ashley7901
Ons praat met

Ashley vs GiGi. Hoe voel húlle oor vanaand?

1. Hoe voel julle vóór die groot aand?

Ashley: Vreemd filosofies. Wat gebeur het, het gebeur. Al wat nou oorbly is om te wag en sien wie van ons het gewen. Natuurlik hoop ek dit gaan ek wees, maar as dit nie is nie, sal die lewe aangaan. Ek dink ek en GiGi se lewens is albei vol genoeg dat ons nie té ontsteld gaan wees as ons verloor nie.

GiGi: Ons kan nie die stemme verander nie. Ek is nogal kalm.
 
2. Julle het die afgelope week oor die land heen getoer. Hoe het die publiek teenoor julle gereageer?

Ashley: Hulle was in twee kampe. Die een groep is nie Survivor-aanhangers nie en het nie van my strategie gehou nie. Die ander groep het waardering gehad vir hoe ek die speletjie gespeel het.   

GiGi: Die publiek het positief teenoor my gereageer. Met Survivor wou ek myself wees en ek was.
 
3. Ashley, dit het gelyk of jy ’n groot aanhanger van Survivor was en presies geweet het wat om te doen.

Ek was nie. My lewensmaat, Charlie, is ’n aanhanger. Ek het altyd net die tribal councils saam met hom gekyk.
 
4. GiGi, hoe het jy jouself tydens die swaar tye oortuig om uit te hou?

Ek het in die Paarl grootgeword. My pa was ’n natuurliefhebber. Ek het net gedink aan my tye saam met hom in die natuur. Dit het ook gehelp om te weet ons hoef net vir ’n sekere tyd op die eiland te bly en die lyding gaan nie vir ewig aanhou nie.
 
5. Ashley, dit het gelyk of jy baie gewig verloor het.

Ek het 6 kg verloor. Ek het geskrik toe ek myself in die spieël sien. Ek het nie soos ’n vrou gelyk nie en ook nie soos ’n vrou gevoel nie. Ek was nooit tevrede met my bo-bene nie, maar ná Survivor bekommer ek my nie meer onnodig oor hoe my lyf lyk nie. Wat nou saak maak, is dat my maag vol is. Al wat ek oor Kerstyd gedoen het, was om te bak en te eet en te bak en te eet.

6. Die kommentaar van die publiek op Facebook is nogal wreed. Hoe voel jy daaroor?

Aan die een kant voel ek die mense wat sê ek is die duiwel of satan of ’n rugsteker besef nie wat jy op TV sien is net ’n speletjie nie. Ek probeer myself daarvan verwyder. Maar dit is ontstellend om te sien wat mense oor my skryf. Daar is darem ook mense wat sê ek het Survivor uitstekend gespeel.
 
7. Daar is twee vroue in die eindronde. Wat het die mans verkeerd gedoen?

Ashley: Niks nie. Ek dink net mans vertrou te maklik. Dis ’n goeie eienskap om te hê, maar nie as jy aan Survivor deelneem nie. Ek dink hulle het die vroue se krag onderskat. Dis tyd dat mense begin sien hoe sterk vroue is.

GiGi: Ek werk met vroue en ek weet hoe sterk hulle is. Om te dans laat jou nogal magtig voel en jy kan daai gevoel ook in die konferensiesaal hê. Ek glo elke vrou het ’n showgirl in haar. Jy moet haar net laat uitkom.
 
8. Ashley, toe jy vir Kas wou uitstem het dit gelyk of jy vir ’n oomblik gehuiwer het. Toe Charlie vir jou op die eiland kom kuier het, het hy jou gehelp om te besluit wat om te doen?

Hy het. Om vir Kas te stem, was een van die moeilikste dinge wat ek op die eiland moes doen. Toe ek en Charlie gaan stap het, het  ek vir hom gesê ek weet nie wat om te doen nie. Hy’t my herinner ek het eiland toe gekom om te wen en ek moet doen wat ek moet doen om te wen. Dít was my antwoord. Kas was my grootste bedreiging. Ek moes hom uitstem.
 
9. Wat is die grootste les wat julle uit Survivor geleer het?

Ashley: Ons onderskat hoe veerkragtig ons is. As ons net die deursettingsvermoë het, kan ons enigiets doen.

GiGi: Ons kan nie sonder ander mense bestaan nie. Ek het ’n sterk drang gehad om deel te voel van die stam. As mense agter ’n boom gaan fluister het, het ek gedink hulle praat oor my. Om deel te voel het my gerusgestel; om verwyderd te voel, het my ontstel.

  • Hanna Schreiber

    Ashley moet wen, sy het die spel baie oortuigend gespeel. Baie goeie strategiese beplanning.

  • Stella

    Mooi so Ashley, jy het die spel presies reg gespeel – dis waaroor die hele ding gegaan het – om die ander te uitoorlê. Ek hoop jy wen want jy is die enigste een wat die spel reg gespeel het. En die wat kerm oor die maniere waarop dit gedoen is : jammer om te hoor.

  • Heila

    Ek het vir GiGi gestem maar na ek gelees het waarvoor sy die geld wil aanwend het ek beslis my stem verander na Ashley – nou ondersteun ek haar ten volle want tenminste wil sy die lewe van ander kinders gemakliker maak en nie nog meer vroue tot seks-objekte verlaag nie…

  • Annelise

    Ashley ek was ook aan die begin vies omdat jy almal gemanipuleer het maar soos die reeks gevorder het het ek besef dat jy net die "game" speel en het jy dit uitstekend gedoen! Jy het definitief my "vote!"

  • Erica Badenhorst

    ASHLEY die mense wat jou so afbreek het duidelik nie n idee waaroor dit eintlik gegaan het nie, jy was mos nie op Surviver vir om te wys hoe eerlik en oulik jy is nie, jy was daar om te wen en te doen wat nodig is om te wen, en as dit mos nou beteken jy moet konkel en in die rug steek dan is dit nou maar so!Ten minste het jy die spel gespeel, die beste ooit! Ek hou van Gigi maar sy is deur jou waar sy is en definitief nie omdat sy n goeie spel gespeel het nie. Hou jou kop regop, die dommies wat dink jy is agterbaks en gemeen versteen blykbaar nie dat jy eintlik net puik was in jou rol nie.Jy verdien om te wen, en as jy nie wen nie weet jy is die eintlike ULTIMATE SURVIVER!