anton_g_pic_1
Ons praat met

Anton Goosen gesels oor wat hy wil bereik, ouderdom en Steve

Is dié toekenning vir jou spesiaal?

Dis die hoogste musiektoekenning wat jy in SA kán kry, want dis die héle bedryf wat beoordeel word. Dit was ‘n eer om saam met Yvonne Chaka Chaka en Lucky Dube op te tree. Ons medley was in 4 tale! Dis op SABC1 uitgesaai en miljoene mense van alle kulture het dit gesien. Ek kon die effek daarvan onmiddellik die volgende dag voel: Van Sun City tot by die lughawe en op Stellenbosch het mense van ander kulture met my kom gesels. Dis tog lekker om in Afrikaans só deur te dring. Afrikaanse musiek is tog meer as net sokkie en boudestamp.

Elkeen wat agter ‘n mikrofoon kan staan, bring dan deesdae ‘n CD en ‘n DVD uit?

Dis nou ‘n groot fase in die Afrikaanse bedryf. Sulke dinge kom en gaan. Dis kitsmusiek en kitsplesier. Daar is seker niks mee verkeerd nie – dis ontsnapping in moeilike tye.

Doen kunstenaars nog genoeg moeite met veral lirieke?

Sommige, ja. Soos in die afdeling vir beste kontemporêre Afrikaanse album waarin Coenie de Villiers gewen het met Weerlig oor die see. Hy het sterk kompetisie gehad van mense soos Amanda Strydom en Chris Chameleon.

So Afrikaanse musiek is in ‘n gesonde toestand?

Lianie May het dit bewys deur te wen met die SA album wat die beste verkoop het die afgelope jaar (haar debuutalbum, Vergeet my nie). Sy het vir Lira uitgestof wat 4 toekennings gekry het! Die jaar toe Steve Hofmeyr so gewen het met Pampoen het almal gelag. Nou kan ons sien dit was nie eenmalig nie.

Van Steve gepraat: Hou die vrede tussen julle?

Die stilte hou! Ek hoor maar min van hom, want hy’s besig op verskeie fronte!

Waaraan werk jy nou?

Ek wil vanjaar ‘n nuwe CD uitbring, iets vars en nuuts. Ek werk maar stadig. Dis vir my persoonlik beter só as om haastig te wees en foute te maak. (Nie dat ek nooit foute maak nie!) Met Vis innie Bos het ek vir vier jaar met die titel in my kop rondgeloop en eventually het dit darem gebeur. Ek doen baie hersiening. Maar jy moet ook lus wees vir iets en op die oomblik is my gemoed ingestel om iets nuuts te skep.

En wat doen jy as jy nie musiek maak nie?

Ek skryf ‘n rubriek vir LitNet, ek het ‘n weeklikse program op Whale Coast FM … Dis ‘n gemeenskapsradiostasie wat van Hermanus uitsaai. Ek het ‘n uur waarin ek kan sê wat ek wil en kan speel wat ek wil.

Waar woon jy?

Op drie plekke: Gansbaai aan die Kaapse suidkus, ‘n lekker vissersdorpie (nie soos Hermanus wat Sandton-by-die-see is nie), ek huur ‘n cottage agter Spier by Stellenbosch om naby die lughawe te wees en ek het ‘n plasie naby die Hartbeespoortdam. Ek moes al 20 jaar terug so gebly het. Ek’s ‘n gebore reisiger. Of dit nou per vliegtuig of bakkie is – reis is nuwe plekke, gesigte en gesprekke.

Hoe oud is jy en wat wil jy nog bereik?

My mental, emosionele, seksuele of fisieke ouderdom? Jy is so oud soos jy voel. Kyk net wat Willie Nelson, Bob Dylan en Leonard Cohen nog bereik. Dis wat ek wil bereik – ek wil aanhou musiek maak en vredevol deur die lewe cruise.