Ons praat met

Bekende sangeres maak eerste CD op 35-jarige ouderdom

Sy begin binnekort met opnames en dit word op 14 en 15 Desember by die Fugard-teater in Kaapstad bekend gestel.

“Ek het vir iemand gesê om op 35 eers jou eerste CD te maak, voel eintlik na aan aftrede,” lag sy.
Sy voel intens passievol oor dié projek. Dié CD beeld die Spaanse kunslied, die sensuele tango en die hartstogtelike  Zarzuella (vermenging van opera en populêre liedjies in Spaans) uit. Daar is ook klanke van onder meer Kuba, Uruguay, Argentinië, Venezuela en Brasilië.

Zanne word op die klavier begelei deur haar vriendin Kathleen Tagg, wat al die afgelope tien jaar in New York bly. “Drie jaar gelede, toe sy vir ‘n projek in Suid-Afrika was, het ons daaroor begin praat. En sedertdien het ons ge-Skype en ge-e-pos om te beplan aan die CD. Sy voel al soos my ander wederhelfde, só baie het ons gepraat. En dis ‘n ongelooflike musikale ervaring om saam met haar te werk. Ons hoef nie eens vir mekaar te loer op die verhoog nie — ons haal as’t ware saam asem. Ons vóél die musiek. Dis verreweg die show* waarin die meeste beplanning en bloedsweet in my lewe — nog ooit — ingegaan het,” vertel Zanne geesdriftig.

Op die CD en in die show is die verskeidenheid van klanke ryk: die stem, viool, kontrabas en perkussie maak als deel uit van ‘n opwindende musikale Spaanse “musiek-reis”.

“Wanneer ek dié musiek sing, voel ek terselfdertyd baie wild, asof ek wawiele op die verhoog kan maak, kan ontplof, maar dan moet jy jouself ook inhou. Jy kán juis nie ontplof nie… Dís deel van die opwinding. Dít skep die spanningslyn in die musiek. Dis die tipe musiek waarin ek nét myself kan wees.”

Daar is selfs `n “Sarie Marais” – verwerking op Spaans in `n flamenco styl waaroor sy baie opgewonde is…

In Maart 2013 by die Woordfees op Stellenbosch, word haar eerste “klassieke CD” ook opgeneem danksy `n volle borgskap van Standard Bank. Daar sal onder meer Afrikaanse, Duitse, Franse en Spaanse kunsliedere en persoonlike opera-gunstelinge soos “Song to the Moon” uit Rusalka van Dvorak, die Milonga uit Astor Piazzolla se tango-opera Maria de Buenos Aires, die Juwellied uit Faust van Gounnod (haar eerste professionele opera rol ooit) op dié CD wees. Die Universiteit van Stellenbosch se simfonie-orkes sal haar begelei.

Soul of Fire is op 13 en 14 Julie (aandvertonings) te sien by Die Boer in Durbanville en 15 Julie (middagvertoning); navrae@dieboer.com; 021 979 1911; Klik ook by www.zannestapelberg.com