Ons praat met

AGTER DIE SKERMS op die stel van Nataniël se nuwe TV-program

Vanaand om 20:00 sal die eerste episode van Edik van Nantes uitgesaai word op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit is Nataniël se splinternuwe TV-leefstylreeks wat hy en sy broer, Erik le Roux, aanbied. 

“Die ervaring in Nantes het nie net aan al ons verwagtinge voldoen nie, die hele span was reg om te emigreer!” Om in ’n beeldskone stad te bly en elke dag in ’n eeue oue dorpie, Pont St Martin, bestanddele te gaan kry en dan die res van jou dag op ’n verlate plaas deur te bring, is iets wat ons net in rolprente sien, maar dit bestaan en het met ons gebeur, vertel Nataniël in die Oktober-uitgawe van SARIE.

FOTO: Lyn Kennedy

FOTO: Lyn Kennedy

“Soos alles waarin ek glo, gaan die reeks oor eenvoud. Vars bestanddele, goeie geselskap en ’n bietjie verbeelding. Die Franse lewe vir hul maaltye en doen ongelooflik baie moeite. Hier (in SA) jaag ons agter ander goed aan. Dit gaan oor balans. Jou lewe en jou familie is baie belangriker as jou loopbaan of wat die res van die wêreld van jou dink. En jy hoef nie oorsee te wees om ’n gehaltelewe te hê nie. Dit verg net ’n bietjie moeite, maar dis die moeite werd.”

Blaai deur die agter-die-skerms foto’s wn raak solank verlief op Nantes:

Aan’t skiet aan Episode 1 op die plaas.

Ons maak gereed om te skiet in Nantes se beroemde Kasteel van die Hertoë van Bretagne.

In dié straatjie reg in die middel van Nantes is een van die beste kombuiswinkels waarin ek nog was. Ek het al teruggekom met tasse vol servette en kombuisdoeke uit dié winkel. (Die naam kan ek nie uitspreek of onthou nie, ek weet net dis waar die man elke dag staan en akkordeon speel.)

Die brug na ’n Middeleeuse kasteel in die stad. Volgens oorlewering was die grag glo nooit gevul met water nie, maar wel met wolwe. Regs
agter is die vreeslike mooi katedraal wat ’n paar weke gelede verwoes is in ’n brand. Tipies van die Franse het restourasie reeds begin.

Die pad na die plaas.

Die toring van die koekiemuseum. Die LU-koekies (die stad se beroemdste uitvoerproduk) is vroeër hier gemaak. Ek is mal oor die gebou, dis deesdae die Nasionale Kunssentrum, met boekwinkels, kunsgalerye, restaurant en teater.

Verby hierdie kerk het ek elke dag gestap. Dis reg langs die stadsplein en net oorkant is ’n winkel wat die ongelooflikste papierkuns verkoop. Al die kerke en katedrale is sewe dae per week oop vir almal. Ek wens dit was so in ons land.

Die Loirerivier vloei reg deur die middel van Nantes.

Die Nantes-olifant is seker die stad se bekendste attraksie. Elke kind het die voorreg om met hierdie wonderlike ding groot te word. Hy loop elke dag langs die rivier en maak bome nat met sy slurp. Daar is nog ander reusemarionette en elke paar weke word ’n optog deur die stad gehou. Die geselskap wat hulle bou, Les Machines, het ons toegelaat om een dag op hul perseel te skiet.

Hierdie uittreksel kom uit die Oktober-uitgawe van SARIE en is ongelukkig nie meer beskikbaar nie. Laai dit HIER af om die volledige artikel te lees.

ZZZ

Lees nou