alice_krige
Ons praat met

Bekroonde aktrise Alice Krige in SA – sy gesels met SARIE

Marguerite van Wyk het met haar gesels by Sol se One&Only Hotel in die Waterfront, Kaapstad.

Jy lyk ongelooflik vir 56. Slank, jou vel is nog pragtig, waaraan skryf jy dit toe?
Goeie gene. Ek kan nie onthou wanneer laas ek in die gimnasium was nie. Net drie maande verlede jaar toe ek in die toneelstuk Toyer in Londen opgetree het, want ‘n mens het baie stamina daarvoor nodig. Maar dit kos ongelooflik baie om in Londen by ‘n gimnasium aan te sluit. En ek het al in die verlede joga gedoen en hou ook van Tai Chi. Ek drink wyn, maar nie hardehout nie, ek eet óf ‘n kombinasie van sjokolade en koffie óf gestoomde brokkoli en geposjeerde eiers vir ontbyt! En ek hou van baie groente en is nie ‘n vegetariër nie. En ek rook nie.

Vanwaar die naam StringCaesar?
Paul het dekades gelede in ‘n geskiedenisboek gelees dat die Romein Julius Caesar tot op 33 na ‘n mislukking gevoel het. Hy het eers daarna begin blom… Toe trek hy ‘n parallel met tronkbewoners. Baie van hulle voel ook hulle is vasgevang tussen mure (letterlik en figuurlik) en het die potensiaal om te ontwikkel, soos Caesar het, in die laaste twaalf jaar van sy lewe tot en met sy dood op 45. In die kwantumfisika verwys die sg ”string”-teorie na parallelle wêrelde/vlakke van tyd. Die rolprent vertel ‘n

Ek is baie bevoorreg en het die wêreld gesien en met van die beste akteurs in die bedryf saamgewerk. Mense in die toneelwêreld, Hollywood-sterre soos Richard Gere, Geoff Bridges, Nicholas Cage, Michael Douglas, vervaardigers, regisseurs. – Alice Krige

emosioneel gelaaide storie en handel ook oor hoe elkeen van ons ons eie denke in tronke sit en onsself dikwels nie toelaat om te ontwikkel nie. Elke mens wat die fliek sien, kan daarmee maak wat hy wil.

Jy speel die rol van die Pirate King en was ook vervaardiger van StringCaesar. Was dit uitdagend?
Baie. Ons moes borge kry en baie mense was nie oortuig daarvan dat daar ‘n ”storie” is nie. Die rolprent is verfilm in tronke – Pollsmoor in Suid-Afrika, HMP Cardiff in Brittanje en ‘n Brotherhood Penitentiary in Alberta, Amerika. Ons het al in die middel jare tagtig begin met werksessies en navorsing in die Dartmoore-tronk in Engeland vir dié projek. Dit was baie moeilik om in die tronke te verfilm. Dit is ook moeilik om versekering vir die akteurs en toerusting te kry as jy aan só ‘n eksperimentele ding werk. Emosioneel was dit tappend.

Maar uit StringCaesar het ook ‘n liefdadigheidsorganisasie gevloei waarby Suid-Afrika ook gaan baat vind, nè?
Ja, ons is baie opgewonde oor The Turning Point Foundation. Ons wil gevangenes en ook mense op die Kaapse Vlakte en townships help (vóór hulle in die tronk beland!) om hul toneelspel-talent te ontgin. Toe ons die Departement van Korrektiewe Dienste genader het om in Pollsmoor te skiet, het hulle ingestem op voorwaarde dat ons met só ‘n soort projek begin. Ons sal gereeld na Suid-Afrika kom om rou talent te ontgin en werksessies in agtergeblewe gebiede en in tronke aan te bied.  

Op 22 het jy Suid-Afrika verlaat om aan die London Central School of Speech and Drama te studeer. En in 1981 kry jy toe in die West End-produksie van Bernard Shaw se Arms and the Man, die Laurence Olivier-toekennig vir die belowendste nuweling. Wat het dit vir jou beteken?

Ek moes al in soveel ander nasionaliteite se psiges inklim, maar ek is in my hart absoluut Suid-Afrikaans. Onlangs, toe my ouers hul sestigste huweliksherdenking gevier het en ons naby Tulbagh saam met hulle fees gevier het, het ek oor die berge uitgekyk en net besef: Dís my land. – Alice Krige

Dit was vreesaanjaend om so jonk in my loopbaan só ‘n toekenning te kry, want ek het gewonder of ek weer só iets sou kry. En direk daarna (1982/83) het ek by die Royal Shakespeare Company aangesluit, waar ek só moes konsentreer op produksies soos King Lear, The Tempest, The Taming of the Shrew, dat ek my nie juis kon steur aan toekennings nie. Ek moes nét die uitdagings van Shakespeare bemeester . . .

Het jy jou rol as Borg Queen in Star Trek: First Contact (1996), waarvoor jy ‘n Saturn-toekenning in 1997 gewen het, geniet? Dis een van jou min kommersiële rolle . . .
Dit was soveel fun, maar fisiek uitdagend. Dit het sowat sewe uur geduur om die uitrusting aan te trek (dit is aan my vasgewerk en die agterstuk is vasgegom) en die grimering vir Borg Queen het sowat ‘n uur geduur. Om dit uit te trek, het sowat twee uur geduur. Hulle moes baie versigtig wees om nie my vel te laat seerkry nie. (Ek doen doelbewus nie so baie kommersiële werk nie, want dis gewoon nie so interessant soos die ander projekte nie.)

Jy het sielkunde en letterkunde aan Rhodes Universiteit op Grahamstad studeer (drama was maar ‘n ekstra, vir die lekker) en wou as kind ‘n danser word. Is jy bly jou lewe het só uitgedraai?
Ek is baie bevoorreg en het die wêreld gesien en met van die beste akteurs in die bedryf saamgewerk. Mense in die toneelwêreld, Hollywood-sterre soos Richard Gere, Geoff Bridges, Nicholas Cage, Michael Douglas, vervaardigers, regisseurs. Akteurs is gewoonlik baie ”vrygewig”. Hulle weet jy moet jouself oopmaak vir die proses van kreatiwiteit. En dís hoekom ek die afgelope 30 jaar sulke diep konneksies met mense kon maak. En toneelspel gee mens ook kans om soveel denkbeeldige lewens te verken. Soos byvoorbeeld vroue wat die konsentrasiekampe oorleef het/deurgeworstel het.

Is dit waar dat aktrises van 50-plus sukkel om rolle los te slaan?
Ja, ek hou gereeld my asem op. Dinge is wel besig om te verander, maar baie min rolle word eintlik geskryf vir vroue ouer as 35 of veertig. Met Sex & the City het dinge bietjie verander. Maar ek is nie té veel daaroor gepla nie.

Hoe voel dit om nóú ‘n Suid-Afrikaanse karakter te vertolk ná al die jare?
In 2007, toe die rolprent verfilm is, het ek vir die eerste keer in 30 jaar, drié Suid-Afrikaanse karakters vertolk in StringCaesar, Skin en Shingetsu (‘n shingetsu is Japannese musiek en dit gaan oor ‘n gedig oor die volmaan, maar dis ‘n baie interessante projek en ons is nou besig om dit te edit.) Ek moes al in soveel ander nasionaliteite se psiges inklim, maar ek is in my hart absoluut Suid-Afrikaans. Onlangs, toe my ouers hul sestigste huweliksherdenking gevier het en ons naby Tulbach saam met hulle fees gevier het, het ek oor die berge uitgekyk en net besef: Dís my land.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika, ná al die jare?
Ek kom jaarliks my ouers besoek en hulle kom ook vir ons kuier, maar ek mis die vriendelikheid van die mense. As jy in die straat stap en oogkontak maak, sal iemand glimlag. Of selfs met jou gesels in Pick n Pay. Dit is báie uitsonderlik in Londen. Mense wonder altyd hóékom jy daar vir hulle glimlag.

Is daar ooit tyd vir ontspanning in jou lewe?
Ek en my man was jare laas met vakansie. My man sê ek kán nie ontspan nie. Maar ek lees baie, maar nie juis fiksie nie… En ek luister na klassieke musiek. Bach en Beethoven. Ons hou van Leonard Cohen, Bob Dylan. Ek is nie ‘n rocker nie. En ons stap baie met ons hond, Her Serene Highness Miss Daisy Honey Baby (‘n Staffy/Bulterriër kruising). Sy is die slimste, oulikste ding. My man is ‘n uitstekende kok en ek is ‘n baie goeie opwasser. En ek hou daarvan om die huis skoon te maak, dis terapeuties.

Hoe hanteer jy roem?
Ek beskou myself nie as ‘n bekende of ‘n glanspersoon nie. Ek is bloot ‘n werkende aktrise.

Sal jy ooit in ‘n sepie speel?
As die karakter ontwikkel en interessant is, vir seker. Dit sal lekker wees om ‘n gereelde inkomste te hê.

Watter interessate projek lê nou onmiddellik vir jou voor?
Ek begin vandag (Dinsdag 6 Julie) toneel speel in ‘n BBC-reeks, bestaande uit twee dele, genaamd Waking the Dead. Dis ‘n diep, sielkundige drama en tops, soos net die BBC dit kan doen. Baie soos die CSI-reeks wat julle ook sien. Ek het my ma, ‘n sielkundige, se boeke geleen vir navorsing oor die patologie van die karakters.

Jy en Paul is al sedert 1980 saam en in 1988 getroud. Hoekom werk jul verhouding so goed?
Huwelike is ‘n rollercoaster rit... Dit verg reuse-toewyding en daar sit heelwat misterie agter als, maar wanneer dit goed is, is dit regtig fantasties.

Sluit aan by StringCaesar se Facebook-groep

Foto’s!

Sien die fotogalery hieronder vir rooitapyt-foto’s van die StringCaesar-premiere wat bygewoon is deur onder andere Lee-Ann Liebenberg, haar verloofde Nicky van der Walt, Grethe Fox, Michelle McLean en die partytjie-organiseerder (ook van hierdie een!), Colin Cowie.

  • http://odvrawlahqoi.com/ cfmmrflhdxx

    A9dG5K vijegogedwst, [url=http://ivhfrpviycjo.com/]ivhfrpviycjo[/url], [link=http://uwpcxozkpiwx.com/]uwpcxozkpiwx[/link], http://lcujsetdccnj.com/