FOTO IAAF

FOTO IAAF

Ons praat met

Atleet Caster Semenya fokus nou op 800 m

Caster Semenya is terug! Saterdag op Stellenbosch het die voormalige wêreldkampioen by die Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskap die 400 m, 800 m én 1 500 m gewen.

Semenya het eers die 400 in 50,76 sekondes gewen en daarmee die vierde vinnigste Suid-Afrikaanse vrou tot nog toe in dié item geword, berig Netwerk24.

En nie eens ’n uur later nie het die 25-jarige atleet van Potchefstroom die 800 m onder 2 minute gehardloop. Later die dag het sy sommer ook die 1 500 m gewen.

FOTO: IAAF

FOTO: IAAF

Caster sowel as haar afrigter, die oud-Springbok Jean Verster, was verras oor die uitstekende tye.

“Ons wou eintlik net die 3 titels wen en moontlik in die 400 ’n beste tyd hardloop. Ek dink een ding lei tot ’n ander en toe die 400 so goed verloop, het dit haar sommer positief gemaak vir die res! En sy het net gehardloop. Die tye het self gekom. Sy het dit geniet en net haar beste gedoen sonder om spesifiek vir tye te mik,” het Jean aan SARIE.com vertel.

Vir Caster-hulle was dit ’n lang proses sedert einde 2014.

“Ons moes haar eers weer beseringvry en fiks gekry het. Maar ongelukkig het ’n klein besering hier en daar veroorsaak dat sy nie baie in Europa deelgeneem het nie. Sy het nie voorbereid by die wêreldkampioenskappe in Beijing aangekom nie.”

Haar deurbraak het  vanjaar eers gekom, verduidelik Jean.

“In 2016 het ons net bly werk aan haar spoed-uithou en krag-uithou. En ook haar spoedwerk!”

Maar al het die ystervrou in al drie items koning gekraai, gaan sy nóú net op die 800 m fokus vir die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro .

“Sy sal net aan die 800 deelneem, aangesien die kompetisie by ’n Olimpiese Spele baie straf is, reg van die uitdunne af. Dit vind ook oor ’n hele paar dae plaas.”

Kyk net hoe het sy Saterdag die 800 m gehardloop!

- In 2012 het Caster ’n silwermedalje by die Olimpiese Spele in Londen gewen.

Blitsige Wayde

Nes Caster het die wêreldkampioen Wayde van Niekerk ook Saterdag die 400 m gewen. In SARIE se Mei 2016-uitgawe het dié Bloemfonteiner met Lydia van der Merwe gesels.

FOTO: Facebook

FOTO: Facebook

Hy is die enigste atleet in die geskiedenis wat kampioentye* in die 100, 200 én 400 m kon opstel. Almal beskryf hom as die man van die oomblik, maar hy fokus nou net op een ding, sê hy: ’n goue medalje in die 400 m by die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro vanjaar.

Hoe voel jy oor jou prestasie onlangs by die Vrystaat-kampioenskap in Bloemfontein, waar jy die 100 m in 9,98 sekondes kafgedraf het?

Dit was van kleins af ’n droom om die item in minder as 10 sek. af te nael. En nee, ek gaan nie voortaan daarop fokus nie. Dit was net deel van my spoedwerk vir die Olimpiese Spele.

Jy was so uitgeput toe jy verlede jaar by die Wêreldbyeenkoms in Beijing die 400 m gewen het, jy is vir waarneming in die hospitaal opgeneem. Wat het jou daardie laaste paar treë in die pylvak gedra?

Alles gebeur so vinnig . . . die laaste 100 m het ek besef ek is voor. En toe het ek myself net gedruk om voor te bly!

Met jou gene was daar seker altyd net een rigting?

My ma, Odessa, was op haar dag ’n uitstekende naelloper en het ook hooggespring. My pa, Wayne, was ’n hoogspringer. En ekself: As ek reg onthou, het ek as junior 2,06 m gespring. My ouma, oupa, ooms, tannies . . . sport “loop” sterk in my familie.

Talent is nie genoeg nie. Wat het jy wat jou een van die vinnigste 400 m-atlete in die geskiedenis maak?

Ek glo God het my die talent gegee en ek moet net my kant bring. Ek is toegewyd, positief. Ek respekteer die mense om my en probeer ander help waar ek kan.

Vir die volledige onderhoud kry die nuutste SARIE, nóú te koop!

MEI 2016 Voorbladgesig