Jy moet besef jy doen dit vir die kykers. Hulle sien vinnig in jou oë ’n effense houding of ’n diva-geit.”
Tussen 7de Laan se stywe skedule deur is Angelique ook besig met haar honneursgraad in sielkunde aan Unisa.

“Ek bid altyd dat die Here my sal lei en die regte deure oopmaak en die verkeerdes toemaak. Ek het verlede jaar hierdie begeerte gehad om my honneurs in sielkunde te doen. Ek’t gedink ek gaan nie tyd hê daarvoor nie, maar ek glo God het dit op my hart gedruk om dit aan te pak. Ek het aansoek gedoen en is gekeur. Ek weet nog nie wat is die doel hiermee nie. Ek vertrou net dit is wat ek nou moet doen.”

Haar droom is om ’n liefdadigheidsorganisasie op die been te bring wat geld insamel vir ’n huis vir mishandelde vroue en kinders. Daar sal slagoffers dan byvoorbeeld ’n verklaring kan aflê en terapie en ondersteuning kry.

Angelique glo sy kan ’n verskil in mense se lewe maak juis omdat haar eie lewe by tye moeilik was.

“Ek het nie ’n clean cut, maklike lewe gehad nie. Ek is bly daaroor. Ek is dankbaar ek het baie stories om te vertel sodat ek ’n inspirasie kan wees en ander mense kan help.

* Jou volgende SARIE (Augustus) is vanaf Maandag 26 Julie te koop

  • Lizette

    Pragtigste meisie met ‘n pragtige hart!! Ek dink jou Mamma kan baie trots wees op jou en is dit nie wonderlik nie, dat jy nou ander mense gaan help uit jou seerkry en nie teruggesak het in selfbejammering nie!! Daar is soveel seer en stukkende mense in die samelewing wat hulp nodig het! Jy het ons almal se harte gesteel in 7deLaan!! Wonderlik – mag net die beste en die mooiste jou deel word!!

  • Annette

    Sy is pragtig…wees altyd so sprankelend…

  • George

    Soveel energie het ek nog nooit gesien nie. So talentvol het ek lanklaas gesien. My omtrent vergaap met haar danstalent ook. Hoe onregverdig. Sy het te veel talente gekry. Skoonheid spreek boekdele. pragtige persoonlikheid. Hou so aan ons is trots op jou

  • rozaan

    My trane het onmiddellik begin loop toe ek lees oor wat alles sy moes deurmaak,want presies dieselfde gebeur met my,ek ken nie my pa nie en hy gee ook nie veel om nie…angelique is n pragtige meisie en ek bemin haar as clara,ek het nooit een episode gemis van haar…ek is nou maar eers 19 en nogsteeds wonder ek hoe dit voel om jou biologiese pa te ken…alle sterkte vir jou angelique…love u

  • Liddie Styger

    Angelique, jy is great!!! Mooi bly! L. Styger