sr0810angus_9_
Ons praat met

Angus Buchan: “Die vrou is die hart van die huis”

Angus Buchan van Shalom Ministries op Greytown, KwaZulu-Natal, het ’n alombekende naam geword. Sy Mighty Men-konferensies waar meer as 200 000 mans op ’n slag op sy plaas saamtrek om na hom te luister, laat groot manne huil, kniel en bid.

Mense het die eerste keer van Angus gehoor deur die rolprent Faith Like Potatoes, wat gegrond is op sy lewe. Sommige beskou hom as Suid-Afrika se eie Billy Graham, al is daar ook mense wat kritiek het op wat hy predik. Soos dat die man steeds in vandag se tye die hoof van die huis is, dat die vrou aan hom onderdanig moet wees.

DIE SARIE-REDAKSIE HET VIR HOM AL IN 2008 ‘N PAAR REGUIT VRAE GEVRA:

Wat is jou boodskap aan die vroue van Suid-Afrika?

Die vrou is die hart van die huis en die huis is so gesond soos die vrou wat dit bestuur. Ondersteun jul mans en bid saam as ’n gesin. Die herlewing van ’n volk berus op ’n gesonde gesinseenheid. Herlewing sal nie kom deur die parlement nie, maar deur die kombuisdeur en vandaar sal dit versprei na die parlement.

’n Land is net so sterk soos sy individuele huisgesinne. Ek is pa van vyf, oupa van vier (en twee kleinkinders is op pad), en ook “pa” van 24 kinders in ’n kinderhuis op die plaas. So ek glo ek kwalifiseer om oor die rol van die gesinslewe te praat. Maar ek probeer glad nie voorgee dat ek als weet nie. Om die waarheid te sê, die moeilikste plek vir ’n Christen is by die huis.

Die má gaan ’n deurslaggewende rol speel in die toekoms van die land. ’n Eggenote en ma is die krag in die lewe van elke groot man.

 

’n Eggenote en ma is die krag in die lewe van elke groot man.- Angus Buchan

 

Jy sê dikwels die man moet die hoof van die huis wees. Wat bedoel jy daarmee?

My vrou, Jill, is 58 en lyk 42. Sy lyk soos my dogter, want ek het haar lief en ek koester haar. Op die Mighty Men-konferensies leer ek mans dat hulle hul vrou soos ’n prinses moet behandel en moet beskerm. Dit beteken nie mans moet magtig wees in die huis nie, maar magtig in die krag van Jesus. Hulle moet hul kinders dissiplineer en hul vrou bystaan. Dán sal hul vrou nie afgerem nie, maar soos ’n skoonheidskoningin lyk.

My vrou is my beste vriendin. Die kombuis is die kuierplek waar ons kinders en kleinkinders tee en koffie drink en waar ons gesels. Vakansietyd kook ek. Ek braai, of maak ’n lekker skaapboud. Ek en Jill draf vroegoggend saam, dikwels voor sonsopkoms, om fiks te bly. Ek en my kinders ry ook graag perd. Wanneer ek toer, bly Jill by die huis. Ek bel haar elke dag en ons praat lank op die selfoon, want ek verlang baie.

En ek bederf my vrou. Ek het vir haar ’n mooi motor gekoop en in Desember gaan ons vakansie hou in Israel. Sy is in beheer van die inkopies. Sy’s baie onselfsugtig en koop min vir haarself, maar sy hou daarvan om mooi goed vir die kinders te koop.

Ek onderdruk haar beslis nie. Sy is my raadgewer. Ek glo net nie daar kan twee kapteins op een skip wees nie, want dan gaan dit op die rotse loop. As ek groot besluite neem, ag ek haar mening en het dit al dikwels verander op haar aandrang. Ons praat soos gelykes. My vrou is ’n stil, sterk krag in my lewe.

Jy het gepraat oor God se plan vir die Afrikaner en vir SA. Kan jy meer spesifiek wees?

Baie Afrikaners woon op die platteland. Ek het herlewings bestudeer en die meeste het op plase op die platteland plaasgevind. Dit begin in die gesin. Die Afrikaner se voorgeslagte het Europa verlaat om na Afrika te kom vir godsdiensvryheid. Een hand was op die ploeg en die ander een op die Bybel. Miskien het hulle geleidelik die Bybel vir goud verruil. Nou is dit weer die tyd vir ware vergifnis.

God gee mense (ook vir my, want ek is ook ’n boer) ’n tweede kans en wys genade. Die mans van die platteland kan die mense van Afrika voed. Die Afrikaners is van die beste boere ter wêreld. Die herlewing onder boere het ’n uitwerking op die res van die kulturele groepe in die land. Hoe anders kan ’n mens die opkoms van 70 000 mense op Loftus verklaar? (* Sy onlangse Mighty Men-saamtrek in 2010 het meer as 200 000 mans gelok)

Is dit die swak ekonomie, geweld, die hoë angsvlakke of suiwer herlewing wat Suid-Afrikaners in massas na jou samekomste dryf?

Ek dink al dié faktore dra daartoe by dat mense na my kom luister. Dis deel van die menslike natuur om jou tot God te keer wanneer jy desperaat is.

As dit droog is, stop iemand langs my in die pad, draai sy venster af en sê: “Hei, Angus, dis droog, jy moet met die Man daarbo praat.” Dit maak my kwaad, man, maar ons doen dit almal. Mense bedoel dit nie sleg nie. Maar as die reën kom en ek sê: “Boys, kom ons gaan nou net terug en sê dankie vir God,” dan is daar niemand nie.

Ons leef in die laaste dae. My kompas is die Bybel. Al die tekens is hier dat dinge tot ’n einde kom. Natuurrampe soos vloede en aardbewings, hongersnood, morele verval. Jongmense weet nie meer of hulle manlik of vroulik is of wat dit is om ouer mense te respekteer nie.

Mense bly nie meer seksueel rein tot die dag dat hulle trou nie en hulle pleeg egbreuk. Maar dis tóg besig om te verander.

By die Mighty Men-konferensies het ek wonderlike dinge sien gebeur tussen pa’s en seuns. Ons as Christene moet opstaan en verantwoordelikheid neem en die standaard stel vir moraliteit. Anders is daar ’n chaos. My boodskap is eenvoudig, ’n kind van 10 kan dit verstaan. En ek wil dit so hou. Dit is hoe Jesus gepreek het.

Dit sal uiteraard meer as geloof neem om SA se probleme op te los. Hoe belangrik is verdraagsaamheid, veral in die lig van die onlangse xenofobiese aanvalle? Verdraagsaamheid is nommer een! Jesus het gesê ons moet mekaar liefhê. Hy het gesê hoe kan ’n mens Hom liefhê wat jy nié kan sien nie, as jy nie jou broer liefhet nie. Ek is kleurblind. As jy nie jou broer kan liefhê nie, kan jy jouself nie ’n Christen noem nie. Finish en klaar.

By die Mighty Men-konferensies het ons 60 000 (*in 2010 was dit meer as 200 000) mans gesien, in die gras en op hul knieë, huilend, terwyl hulle God vra om hulle te vergewe. Die oud-rugbyspeler Balie Swart het my die ander dag gebel. Ek is sy spirituele pa. Hy noem my “die ou soldaat”. Hy het getuig by ’n gholfdag en baie mans het daarna ook getuienis gelewer.

Julle vroue moet opgewonde wees daaroor dat so baie mans deur dié konferensies geraak word.

Angus BuchanAngus BuchanAngus Buchan

Die meeste Suid-Afrikaners leef in gedurige vrees en dit kan ’n mens laat verstar. Hoe hanteer jý vrees in jou lewe?

Die teenoorgestelde van vrees is geloof. Ek is net ’n mens en raak soos enigiemand anders ook bang. Maar hoe meer tyd ek met die Here deurbring, hoe minder vrees is daar in my lewe.

Hoe word ’n mens se geloof versterk? sal jy vra. As jy die groot tent, reuse klankstelsel en 60 000 mans soos by die Mighty Men-konferensie sien, of ’n “menslike rivier” van mense op Loftus Versfeld wat die “Onse Vader” sing, dán kry jy respek vir God en dis asof jy die vlerke van die engele hoor.

Ek het só naby aan Jesus gevoel. Dít versterk jou geloof. Nét God kan dít met mense regkry.

Die Blou Bulle en die Griekwas moes onlangs op ’n Saterdag in Kimberley in ’n Curriebeker-wedstryd speel, toe verskuif hulle die wedstryd na die Vrydagaand sodat ek die Saterdag kon praat. Want die mans wou Saterdag na my kom luister. Waar het jy van só iets gehoor? Rugby is soos ’n god in Suid-Afrika.

Ek sal nie ophou om die Woord van God te verkondig totdat hulle dit soggens in die parlement lees voor hulle met hul dagtaak begin nie. As jy ’n ware verhouding met God het, kan jy nie kompromieë oor jou geloof aangaan nie.

Glo jy God het jou gekies om te preek?

Ek beskou myself as ’n ambassadeur vir Jesus. Ek is lief vir mense, maar nie gewoond aan al die aandag nie. Ek is net ’n boer. Dis soms nogal moeilik en ek moet myself dissiplineer met tyd, want ek en Jill het tyd vir onsself nodig. As ons wil ontspan, gaan ons wildtuin of strand toe, of iewers waar dit stil is op die platteland. Nié na ’n winkelsentrum nie.

Daar is sowat agt vroue op die plaas wat my sake bestuur. My seuns bestuur die boerdery en vier van my kinders is gemoeid met Shalom Ministries. Dis vir my moeilik om so gereeld te reis en weg te wees van die huis. Ek skryf tien rubrieke per week en neem sowat 300 TV-programme per jaar op. Maar hierdie is ’n roeping. Daar’s ’n verskil tussen ’n salaris en ’n erflating. Ek werk nie vir ’n salaris nie, maar vir ’n erflating. Ek werk vir die hiernamaals.

Party mense beweer jy’s weinig meer as ’n goeie motiveringspreker.

Sommige sê jy buit mense se onsekerhede uit . . . Ek is ’n dienskneg van die Here. Ek glo God het vir my ’n boodskap gegee om in dié dae uit te dra. Ek het nie Bybelskool toe gegaan nie en ek het geen formele opleiding nie. Die mense het gedink die dissipels Petrus en Johannes was eenvoudige, ongeskoolde mans, maar hulle was saam met Jesus en dít was ’n groot voorreg. Ek is tevrede om ’n leke-prediker te wees.

My kritici het soms suur druiwe en dit kom soms vanuit die kerk. Dis nie die alkoholiste, prostitute, bendelede of dwelmslawe wat die vinger wys nie. Ek is geskool in die lewe. Ek bring ’n boodskap van hoop en ek doen dit nie vir geld nie. Ek moedig mense aan om terug te keer na God. Ek sê nie na watter kerk toe hulle moet gaan nie. Shalom Ministries het plek vir alle denominasies.

Dit het onlangs aan die lig gekom dat selfs moeder Teresa soms ernstig getwyfel het in haar geloof. Twyfel jy ooit of jy die enigste waarheid beet het?

Jesus Christus is meer van ’n werklikheid as jy wat nou aan die anderkant van die foon met my praat. Ek wéét Hy leef. Hy het my nog nooit in die steek gelaat nie. Dis ook hoekom ek vir mense wat oorsee gaan omdat hulle bang is vir die probleme in die land, sê om vrede hier te vind. Want jy gaan die angs met jou saamneem. ’n Mens vind vrede ín jouself. Neem ’n besluit. Ek het vrede op 18 Februarie 1979 gevind. (Toe hy tot bekering gekom het.) Dis wat die mense op Loftus en op Kroonstad en oral in die land gedoen het.

Ek is nie godsdienstig nie. Ek glo in ’n Persoon en sy naam is Jesus Christus. Goeie mense gaan nie hemel toe nie. Mense wat gló, gaan hemel toe.

Wat glo jy oor die hiernamaals?

Dié lewe is nog net die begin . . . Om saam met Jesus te wees is die ewige lewe. Om weg van Hom te wees is ewige verdoeming. Ek glo die hiernamaals gaan sonder angs, haat, smart, geweld of trane wees. Daar gaan gelykheid wees.

Mense vra soms vir my wat van mense soos Idi Amin en Adolf Hitler, hoe kan hulle wegkom met hul dade. Ek sê altyd the party is not over until the fat lady sings. Geregtigheid kom nog. Dis hoekom Jesus sê ons moet bid vir ons vyande.

Dis ’n vreeslike ding, volgens die Bybel, om te val in die hande van ’n lewende God. Maak seker jou lewe is reg, sodat jy Hom kan ontmoet. Net God kan oordeel.

WAT IS JOU GEVOEL OOR DÍT WAT ANGUS VERKONDIG?

  • http://www.thelaundryline.co.za Mariette

    WOW Prys die Here. Ons is in die laaste dae en genade tyd hardloop uit. Dankie Oom Angus vir ‘n boodskap van hoop.

  • Luana Jefferies

    As vrou en ma van drie pragtige dogters weet ek dat God se groter plan vir die huwelik en die gesin nie dit is wat die wêreld verstaan nie. Vroue raak opstandig oor Angus se boodskap omdat hulle nie die groter prentjie kan sien nie. Die man as leier in die huis wat omgee en alles vir sy huis sal opoffer is nie altyd wat vroue tuis ervaar nie. Daarom die negatiewe gevoelens. My man as hoof van die huis (soos God dit in Sy Woord verkondig) maak my as vrou die spesiale "link" tussen God, my man en veral my dogters. Dit maak my opgewonde en ek weet dat God se plan volkome in ons lewe tot stand kan kom omdat ek as vrou buig voor die God van liefde, vreugde en vrede. Is dit dan nie maar wat almal soek nie?

  • Tania

    Ek stem 100% saam met hom. En ek as vrou glo ook 100% dat die man moet lei in die huis, dat die man die hoof moet wees. Mag meer en meer manne hulle plekke inneem in hulle gesinne soos God dit bedoel het! En mag ons as vroue nie in hulle pad staan nie, maar hulle ondersteun en hulle "helper" wees.

  • Zelda

    My drie seuns was nou op die laaste Mighty Men – en al is hulle al volwasse met die oudste een getroud maak die onlangse omstandighede in die politiek hulle baie opstandig met allerhande woede en haat uitbarstings – ek het so hard gebid dat die saamtrek iets aan hulle moet doen en dat God hulle moet aanraak, en VOORWAAR, ek ken skaars my seuns, nogsteeds sterk maar op ‘n rustiger manier, ‘n kalmte het oor hulle gekom wat my laat JUBEL en ek loof GOD daarvoor – Dankie Angus

  • Magda Cooper

    Ek is in 2003 geskei, en het my lewe vir GOD gegee in 2008 gegee toe ek sy DVD van Faith like Potato gesien het. Ek is net jammer dat ek HOM nie geken het in my huwelik nie want dan was ek miskien
    vandag nie geskei nie. Maar dit is nooit te laat om jou Lewe vir GOD te gee nie, en is net bly dat ek daai kans gekry het. Ek luister elke Saterdag en Sondag oggend na Angus op TV en het ook al baie van sy boeke gelees en het nou vir my Mostersaad gekoop wat ek elke oggend lees asook my Bybel voor ek werk toe gaan. Baie dankie Angus. Hoop GOD spaar jou nog lank vir ons.

  • M

    Jammer, maar ek kan nie saam stem met oom angus nie. My man het een van die mighty man kampte bygewoon, maar hy dra my beslis nie op die hande nie.So die aartappel boer se wenresep het dus nie gewerk nie. Ek voel tans baie sterk daaroor dat die gesin in hierdie eindtyd nie gebreek moet word nie. Nou wil oom angus nog geloof in die huwelik breek deur mans en vrouens in hulle geloof te skei?

  • Yvonne

    Dankie, vir mense soos Oom Angus. Ek wil onderdanig wees aan my man soos wat God dit van my as vrou verwag en my toekomstige man wil my liefhe soos wat Christus die kerk liefhe. Oom Angus verkondig die waarheid aan mans en as ons as vrouens ons mans bystaan en onderdanig is soos wat die Bybel ons leer sal ons, ons mans ware mans maak. Dit is tyd dat die vrouens ophou om die broek te wil dra en hulle mans ophef tot waar hulle hoort. ‘n Man kan nie die hoof, priester en profeet van ‘n huis wees as die vrou die wil wees nie.

  • M

    ek het kommentaar gelewer terwyl ek nie geweet het wat oom angus se bedoeling regtig was nie. jammer. intussin het ek geleer dat segs die bybel reg is nie duiwel se deception nie, die man is die hoof van die huis!!! so is Jesus hoof van die man en so sal Hy ons vrouens op die hande dra!

  • http://obzzkaaknunh.com/ vfyzkiaj

    BjRHn7 zebgqrxiougw, [url=http://rsplvgsuqiyj.com/]rsplvgsuqiyj[/url], [link=http://gmsjyclamfmh.com/]gmsjyclamfmh[/link], http://qvtonnuwoowj.com/

  • Riana

    Oom is baie waar.

  • Ronell van Sittert

    Elkeen se daaglikse doen en late, die woorde wat jy spreek….se en wys wat of wie jy as persoon is…Dit spoel oor na jou maat en kinders…
    Die emosioneel sterkere persoon sal altyd die leiding neem. Daar moet geen onderdanigheid wees nie. Julle moet eerder mekaar se gelyke probeer wees. Almal kan nie ewe sterk wees nie, want elkeen van ons word in verskillende omstandighede groot met verskillende agtergronde.
    Inteendeel daar moet nie n hoof,leier,baas wees nie.
    Harmonie – elke kind van God, man of vrou moet jou naaste in ag neem voor jy jou mond oopmaak en jou tong laat werk.

  • Denise

    More
    Ja ek het my hart vir die Here gegee my man was nog in 2008 na Angus toe maar die duiwel het my man net verder in sy kwaad gesteek eks nie kwaad nie bid net. Ons is al twee jaar uitmekaar het nie die vaderlike figure in die huis geken het maar die leiding geneem en nou is ek alleen maar het wonderlike ondersteuning van my gemeente ek moet n toespraak doen oor hoe vervul ek die rol in my eie huis houding ek is alleen kinders groot en uit die huis Die onderwerp is WAT N VROU TE DOEN SOU STAAN SOU HAAR MAN NIE SY ROL TEN VOLLE OF GLAD NIE VERVUL AS KONING PRIESTER EN PROFEET