my_fav_of_me_and_boys
Ons praat met

Bang-Bang Club-fotograaf se vrou praat

Monica, wat deesdae in ‘n woud van 12 ha in Queensland, Australië, woon en as Engels-onderwyseres (vir volwassenes en kinders) werk, het al báie tragedies oorwin.

Haar eerste man, die befaamde fotograaf Ken Oosterbroek van die Bang-Bang Club, is op 18 April 1994 tydens skietgevegte tussen die weermag en ANC-ondersteuners in die townshipThokoza naby Johannesburg dood. Haar tweede man, Idols-fotograaf Steve Hilton-Barber, is in 2002 aan ‘n hartaanval dood en hul baba Benjamin is op 16 maande, 11 maande ná haar man, dood weens komplikasies ná ‘n breukoperasie.

Hierna is sy na Australië om by haar suster te gaan kuier. Sy het bedank as kantoorhoof van die tydskrif Fairlady in Johannesburg en het besluit om daar aan te bly.
 
In ‘n eksklusiewe onderhoud gesels sy per e-pos met Marguerite van Wyk oor haar nuwe lewe daar en oor wat sy dink van die Bang Bang Club Movie wat op 29 April in Suid-Afrika uitgereik word.
 
Hoe ervaar jy Australië?

Dis verruklik beige. ‘n Tikkie vervelig. Maar ek dink nie ek het die energie of die geduld om meer in Suid-Afrika te leef nie. Die lewe in Australië is báie maklik. Ek het Yannik (6) ‘n jaar ná Benjamin se dood gehad en Soren (5) nog ‘n jaar later. Ek is eerstens ‘n ma en ek wy my hele lewe aan my twee seuns. Hulle is pragtig en baie slim en wild! Ek is getroud met ‘n beeldhouer – ‘n lieflike stil en rustige ou. Hier voel ek tuis, want hier woon so baie Suid-Afrikaners.

Het die regisseur van die Bang Bang Club, Steven Silver, jou ooit geraadpleeg voor die fliek gemaak is?

Nee. Ek is skynbaar uitgebeeld as Ken se goedkoop en sletterige meisie in die fliek. Ek het ook nie van die boek waarop die fliek gegrond is [geskryf deur Greg Marinovich en Joao Silva, twee van die ander lede van dié klub], gehou nie. Mense gaan dink dít is wat gebeur het en dit is ver verwyderd van die werklikheid.

Ek dink ook dit is oneties dat hulle oor Kevin Carter (die vierde lid van dié klub) se dwelmprobleem in die boek praat. Hy is nie hier om homself te verdedig nie. [Carter het in 1994 selfmoord gepleeg.] Om geld uit iemand anders se probleme te maak as dit geen doel dien nie – slegs uit sensasiebelustigheid – is nié reg nie.

Dink jy nie tog dié rolprent vereer die Bang Bang Club en hul pogings om die finale dae van die apartheidsregering te probeer uitbeeld deur middel van hul foto-vertellings nie?

Moenie belaglik wees nie. Dit is eerder ‘n geval dat hulle as hartseer, oppervlakkig en laf uitgebeeld word. Ek glo Greg en Joao is waarskynlik verbysterd oor hoe ver verwyderd die rolprent van die werklikheid is. Ek verstaan hulle is ook ongelukkig oor hoe die fliek uitgedraai het.

Die boek stem glad nie ooreen met wat ek onthou van daardie tye nie. Kyk, ek besef ‘n liggewig, vrotsige fliek behoort geen aandag te kry nie, maar ek is steeds menslik, so natuurlik maak dit my seer dat Ken se meisie [Monica] as seksmal uitgebeeld word! Ek weet mense wat my ken, weet wat die waarheid is. Maar ongelukkig sal die boek en die fliek langer leef as wat die mense daarin sal. Maar die publiek sal dink dis ‘n dokumentêr wat op feite gegrond is.

Ek wens ek kan ‘n rede kry om die rolprentvervaardigers te dagvaar. Ek voel asof ek deur dié rolprent verkrag en asof Ken se nagedagtenis vervuil is. Ek is kwaad dat ek nie net dankbaar kan wees dat ek lewendig is, die tragedies oorleef en twee pragtige kinders het nie. Maar eintlik wil ek net hê die fliek moet weggaan . . .

Wat moet die wêreld wéét van die Bang-Bang Club?

Die Bang-Bang Club is geromantiseer en daar is baie sensasie rondom dit. Dit is ‘n klap in die gesig van miljoene mense wat geleef, gewerk en oorleef het in Suid-Afrikaanse townshipsin daardie gevreesde en desperate tye. Dit was tye waar baie mense nie saans na cushy huise teruggegaan het nie, en jong, wit adrenalien-junkies wat opgewonde rondgejaag het, drama opgeslurp het . . . En mense wat koerante gekoop het en bloot die feit ondersteun het dat dood en vernietiging verkoop.

Ek is sélf só skaam oor my ydel en hooghartige houdings jeens die  joernalistiek. Alles het oor mý gegaan. Soos met so baie van die media om my. Almal het ná ‘n lang dag se werk teruggesit by die huis en begin spog oor hul naby-dood-ervarings. Die een joernalis wou ‘n beter storie as die ander een vertel. Hoe meer dood en moord, hoe gelukkiger was almal. ‘n Dag sonder dood en chaos was vervelig en hartseer. Ons was almal siek en aaklig. O, ons ydelheid, ons geblêr oor dit ons plig is om die nuus te vertel soos dit ís. Asof die wêreld nie kon bestaan as ons nie persoonlik ander mense se lewens ontbloot het nie. Asof ons regtig ‘n verskil gemaak het. Ons het waarskynlik meer dood veroorsaak omdat ons stories die nuus gehaal het!

Ons as joernaliste en die fotograwe was nie helde nie. Ons was bloedsuiers en flikflooiers.

Die Bang-Bang Club het nie eintlik oor enigiets anders as hul ego en macho beeldomgegee nie. En natuurlik geld. Dis hoekom Greg en Joao hul sensasionele en vreemde boek verkoop het. Ek het baie kontak met Joao en sy vrou, Viv, en natuurlik respekteer ek hom ook. En ek is ontsettend hartseer dat hy beseer is toe hy op ‘n landmyn getrap het tydens patrollies met Amerikaanse troepe in Kandahar, Afganistan, en sy onderbene verloor het. Maar is hy ‘n held? Is dit reg om te gaan geld maak in ‘n oorlog waarby jy geen belang het nie as jy twee klein kindertjies het en ‘n vrou wat jou liefhet?

Die wáre held deur alles in Suid-Afrika was Robin Comley, die destydse fotoredakteur by The Star. Sy het ons almal bymekaar gehou, raad en ondersteuning gegee. Sonder haar sou die hele mediawêreld nóg meer immoreel, aaklig en chaoties gewees het. Sy verdien soveel meer krediet!  

Watter soort mens was Ken?

Konserwatief en versigtig hoe hy die lewe benader het. Hy het dinge deeglik deurdink. Hy het altyd seker gemaak dat ek nie simpel dinge aanvang nie en dat ek veilig is. Ek raak baie skaam as ek dink hoe simpel en afwyserig ek dikwels was en in die townshipsrondgehardloop het – onsensitief en ongeskik. ‘n Adrenalien-verslaafde en egosentries. Maar ek dink Ken het werklik gedink hy doen iets belangriks, edel. Dit was nie altyd maklik vir hom om hom te bekommer oor my, sy werk en my gekke buie nie, ons passievolle liefdesverhouding, die eise wat ek aan hom gestel het nie. Ek was nie maklik nie. Mega high maintenance. Ken was baie geduldig en toegewyd. Hy was kompleks en eksentriek. Hy was ‘n alleenloper en ons was baie afgesluit van ander. Ons het saamgewerk, bykans elke oomblik van die dag. Daar was nie baie plek vir ander mense in ons verhouding nie.

Hoe hanteer jy deesdae die nuuswêreld?

Ek is lid van die Bahá’í-geloof. Ons glo nie in skinder of skandale nie en ek voel dit is wat nuus en nuusfotografie deesdae behels. Ek verkies om daarvan weg te bly, tensy dit ander kan help. Ek voel ongelooflik hartseer vir Kevin en Ken se families – hul geliefdes se nagedagtenis is omding deur sensasie, suiwer vir ander se verryking. Die fliekmakers behoort hul te skaam. Klein, simpel mannetjies wat ‘n simpel, klein fliek gemaak het. Hoe ontsettend hartseer en kortsigtig.

  • Elmarie

    Monica, jy het pragtige kinders! Bly jy kon geluk vind. Hoekom skryf jy nie die storie nie? Dit sal terapeuties wees vir jou en ek is seker dit sal die wereld aangryp. Sterkte vir jou & jou gesin.

  • Jenny

    Ek stem saam, Skryf jou storie dat jy die onreg kan regmaak. Baie sterkte

  • Jaco

    Ek verstaan haar uitgangspunt, maar wil net noem dat haar opinie oor die fliek gemaak is voordat sy dit self te siene kon kry. Persoonlik het ek die fliek – oftewel die uitbeelding van die werklike gebeure wat deur die Bang-bang Club op film verewig was – heel geloofwaardig gevind. Aan die ander kant voel ek ook dat dit totaal onnodig was om die viertal se meisies as losserig uit te beeld…dit was suiwer vir die almighty dollar.