0012
Ons praat met

Barry Hilton

In die nuutste Savanna-advertensie op TV staan die kroegman en tokkel op sy kitaar. Die apie op sy skouer spring af en steel die ou by die kroegtoonbank se drankie. Waarop die klant vra: “Do you know your monkey stole my Savanna?” En die kroegman antwoord: “No, but if you hum it, I’ll play it.” As jy nog nie die Savanna-advertensies met komediant Barry Hilton gesien het nie, kyk jy seker nie televisie nie. Van vandag (3 April) af is hy ook landwyd in rolprentteaters in ‘n nuwe komedie, Finding Lenny, te sien. Liesl Roodt het hom ‘n paar vrae gevra.

Was jy nog altyd snaaks, ook op skool?
Ja, maar meer tussen vriende, aangesien ek eintlik baie skaam is. Dis iets waaraan ek moes werk, want dis moeilik om suksesvol te wees as jy skaam is.

Wanneer is mense vir jou snaaks?
Wanneer hulle natuurlik optree. My kinders is vir my baie snaaks. Ook my vrou, want sy dink heeltemal anders as ek. Sy kom soms met die vreemdste goed vorendag en ek is meer as een keer ‘n dag byna histeries van die lag. Ek is absoluut mal oor haar. Sy is die wonderlikste ding wat nóg met my gebeur het.

Word jy gereeld herken en voorgekeer vanweë jou rol in die Savanna-advertensies?
Heeltyd. Maar deesdae word ek ook voorgekeer vir Finding Lenny. Mense sê hulle kan nie wag om die fliek te sien nie.

Gebeur dit dikwels dat mense jou dan sommer vir ‘n drankie nooi?
Mense nooi my gereeld vir ‘n braai of vir ‘n drankie. Dis vir my ‘n groot eer, maar ek bestee graag tyd saam met my gesin.

Is die rol in Finding Lenny jou eerste as akteur?
Dis die eerste keer dat ek in ‘n fliek speel, maar eintlik bestaan elkeen van my optredes as komediant uit mikro-toneelstukke.

Is dit vir jou moeiliker om ‘n akteur te wees as ‘n komediant?
Dis eintlik maar dieselfde. Net die eerste dag was ek skrikkerig. Daarna was dit net lekker.

Wat het jy die meeste geniet terwyl die fliek gemaak is?
Die ervaring. En die pret wat ons op stel gehad het. Ek haat dit om ná optredes na myself op DVD of video te kyk, maar ek het dit geniet om myself in Finding Lenny te sien, want dis nie Barry Hilton nie, dis iemand anders. Dit was ook vir my ‘n voorreg om saam met Russel Savadier te werk, hy is ‘n wonderlike akteur.

Wat is die boodskap van die fliek?
Dis ‘n goedvoel-fliek met die boodskap dat elke donker wolk ‘n silwer randjie het – daar is altyd hoop, maak nie saak hoe erg dinge lyk nie. Fliekgangers sal kan identifiseer met die tema, aangesien hulle, as Suid-Afrikaners, in die verlede struikelblokke oorkom het en nou saam aan ‘n beter toekoms werk. Finding Lenny laat jou trots voel dat jy ‘n Suid-Afrikaner is en positief dat mense moet saamwerk om verandering, voorspoed en geluk teweeg te bring. Soos een van die inbellers na ‘n Xhosa-radiostasie, wat die fliek vooraf gesien het, Saterdagaand gesê het: “Jy loop by die fliek in met ‘n spesifieke velkleur en stap uit as ‘n Suid-Afrikaner.”

*Lenny Vincent hoor sy lewe lank “alles gebeur vir ‘n rede”. En hy begin dit glo. Wanneer hy as afrigter van St. Benedicts se o.11B-sokkerspan afgedank word, “gebeur alles vir ‘n rede”. Ook wanneer hy as sportskrywer by ‘n plaaslike koerant afgedank word. Maar wanneer sy vrou van 19 jaar hom ‘n paar uur later los, stel ‘n vriend voor hulle gaan verdrink hul sorge in ‘n deftige restaurant. Lenny dink nie dinge kan slegter gaan nie, maar dan word die restaurant deur mans met AK47’s beroof – dalk nie die beste tyd om die rowers sonder omhaal van woorde te vertel wat jy van hulle dink nie. ‘n Kar se kattebak op ‘n grondpad kan nogal ‘n eensame plek raak, met baie tyd om te dink. Indien alles “vir ‘n rede gebeur”, het iemand baie om te verduidelik!

*Besoek www.barryhilton.co.za of www.findinglenny.co.za vir meer.