sr1203_hoofself
Ons praat met

Bekende SA aktrise maak dekorwinkel oop

Ná baie jare van draaiboeke skryf vir reekse soos Generations (waar sy soms 250 episodes in ’n jaar moes uitdink!), die gewilde Erfsondes (reekse 3, 4 en 5) op SABC2, Hart van staal, ’n novelle vir kykNET, en vier jaar as ’n regisseur van die M-Net-sepie Binnelanders, geniet sy elke oomblik in Amulet, haar dekor-en-geskenkwinkel op die Overstrandse dorp Hermanus.

Die ‘ou’ lewe

“Vier jaar gelede het ek en my man, Percy Pretorius, teksredigeerder by Binnelanders, goeie geld verdien. Jana, ons dogter (toe 10), was in ’n Johannesburgse private skool. Alles perfek. Maar ons het gevoel iets is nie reg nie. Ek het te veel gerook, my gesig was afgerem . . .
“Intussen is Elmo, my jonger broer in die Kaap, met breinkanker gediagnoseer. Skielik kry jy nuwe perspektief. Ons het alles verkoop en verhuis na Onrus, naby Hermanus.

“Ek het vier jaar gependel tussen Johannesburg en die see. Percy en Jana het gesukkel om daarby aan te pas, maar dit was vir mý opwindend. Tog, ná ’n ruk raak jy vliegvoos. Jy sien jou man en kind min. In dié tyd is Elmo oorlede en ek was verpletter. Ek moes afvlieg van Gauteng vir sy begrafnis en direk terugvlieg vir werk. Ek het besluit ek wil meer tyd tuis deurbring.”

Winkel-winkel

“Op ’n dag het ek vir die pret ou goed verkwansel by ’n kattebak-verkoping en dit baie geniet. Toe, in 2010, steel Amulet my hart. Dit was te koop en getrou aan my impulsiewe aard het ek vir Percy gesê: ‘Skat, ons koop hom.’
“Ek het nie geweet wat die huur of omset was nie. Percy het gesê as die hordes toesak, gaan hy in die
badkamer wegkruip en net vir hulle sê om die geld op die toonbank te los. Nou plof ons saans gedaan maar tevrede voor die TV neer.

“Ek weet ek het al die sakereëls gebreek en die winkel ten duurste in die middel van die resessie gekoop. Dit was boonop ’n winkel wat nét mooi goed verkoop, waarheen jy kom vir inspirasie, geselskap en goeie koffie. Maar hier kry jy die mooiste once-offs teen ’n fraksie van die stad se pryse . . .”

So Dankbaar

“Ek word soggens wakker met die see wat in my ore ruis. Dan word ek stil en dankbaar vir al die mooi om my. Ek maak ’n punt daarvan om mooi aan te trek en te ‘pas’ by my winkel. Dis vir my die heel mooiste plek in die wêreld. Vandat ek dit gekoop het, loop my kop oor van stories. Ek het al intussen ’n heerlike sitkom geskryf oor gewone mense, want die winkel inspireer my so.

  • Elize Verwaaij-Mare

    Helene, ek weet presies hoe jy gevoel het, ek is nou daar en ek voel ook om alles op te gee, vir ‘n nuwe begin en ‘n nuwe lewe.

    Baie sterkte met jou winkel, ek weet sommer dat dit goed sal doen!

  • Lisa de Meillon

    Was Desember in Hermanus en het by Amulet gaan koffie drink (die heerlikste kaaskoek!!!). BAIE oulike winkel!!!

  • Annelize du Preez

    Ai, ek is baie bly vir Helene, my man het onlangs die hele Vetkoekpaleis reeks gekoop en ons het heerlik gelag. Dis lekker om te lees wat ons gunsteling akteurs en aktrises deesdae doen. Ek wonder wat "Ella" doen, sy was vir my die snaakste karakter in die reeks.

  • corne Lewis

    So bly vir Helene Truter dat sy vir haar ‘n eie plekkie kon aanskaf in Hermanus, sal defnitief inloer as ek in die rigting gaan. Baie geluk met die winkel en ek weet dat jy met dit ook sukses sal behaal want als wat jy aanpak is goud. Nogmaals geluk.

  • Petro Doman

    Ek sal graag by die winkel wil draai … die soort winkels trek my soos ‘n magneet!

  • Amanda Louw

    Ek was in September 2011 by Amulet toe ek gaan walvisse kyk het en kan beaam – dis ‘n bekoorlike winkeltjie met pragtige skatte – moenie dit misloop as julle Hermanus toe gaan nie!

  • Susan Kruger

    Toe ek jou naam sien, toe se ek vir myself dat dit nog net iemand met baie geld is wat n tydverdryf soek. Jammer, ek het baie respek vir jou en dink dat jy n wonderlike mens is. Ek het egter verder gelees en is baie dankbaar dat jy nog steeds die persoon is wie ek admereer en bewonder. Ek is jammer oor jou broer. Dit is baie pynlik. Ek weet, maar jy is wonderlik! Jy is op beste plek wat jy kan wees.

  • Gerda

    Ek beny haar die see. Hier in my wêreld is rus en vrede, blou lug, die wye veld en diere, maar dit moet wonderlik wees om elke oggend met die see in jou ore op te staan. Ek sal gaan kyk wat by Amulet aangaan as ek weer in die Kaap kom.

  • Helene Truter

    Baie dankie vir die wonderlike terugvoer en ondersteuning. Ook aan Sarie vir die lieflike artikel.

  • Dominique Kotze

    Daar is baie mense wat jy en jou gesin beny!! sterkte met Amulet! dit klink ‘n fees!! jammer oor die broer wat oorlede is…..ken die seer, 2 van my broers en my Ma en Pa is binne 9 jaar van mekaar oorlede…….maar met Genade en tyd sal genesing kom……..GENIET ELKE DAG TEN VOLLE!