FOTO: Phyllis Green

Ons praat met

Bekendes trap fiets vir liefdadigheid: Bobby vertel

Sanger Bobby van Jaarsveld het besluit om dié jaar vir die eerste keer aan die Cape Argus-padfietsren deel te neem en dit nogal ten bate van liefdadigheid.

Bobby, wat ook al die Midmar-myl in KwaZulu-Natal geswem het, vertel dat as hy sy kop eers op iets sit, hy dit graag enduit deurvoer. Bobby neem saam met die sanger Arno Jordaan, Arno se broer en elf ander fietsryers aan die fietsren deel om geld in te samel vir die bydrae van Cryo-save, ’n organisasie wat stamselle vries en stoor, tot die Grey’s Hospitaal in Pietermaritzburg se pediatriese onkologie-vleuel.

Wanneer het jy besluit om in die Argus te trap?

Arno het my vyf maande gelede gevra of ek die Argus saam met hom wil doen ten bate van Cryo-save. Ek is baie lief vir uitdagings, so ek het dadelik ja gesê. Ek neem nogal sulke besluite baie spontaan. Dis soos toe ek die aand voor die Midmar-myl besluit het om daaraan deel te neem. Ek het dit in 30 minute voltooi!

Oefen jy al?

Ek het nog nie begin oefen nie, maar ek beplan om dié week gim toe te begin gaan. Maar ek weet nie, want ek is nou klaar vandag te besig! Ek het nog niks nie – nie ’n fiets nie en ook nie fietsryklere nie. Ek weet nie eens hoe ver die Argus is nie!

Hoe gaan jy voorberei?

Ek wil maar by ’n paar ander mense hoor hoe hulle daarvoor oefen. Ek het gedink ek sal ’n paar spinning-klasse gaan doen. Arno (Jordaan) sê mens moet so vyf keer ’n week oefen, maar ek gaan mik vir drie keer!

Gaan jou vrou, Annatjie, ook deelneem?

Nee, hulle gaan maar net saam vir die trip. Hulle sal seker vir ons lag!

FOTO: Phyllis Green

Bobby en sy vrou, Annatjie. FOTO: Phyllis Green

Wat motiveer jou om deur te druk daarmee?

Ek is mal daaroor om klaar te maak met goed. Ek dink dit sal baie cool wees om te kan sê ek het die Cape Argus klaargemaak.

Wat dink jy gaan die lekkerste deel wees?

Ek weet nie of daar iets is wat lekker gaan wees nie … Nee, seker om klaar te maak of dalk die dag ná die tyd!

Wat het jou en Annatjie laat besluit om Leben se stamselle te vries?

Ek weet baie mense hou nie van die idee nie en ons was ook in die begin daarteen gekant. Maar dis nie soos kloning nie. En ek dink enige ouer wil net voorkom dat jou kinders eendag deur ’n moeilike tyd gaan. Nou kan ons dit gebruik as Leben of Sion dit dalk eendag nodig kry.

Sal julle dit weer doen?

Definitief!

Bobby en Arno pas hul kinders op. Albei sangers ondersteun Cryo-Save. FOTO: Twitter

Bobby en Arno pas hul kinders op. Albei sangers ondersteun Cryo-Save. FOTO: Twitter

Cryo-Save is Afrika en Europa se grootste stamselbank en gaan ook R5 000 vir elke 5 000 retweets van #CryoSaveC4K op Twitter aan die Grey’s Hospitaal se pediatriese onkologie-vleuel skenk. Dié vleuel is eers verlede jaar geopen en beplan om belangrike toerusting soos hoësorg-beddens met die geld te koop.