FOTO: Clinton Lubbe

FOTO: Clinton Lubbe

Ons praat met

Angelique oor Boer soek ’n vrou : ‘Een van my moeilikste besluite’

“My hart is baie seer. Dit was een van die moeilikste besluite tot nog toe, maar ek het besef dis tyd om aan te beweeg en my vlerke te sprei.”

Só sê Angelique Gerber oor haar besluit om kykNET se werklikheidsprogram Boer soek ’n vrou te verlaat. Sy en haar agent het baie lank hieroor gedink voordat hulle uiteindelik besluit het dat sy nie meer die aanbieder van dié gewilde program sal wees nie.

SARIE.com gesels met Angelique oor haar herinneringe van dié program.

Die lekker én die sleg …

“Om te sien hoe die boere liefde vind was die lekkerste. Álmal huil, want jy het die pad gesien wat die paartjie stap. Dis eintlik bittersoet – want die ander deelnemers moet seerkry sodat een paartjie geluk en liefde vind.

“Dís ook wat vir my die moeilikste was – as ek sien ’n meisie is regtig verlief op haar boer en dan kies hy haar nie. Of hy verloor sy hart op die meisie en sy sê nee.”

Liefdeslesse

“So vinnig en hard soos wat jy verlief kan raak, kry jy ook seer. En net so versigtig en berekend as wat jy kan wees, kan die liefde jou ook verras. Jy kan nie liefde kies nie, dit gebeur maar net …”

 

Angelique se nuwe ombré-haarkleur FOTO: Facebook

Angelique se nuwe haarkleur… lees meer hier. FOTO: Facebook

Sal jy, ’n stadsjapie, plaas toe trek?

Voordat sy Boer soek ’n vrou se aanbieder geword het, het Angelique altyd daarvan gedroom om op ’n plaas naby ’n klein dorpie te woon. Maar nou is daar nie ’n manier dat sy só ’n skuif sal maak nie.

“Ek is baie lief vir die stadsliggies en my loopbaan maak dit net nie op die oomblik moontlik nie, want ek is te besig,” sê sy. Sy het verlede jaar haar eie klerereeks, Angelique Gerber Designs, begin en dié besigheid floreer. Sy het haar vriendin Donnalee Roberts se uitrustings vir Pad na jou hart se rooitapyt-geleenthede ontwerp.

FOTO: Twitter

Angelique en Donnalee Roberts in rokke van Angelique Gerber Designs. FOTO: Twitter

Beste herinneringe

Ek dink ek gaan Nina Swart, regisseur van Boer soek ’n vrou, se lag die beste onthou – dis uniek en kom uit haar maag én siel! Dít en die snaakse smulgeluide wat sy maak terwyl sy eet,” vertel Angelique, en voeg by dat sy die span agter Boer soek ’n vrou baie sal mis.

“As jy ses maande van die jaar saam op die pad is, leer jy mekaar ken en julle word vriende. Ek gaan hulle so baie mis!”

“Ook die herinnering van elke boer is in my hart gewortel. Boere soos Eon, Louis en Fanie het diep in my hart gekruip.”

Raad vir die nuwe aanbieder

Aan Nadia Beukes, haar opvolger by Boer soek ’n vrou, het sy ook ’n bietjie raad.

“Geniet elke oomblik, asem die mooi dele van ons land in, laat jouself toe om vir die boere om te gee en loop saam met elkeen hul pad op soek na liefde.”

Nadia is so opreg en sy gee altyd om vir ander – ek weet sy sal dit kan doen.

Eerste onderhoud met nuwe aanbieder Nadia Beukes

Groot filmplanne vir 2014

“Daar is ook twee rolprente in die pyplyn en ek is ’n medevervaardiger van ’n Engelse film oor die Bybelse koning Dawid,” vertel Angelique, wat deesdae ook in Isidingo te sien is.

“Dis vir my so lekker om weer toneel te speel. Nou by Isidingo besef ek net hoeveel ek dit gemis het. Hoewel ek mal oor aanbieding en ontwerp is, was flieks nog altyd my groot passie en ek is dankbaar dat ek nou weer beskikbaar is om toneel te speel.”

FOTO: Clinton Lubbe

FOTO: Clinton Lubbe