armin_rz
Ons praat met

Armin Barnard, dr. Chris Barnard se jongste seun gesels

Armin Barnard (20) het sy beroemde pa se selfvertroue, sjarme en glimlag geërf. Maar hy oorweeg nie ’n loopbaan as hartchirurg óf hartebreker nie, het hy vir Lydia van der Merwe vertel.

Op Facebook is jou naam Armin Barney Barnard. Vanwaar die Barney?
Dis ’n bynaam, van Barnard afgelei. Albei my ouer broers (Christiaan en Frederick) word gereeld Barney of Mr B genoem. (Dis Chris se seuns uit sy tweede huwelik met Barbara.)

Op jou Facebook-foto lyk jy na ’n pret outjie. Is jy?
Watter foto was dit? Die een met die koerantbanier “I Don’t Speak’” oor my mond geplak? Ek is kreatief en ’n individualis. Wie wil nou ’n foto soos al die ander op Facebook hê? Op my vorige Facebook-foto was ek saam met my boetie, Zach (3). (Uit Karin, sy ma, se tweede huwelik met eiendomsmagnaat Saul Berman).

 

Julle is ’n groot familie.
Ja, ek het ook nog twee klein sussies, Leah, (6) en Lara (11). (Laasgenoemde uit Karin se huwelik met Chris.) Frederick sê altyd: “Ons het nie ’n family tree nie, ons s’n is sommer ’n rankplant!”

 

Wil jy ook harte oorplant?
Nee, ek is bietjie sku vir bloed. Ek is ’n tweedejaar-student in ekonomie aan die Universiteit van Kaapstad.

 

Breek jy eerder harte?
Ek wens dit was so! Ek het die laaste vier jaar drie vaste verhoudings gehad. Die huidige een hou al 10 maande.

Wat is jou mooiste herinnering aan jou pa?
Hy kon nie met my speletjies soos sagtebal speel nie. Al wou hy ook, hy was te oud. Maar ek onthou hom as ’n denker. Hy kon ure lank in sy gedagtes versonke sit. Ek sien hom só sit – met sy bruin baadjie aan. Ek onthou die wonderlike gesprekke met hom. As iemand my sou vra watter mense wil ek om ’n etenstafel bymekaarbring, sal my pa een wees. Die herinneringe aan hom begin vervaag. Ek was maar 12 toe hy in 2001 dood is. Ek het ’n spesiale boks met herinneringe aan hom: kaartjie, foto’s, briewe . . .

Wat sou jy graag vanaand vir hom wou vra, as hy nog gelewe het?
Wat hy graag sou wou gehad het ek moet met my lewe doen. My ma sê altyd dit was sy trotsste oomblik toe ek gebore is. Dalk omdat ek sy laaste hoop was om dokter te word. Hy het toe reeds geweet Christiaan en Frederick gaan nie medies swot nie. Hy het my geleer jy moet lewe leef asof dit jou laaste oomblik is. Maar dat jy ook moet dink aan die voetspore wat jy in die sand los.

*Armin was die spreker op die bekendstelling van Beaufort-Wes se Karoo Hartfees by die Heart of Cape Town-museum by Groote Schuur-hospitaal. Besoek www.karoohartfees.com.