Ons praat met

Besering kelder Vanessa se ‘Survivor’ 2011-kanse

Sy gesels oor haar kameraadskap met Roxy en haar irritasie met MXO.

Hoe gaan dit met jou nekbesering?
Ek moes vir fisioterapie gaan, maar is nou weer oukei. Ek het groot geskrik toe ek my nek in Survivor beseer het, want ek het dit op 17 in ‘n motorongeluk gebreek. Toe ek die kraakgeluid hoor, het ek gedink dit het weer gebeur. Die aaklige herinneringe van die motorongeluk het teruggekom terwyl ek daar gelê het. Die herstelproses was moeilik. Ek moes my twee maande lank rustig gedra en kon in hierdie tyd glad nie oefen nie. Omdat ek mal is oor oefening, was dit baie moeilik.

Wat het deur jou kop gegaan toe jy besef jy’t seergekry?
Ek het nogal skaam gekry. Ek wou nie soos ‘n swakkeling lyk nie, maar ek kon nie help om te huil nie.

Jy het nie ‘n keuse gehad nie: Jy moes die eiland verlaat weens jou besering. Dit moes erg gewees het?
Dit voel asof ek onafgehandelde sake het. Ek wou óf tot die einde gespeel het óf ek wou gehad het Nico moes my vlam blus. Ek was erg teleurgesteld.

Jy en Roxy was goeie vriende op die eiland. Het julle nog kontak met mekaar?
Ons is steeds beste maatjies. Ons gesels so een keer ‘n week en volg mekaar op Twitter. Daar het ‘n spesiale band tussen ons op die eiland gevorm. Ek het baie respek vir Roxy en beskou haar as my gelyke. Sy’s dinamies en ‘n bietjie van ‘n tomboy, nes ek. Sy is nie my ‘skoothondjie’ soos sommige van my stamlede na haar verwys het nie.

Dit het gelyk asof die ander stamlede nie vir jou en Roxy kon verduur nie.
Ek dink hulle was jaloers omdat ons so na aan mekaar was. Dis in die mens se natuur om aanvaarding en kameraadskap te soek. Omdat jy niemand op die eiland ken nie, het jy ‘n spesiale band met iemand nodig om te oorleef. Jy smag na vriendskap, en ek en Roxy het dit gehad.

Jy’t gereeld gehuil. Raak jy maklik emosioneel?
Ek is ‘n sensitiewe mens, vra maar my ma. Daar was een dag wat ek net begin tjank het – die dag toe ek saam met Allison gehuil het. Ek was net moeg daarvoor om dapper te wees. Teen daardie tyd het ek my gesin agt maande laas gesien en ek het geweet ek gaan nie my kêrel sien as ek huis toe gaan nie omdat hy oorsee sou wees. Toe huil ek vir ‘n vale.

So jy het nie toneel gespeel soos Allison gesê het nie?
Nee! Toe Allison begin huil, kon ek nie meer my trane terughou nie. Ek het na my gesin, my hond en my kêrel verlang. Dít is die belangrikste dinge in my lewe. Ek sal nooit ‘maak’ asof ek oor hulle huil nie.

Wat was die moeilikste deel van die Survivor-ervaring?
Die sosiale speletjie, die rugstekery. Ek kan dit nie doen nie. Sindi het nie van my gehou nie en ek weet nie hoekom nie. Sy het op ‘n stadium gesê ek is baasspelerig. Ek het na haar toe gegaan en gesê jammer as ek so voorkom, maar sy het nie belang gestel om dit uit te praat nie. Ek het net gevoel dis kinderagtig en ek is te oud vir sulke nonsens.

Jy het ook nie met MXO oor die weg gekom nie?
Ek het niks persoonliks teen hom nie. Ek verstaan hy is ‘n suksesvolle musiekkunstenaar. Hy het wel geen respek vir vroue nie. Hy’t die hele tyd winde gelos en as ons hom gevra het om dit asseblief nie voor ons te doen nie, het hy die houding gehad van ‘daar is nie ‘n kans nie’. MXO het dit gedoen om ons te irriteer. En by die kamp was hy vol energie, maar sodra ons aan uitdagings moes deelneem, het hy niks gedoen nie.

Dink jy jy sou in elk geval uitgestem gewees het indien jy nie beseer is nie?
Dis onmoontlik om te sê. Die spel van Survivor verander uurliks. Daar kon maklik ‘n bakleiery tussen twee ander stamlede uitgebreek het en dan sou daar skielik nie meer ‘n teiken op my rug gewees het nie. Ek sou tot die einde toe geveg het om op die eiland te bly.