Ons praat met

60 sekondes met Bertus de Villiers, kunstenaar in 7de Laan

Porteus Xandau, beter bekend as Bertus de Villiers, die obsessiewe skilder wat vir Helena (Jana Strydom) in 7de Laan soveel sorge gee, speel binnekort in die Britse fliek The Endgame saam met spelers soos William Hurt, Johnny Lee Miller (Angelina Jolie se eerste man) en Mark Strong. Marguerite van Wyk het met hom gesels oor sy suksesvolle verhouding, sy rol in The Endgame en opwindende projekte . . .

Hoe het jy dit reggekry om die obsessiewe Bertus teenoor Helena in 7de Laan jou eie te maak?
Bertus, soos enigiemand wat obsessief raak, besef nie dat hy die pad byster is nie. Hy glo sy manewales is bloot normaal. Ek het dus probeer om hom 100% genuine te speel.

In ‘n artikel in Rapport (21 Junie) vertel jy dat dit glad nie so maklik is om in sepies te speel nie. Hoekom nie?
Ek is gewoond aan ‘n mate van improvisasie, waar emosies jou lei en wat ook al gebeur, gebeur. Dít geld vir die verhoog en vir flieks. Sepies is die teenoorgestelde. Dit is rigied, besonder fyn beplan, en as jy rondneuk is jy gou-gou in die sop. Dit was eers moeilik om daaraan gewoond te raak, maar dis lekker. Want ‘n mens leer en groei die meeste as jy uit jou gemaksone is.

Binnekort sien ons jou in The Endgame. Watter rol gaan jy daarin vertolk en hoe voel jy oor dié rolprent?
Ek vertolk die rol van Christo Brand, oud-president Nelson Mandela se bekendste tronkbewaarder terwyl hy ‘n gevangene was. Hulle het mekaar gerespekteer en het ná sy vrylating vriende geword. Ek glo dié rolprent het ‘n goeie doel, en dat dit stadig die wêreldgehoor meer oopkop gaan maak vir flieks wat handel oor Suid-Afrika en ons mense. Dis ‘n aksiebelaaide drama wat gaan oor die einde van apartheid. Dis geïnspireer deur geheime vergaderings wat plaasgevind het in Engeland in ‘n tyd toe almal gedink het ‘n Suid-Afrikaanse burgeroorlog is onafwendbaar.

Hoe het dit gebeur dat jy daarin speel?
Ek het drie oudisies daarvoor gedoen. Die stadige proses van uitskakelings was maar hel en basies ‘n vorm van sielkundige marteling! ‘n Mens moet verstaan kanse soos dié kom nie elke dag nie.

Aan watter ander opwindende projekte werk jy nóg?
Ek swoeg om twee vollengte flieks wat ek geskryf het van die grond af te kry. Die een storie is ‘n satire oor ons land se misdaadkwessie. Die ander een is ‘n aksie-drama wat handel oor die dwelmindustrie in Johannesburg.

Wat is die suksesgeheim van jou en jou meisie van die afgelope vier jaar, Isabella de Villiers, die aanbieder van Flash op SABC3, se verhouding?
Dit mag dalk ”kaas” klink, maar ons albei kom uit Afrikaanse families met soortgelyke Christelike waardes. Meeste mense kyk hierdie fondasies mis en besef nie altyd hoe belangrik dit eintlik is nie. Die feit dat ons albei Rompelstompel as kinders gekyk het, help seker ook!

Wil jy eendag trou en kinders hê?
Ja, graag, maar nou voel ek nog te jonk . . .

Hoekom vind jy jou beroep vervullend?
Ek is mal oor die kreatiewe proses. Dit is vir my ‘n voorreg om in so baie verskillende mense se skoene te kan stap en soveel uiteenlopende persoonlikhede te bestudeer. Van bergies tot moordenaars.

Wat is jou grootste doelwit as akteur?
Kwaliteit bo kwantiteit.