img_4305
Ons praat met

Avonturier Riaan Manser baardloos ná 7 jaar

‘n Skeermesvervaardiger (Gillette) het een van die meisies wat vir hom werk, gebel en gevra of hy nie bereid sal wees om die gesig van die Fusion ProGlide-skeermes te wees nie.

“Wanneer mense sê ek is ‘n Suid-Afrikaanse held, dan dink ek dikwels ‘stories, stories’ . . . maar as iemand vir jou só iets vra, dan voel jy asof jy iets doen wat vir ander iets beteken. En daar skeer ek toe alles af. Nou voel dit asof ek meer as 180°-visie het. Dis asof die baard altyd iets uitgeblok het.

“‘n Baard laat jou manlik voel. Ek is nie fancy-schmancy nie. Kyk hoeveel mans het baarde. Ons is maar soms simpel. As jy in die spieël kyk en jy sien ‘n baard, voel jy manlik. Maar hierdie is ‘n nuwe hoofstuk vir my. En daardie skeermes is ongelóóflik.”

Riaan Manser en Dan Skinstad
Riaan met ‘n baard….

Riaan het die Argus aangepak op die bergfiets (40 kg swaar!) waarmee hy in 2003-’04 om die Afrika-vasteland gery het – 37 000 km deur 34 lande!

Hy weet nog nie wanneer die skeermes-advertensie verfilm word nie. Dit sal waarskynlik eers ná die Twee Oseane-halfmarathon wees. “Maar ek is nog nie seker of ek daaraan gaan deelneem nie. Ek het net nie tyd om te oefen nie.

Ek wil nou nie tough klink nie, maar die Argus se erge hitte het my nie gepla nie. Iemand het glo gesê dit was 42 °C naby Houtbaai, maar gelukkig het ek dit nie geweet nie . . . Ek kon nóg aanhou ry en ek hóú van heuwels. Toe ek in Oktober 2004 in die Soedan fietsgery het, was ek heeldag lank in temperature van 46 °C en ek het sowat 140 km/dag gery. Ek het die Argus geniet.”

Dit is vanjaar die tweede keer dat hy die Argus voltooi en hy het dit in net meer as ses uur gedoen.

“Die aand voor die Argus het ek en Vasti spaghetti bolognaise geëet en vroeg gaan slaap. Ons woon op Bettysbaai sowat 1¼ uur van die Kaap en het al vieruur opgestaan en vyfuur gery om betyds in die Kaap te wees om teen agtuur te kon wegspring,” vertel hy.

Vasti het saam met hom gery. “Sy skrik nie vir heuwels nie.”

Ná die Argus het hulle op Somerset-Wes fees gevier met ‘n Four Seasons-pizza. “Ek is mal oor enigiets met pynappel in.”

Opgee is nooit vir hom ‘n opsie nie, vertel hy. “Wees eerlik met jouself as jy iets besluit. As jy halfpad ín ‘n ding is en jy sien nie meer kans omdat jy swaarkry nie, dan het jy nie die regte besluit geneem in die begin nie. As ek sê ek gaan iets doen, hou ek aan tot ek sterf. Daar ís nie ‘n opsie B nie.”

Tien jaar gelede, toe Riaan besluit het om allerlei avontuurlike dinge aan te pak (die kajakreis van 5 000 km om Madagaskar in 2009, 2 300 km om Ysland in ‘n dubbelkajak saam met sy vriend Dan Skinstad, wat gedeeltelik serebraal verlam is . . .) het hy besef die ergste scenario van sy “nuwe lewe” is dat hy goeie en vermaaklike stories vir sy kleinkinders sal kan vertel.

“Vandag is ek só bevoorreg. Ek het al soveel interessante mense ontmoet, lande gesien, mense dink ek doen iets waardevols, ek leer myself ken  . . . Ek bedel nie meer vir my huishuur nie. As ek motiveringspraatjies hou vir suksesvolle sakelui, dan besef ek die ryk ou wat ‘n Ferrari begeer, wil ook net hê iemand moet hom liefhê. Almal begeer geluk en soek eenvoud – mense wat hom respekteer, ‘n gesin, hy wil hê iemand moet hom eendag vir iets besonders onthou.”

Intussen is Riaan al weer besig om te werk aan ‘n nuwe avontuur. Al wat hy hieroor sê, is: “Dit gaan 100% iets nuuts op televisie wees . . .”

  • Amia

    Wonderlike mens, die Riaan, ‘n ongelooflike rolmodel. Baie seën vir alles wat jy beplan!

  • Annelene Crafford

    Ek bewonder jou moed, geesdrif, positiewe uitkyk op die lewe, en jou uithou vermoe en dan is jy boonop ‘n lus vir die oog! Ek wonder partykeer waar kry die man die krag vandaan om al sy bomenslike avonture aan te pak, ongelooflik! Voorspoed vorentoe met alles wat jy nog beplan!

  • christelle

    Jy lyk stunning sonder jou baard!!! you go !!