aug07voorbladartikel1a
Ons praat met

Anna-Mart raak persoonlik

Ons was albei jong aktrises wat pas die bedryf betree het. Reeds tóé al het die gange gegons oor dié nuwe vonds: Anna-Mart van der Merwe. Dit was twintig jaar gelede in die gange van die Windybrow-teater in Hillbrow, waar die Potpourri-fees jaarliks aangebied is.

Een aand ná een van my vertonings kom ’n klein meisie met lang, bruin hare my skamerig tegemoet. “Dankie,” sê sy terwyl sy haar ken ingetrek hou. Eers later, toe ek na die opvoering van Keep moving, Ma Jack gaan kyk, het ek besef dit was die meisie oor wie die hele wêreld so gaande is. Nie dat die mens wat op die verhoog gestap het dieselfde skamerige meisie was met wie ek ’n paar oomblikke gesels het nie.

Anna-Mart het die rol van ’n jong meisie, wat dae lank in die bloedige Afrika-son rondgestap het, met oorgawe vertolk. Sy het al huilend die verhoog opgeloop met haar gesig “sonverbrand”. Jy kon die rou aan haar voete voel. Die gehoor was oombliklik betower. Later die aand sien ek haar alleen op die parkeerterrein na haar Volkswagen Kewer stap. Daar was iets misterieus en onpeilbaars aan die meisie van Vredendal. “Wie is sy?” het ek gewonder.

Twintig jaar later is Anna-Mart een van ons gesogste en mees geliefde aktrises en steeds wil mense weet wie sy is, hoe sy dit regkry om ná soveel jaar steeds so gewild te wees, steeds ’n voorbladgesig

“Antjie, SARIE soek iets nuuts en vars oor jou.” Dis hoe ek die voorbrand-gesprek met Anna-Mart, my vriendin van sestien jaar, begin. Ons sit aan tafel by haar en haar maat, George, in hul lieflike huis in Woodmead, Johannesburg. As Anna-Mart onthaal, is dit altyd ’n groot bederf. By haar eet jy “patatas” soos jou ouma dit gemaak het of eksotiese disse wat sy êrens in ’n kontemporêre kookboek raakgelees het.

En moenie dink jy mag ná die tyd help opruim nie. Sy vertel dat sy altyd ietsie los vir die volgende dag. ’n Stukkie kurk wat een van die gaste tydens ’n entoesiastiese gesprek uitmekaargepluis het of ’n rooiwynvlek word ’n visuele herinnering aan die aand se gedeelde oomblikke wat sy later kan herleef, her-kou of herontdek. ’n Vrou wat die lewe beleef deur te kyk wat mense doen, daaroor te praat sonder om te oordeel en wat altyd regstaan om haarself aan die volgende uitdaging bloot te stel. En dan het sy mooi hande en netjiese voete! En sukses . . . en . . . en . . .

Ek sit teenoor Anna-Mart in Gia’s, ’n koffiekroeg in die Montrose-kwekery. Sy bestel kruietee en op 43 lyk sy die beste wat ek haar nóg gesien het.

“Raak jy nooit moeg vir onderhoude nie?” “Nee,” sê sy ernstig, “ons akteurs is mos maar soos sirkusapies, as jy die pennie ingooi, begin hy dans.”

Waaraan skryf sy haar suksesvolle loopbaan toe? Mense, antwoord sy, en begin name noem. “Babs Laker, Annie Basson, lektore en medestudente aan die Universiteit van Kaapstad in my studentejare, my dae by die destydse Truk toe ek daar student was, Bobby Heaney, Dieter Reible, Ilse van Hemert, Lucille Gillwald . . .” Hier moet ek haar keer, want Anna-Mart het ’n imposante lys van verhoog- en TV-produksies op haar kerfstok. Vir haar is haar werk meer as net ’n beroep. “Dis my lewensaar.”

As sy haar vir ’n rol voorberei, doen sy dit met toewyding. In Amalia, waarin sy ’n dokter was, het sy op eie stoom haar huisdokter besoek en vir ’n konsultasie betaal om te leer hoe om ’n pols en bloeddruk te neem.

 

Eintlik is ek die vryste op my eie – en op die verhoog

 

“Het jy al spyt gehad oor enige rol?” “Nee,” antwoord sy sonder om te skroom. Daar was wel soms moeilike uitdagings waar sy gevoel het sy skiet te kort, maar juis in hierdie tye het sy die meeste van haarself geleer. Kritiek is die ander “lewensaar” waarsonder Anna-Mart nie kan leef nie.

“Ek sien negatiewe én positiewe kritiek as twee onlosmaaklike aspekte van my werk, en ek respekteer en aanvaar dit. (If you can’t stand the heat, stay out of the kitchen.) My ouers het my geleer die skryf van ’n toets is die ware uitdaging en lei tot groei. ’n Resultaat (goedkeuring) word deur die voorbereiding en skryf van die toets bepaal. Hulle het my ook geleer dat die lewe jou niks skuld nie. Alles lê in die proses, in die deelneem en genade.

“Dit sal natuurlik vir ’n mens se ego héérlik wees om gereeld gevlei te word, maar belangriker is die waarheid. Dis soms nie lekker nie, maar dis gesond en bevrydend. Dis uiteindelik maar daai stemmetjie diep binne ons wat tel. As akteur word jy ook nie altyd in watte toegedraai nie.” Met Torings, die opvolg van die TV-reeks Konings, moes haar karakter verouder tot op 50 jaar. Sy was toe 29. Anna-Mart onthou hoe op hol sy was daaroor. Die vervaardiger, Johann Bernard, het haar kortgeknip met ’n eenvoudige: “Anna-Mart, jy is besig om heeltemal te oorreageer, jy’s ’n aktrise – natuurlik kan jy dit doen.”

Dit bly steeds vir haar ’n voorreg om haar brood en botter met toneelspel te verdien. Sy is lojaal, deurdag en objektief, en luister en hoor wat ander sê. Daarvoor is sy dank verskuldig aan haar pa, Barney van der Merwe, nóg ’n aar wat Anna-Mart se siel voed. Dis duidelik dat albei haar ouers ’n groot rol in haar lewe gespeel het, al is haar ma, Reyna, oorlede toe sy twaalf jaar oud was en haar pa toe sy agttien was.

“My ma was passievol en sensueel. My pa het my geleer om nie net te luister nie, maar om te probeer hóór wat mense sê.” Ons begin oor haar susters gesels. As sy oor Naomi en Karien begin praat, is dit asof sy ligter word en dit voel skielik of die son warmer die vertrek inskyn.

“Hulle inspireer my,” glimlag sy. Al is hulle heelwat ouer as sy, is dit vir haar ongelooflik wonderlik hoe hulle steeds die lewe herontdek. Karien, wat musiek geswot het, het op 50 haar honneursgraad in Frans verwerf. Naomi blink uit in toegepaste wiskunde. Hul saamwees is op sellulêre vlak, die genetiese band sterk, en by hulle kan Anna-Mart haarself wees sonder om “’n knop op die maag te voel”.

Waar is sy die gelukkigste? “By die huis. By George en in my stiltetye.” Dis in hierdie oomblikke dat sy weer aandag kan gee aan háár lewe. Ná elke produksie moet sy tyd maak om haarself emosioneel “toe te werk”. Dit doen sy deur orde te skep of om op reis te gaan. Dit help haar ontspan en dis hoe sy van haar karakter “vervel“. Ek dink skielik aan daardie “knop op haar maag” en ek vermoed daar’s baie dinge wat hierdie fynbesnaarde “sigeuner“ se lewensare sal kan toedruk.

Sy onthou hoe sy ná die speelvak van Begeerte in die Baxter-teater, Kaapstad, ’n sielkundige gaan spreek het omdat sy bewus geword het van ’n vreeslike skuldgevoel wat haar rondjaag. In dié verhoogdrama, onder die regie van Janice Honeyman, het Anna-Mart die rol gespeel van ’n vrou wat haar kind doodmaak.

“Wat van kinders?” wonder ek hardop. Is dit nie ’n gemis by haar nie? “Niks kan kinders-hê vervang nie. As ek swanger geraak het in die regte verhouding en ek was jonk genoeg, sou ek kinders gehad het, maar dit het nie so gebeur nie. Dis egter nie iets negatiefs in my lewe nie. Ek is dankbaar vir my vol en ryk lewe, en voel nie minder vrou nie.

“Eintlik is ek die heel vryste op my eie,” mymer sy skielik en voeg by “en op die verhoog”, asof die een nie sonder die ander kan nie.

Ek sien weer die jong meisie op die parkeerterrein by die Windybrow-teater. Die een wat onbewus van die bewondering wat sy afdwing, alleen en geheimsinnig in haar kar klim en wegry. ’n Bevryde wese. Wat sou, volgens haar, die drie dinge wees waarsonder ’n vrou nie kan klaarkom nie? Sy dink ’n rukkie na en dan kom die antwoord eg Anna-Mart, eenvoudig, deurdag en konsekwent: “’n Glas sjampanje, sonskerm en ’n kaartjie wat jou op reis kan neem!”