sr1211mysrorie_sandie
Ons praat met

Binneland-aktrise maak oop oor haar seer verlede

Wanneer iets dramaties in jou lewe gebeur, is dit soos ’n klip wat in ’n groot massa water val, sê aktrise Sandi Schultz. “Die impak is groot – die water spat, en dan kring dit uit. Die rimpels hou aan uitkring, dit eindig nooit nie. Maar hoe verder dit uitkring, hoe verder beweeg jy van daardie aanvanklike slag en hoe dowwer en vaer raak die rimpelings.”

Sy praat van verskeie groot traumas en gebeure wat haar gevorm het: As kind, waar sy in die Kaap grootgeword het, is sy twaalf jaar lank deur haar stiefpa gemolesteer; as volwassene deur ’n inbreker in Johannesburg verkrag en later het sy in Amerika gewoon waar sy lank getroud was met John Savage, ’n Amerikaanse akteur, onder meer bekend vir sy rol in The Deer Hunter.

Sonder grimering en in ’n swart sweetpak gaan sit sy op ’n groot leunstoel in haar Johannesburgse woonstel met ’n koppie koffie in ’n blombeker. Elke nou en dan, veral wanneer sy emosioneel raak, slaan sy oor na Engels met nog sterk oorblyfsels van ’n Amerikaanse aksent.

Van buite het dit gelyk na ’n Hollywood-sprokie – om die wêreld te deurkruis saam met jou eie fliekheld, te reis tussen lande, fliekstelle, hotelle . . . Maar dit was ’n gebroke Sandi Schultz wat telkens daar in vreemde lande, in vreemde hotelle, moes uitmaak wie sy is, wie se lewe sy lei en hoe sy haarself gaan genees.

Vandat ek vier jaar oud was, is ek vir twaalf jaar lank gemolesteer. Teen die tyd dat ek agt was, het ek geweet die goed wat gebeur, is nie reg nie, maar teen daai tyd het ek reeds gedink dit was my skuld en ek kon vir niemand sê nie. Dit was vir my ma baie seer en ’n groot skok toe ek haar uiteindelik op 16 vertel het.

Baie jare daarna het ’n man by my woonstel in Yeoville ingebreek en my in die middel van die nag verkrag. Ek onthou hoe ek my ma die oggend daarna van die polisiekantoor moes bel om te sê: Luister, ek’s oukei, maar daar’s iets wat ek jou moet vertel . . . [Haar oë raak vol trane.] Dit was vir my ma baie moeilik dat dit weer gebeur het. Ek kon hoor hoe sy aan die ander kant van die foon ineenstort. Dit was einde 1992 en ek en John was toe al drie jaar lank saam. Ons het ontmoet toe ons destyds saam in die fliek Voice in the Dark gespeel het. Ek was in die aantrekkamer besig om my grimering te laat doen toe hy daar inkom. Ek het hom in die spieël gesien – met sy donkerbril op, en sy skouerlengte krulhare, hierdie blonde hare.

Hy het die wêreld vol gereis om flieks te maak, maar sy basis was vir jare lank by my in Suid-Afrika. Ek was in daardie stadium ’n aanbieder by M-Net en ook my loopbaan het vlamgevat.

Ses maande ná die verkragting is ek saam met hom Los Angeles toe. Dit sou aanvanklik net vir drie maande wees, maar toe ek daar kom, het ek besluit ek wil bly en binne ’n maand was ons getroud.

Vir twaalf jaar lank het ek in ’n plek genaamd Topanga in Los Angeles gebly. Dis tussen Santa Monica en Malibu. Die see was 11 kilometer weg en ons het seker so 40 minute se ry van Hollywood gebly. Ons het heeltyd gereis en ek het so baie Hollywood-sterre ontmoet: Oprah, Al Pacino, Robert de Niro, Warren Beatty, Annette Bening, Jack Nicholson, Marlon Brando,Meryl Streep . . .

Dit was nie ’n lewe wat ek my kon voorstel toe ek nege jaar oud was en saam met plaaswerkers se kinders op Franschhoek skoolgegaan het nie. Ek dink nie daai weergawe van my kon ooit droom dat ek eendag met ’n Amerikaanse akteur sou trou en in Amerika sou bly nie. Dit klink soos ’n sprokie, maar dis net jou lewe.

Daardie hele eerste deel van my verblyf in Amerika was ’n genesingsproses. Die verkragting was net een nag, net ’n halfuur, maar dit het my gedwing om daardie twaalf jaar van my kinderlewe te konfronteer. Vroeër, voor die verkragting, het ek gedink ek’s oor dit, ek’s fine, maar ek was nie. Dit het natuurlik probleme veroorsaak tussen my en my man, veral in ons fisieke verhouding. Ek het nou die dag gedink ek moet hom eintlik om verskoning vra, want ek was so gebroke. Hy het hierdie gebroke persoon gekry toe ons getrou het. En ek dink ek kon nooit heeltemal daar wees vir hom nie, want ek was so besig om my eie trauma te verwerk.

Daar was ook ander probleme waaroor ek nie kan uitwei nie. Dit het my emosioneel so getap dat ek uitgeteer het – ek het seker 49 kilogram geweeg. ’n Ondersteuningsgroep is uiteindelik al wat my gered het. Daardie groep het meer vir my gedoen as enige sessie by ’n psigiater.

In daardie stadium was my en John se lewens so verstrengel dat ek dit nie eens oorweeg het om te skei nie. Maar mettertyd het dit onafwendbaar geword. Die ironie is dat die einde van ons verhouding baie te doen gehad het met die feit dat ons albei beter geword het op verskeie vlakke. Namate ek begin genees het, het ek besef ek het tien jaar lank weggekruip en iemand anders se lewe geleef. Ja, ek het nou en dan daar in Amerika werk gehad, maar ek het nie gedoen wat ek behoort te doen nie – nie met die talent wat ek het nie. Ek het basies gereis na plekke waar hy gewerk het en in hotelle rondgesit.

Toe het ek begin wakker word en gedink wag ’n bietjie, hierdie is nie ek nie, hierdie is nie my lewe nie. Ek het geweet dis tyd dat ek my lewe terugeis. Dit was nie maklik nie. Ek moes van die krans afspring en vertrou daar gaan iets onder my voete wees.

Deel van my genesing was dat ek die hoelahoepel begin dans het – om weer hierdie deel van my liggaam te gebruik [sy wys na haar heupe] op ’n manier wat nie bedreigend was nie. Om vir daardie vierjarige dogtertjie, wat nooit kans gehad het om te speel nie omdat sy so besig was om daardie geheim te bewaar, te sê jy’s veilig, jy kan maar speel. [Haar oë raak weer vol trane.]

Met die hoelahoepel-dans het ek allerhande interessante mense leer ken en toe by ’n professionele vermaakgroep aangesluit. Ons het by partytjies en geleenthede opgetree, onder meer by Sting se verjaardag! Ek het ook begin vuurspeel en dit professioneel gedoen. Dis hoe ek die pot aan die kook gehou het toe ek en John uiteindelik in Oktober 2003 uitmekaar is.

Dit was vir my so lekker om weer onafhanklik te wees en dit was wonderlik om my kreatiwiteit te herontdek. Twee jaar lank het ek gehoelahoepel en gevuurdans en dit was wonderlik. Maar ek sal altyd lief wees vir John en ek dink hy ook vir my. Ons is dalk nie meer man en vrou nie, maar as jy saam met iemand deur groot pyn gaan, bind dit jou vir altyd. Ons was daar vir mekaar deur die slegste tye en ek gaan hom altyd die beste toewens. Ek gaan altyd wil weet waar hy is en wat hy doen.

Ons is eers vanjaar amptelik geskei, want dit was nie vir my belangrik om te skei nie, dalk juis omdat ek nooit iemand was wat wou trou nie, ek het nooit drome gehad van ’n wit rok nie. Ek was 40 toe ons uitmekaar is. Die jong outjies het verskriklik baie van my gehou. [Lag.] Vir ’n ruk was daar ’n paar ouens onder 30, maar toe ontmoet ek gelukkig iemand van min of meer my eie ouderdom. Sy naam is Laszlo Bene en ons het begin 2005 begin uitgaan. Hy’s ’n rolprentvervaardiger en -skrywer. Ek het dieselfde jaar teruggekom na Suid-Afrika. Eintlik was dit net vir twee weke, vir my broer se troue, maar in daardie twee weke het hulle vir my die rol van Jennifer in [die destydse dramareeks] Binnelanders aangebied. Eers sou dit net vir agt maande wees, maar toe’s daar nog ’n reeks en toe word dit ’n sepie, en hier is ek nou nog. Laszlo het agter my aangekom. [Lag.] Nou’t ons ’n huis en twee honde!

Hy wil graag trou, wou nog altyd. Dis steeds nie vir my ’n prioriteit nie, maar ons sal seker noudat ek geskei is. Ek het nooit kinders gehad nie, want vir die grootste deel van my lewe was ek nie dapper genoeg nie. Ek het nie gedink ek sou ooit iemand ontmoet wat ek met my kinders sou vertrou nie. En toe ek uiteindelik verby daardie stadium kom, toe gebeur dit net nie. So twee of drie jaar gelede het ek ’n miskraam gehad. En nou is ek 48 . . . Ja, dit sou wonderlik gewees het, maar daar’s so baie behoeftige kinders in die wêreld.

Is ek gelukkig? Ek wil altyd uit [die verhoogstuk] Waiting for Godot aanhaal as ek dié vraag hoor: ‘Wat doen ons nou, noudat ons gelukkig is?’ Ek het ’n groot deel van my lewe geluk nagejaag, gedink alles sal oukei wees, want eendag gaan ek gelukkig wees. Nou besef ek jy hoef nie konstant te probeer gelukkig wees nie, jy kan net wees. Ja, ek wonder oor die ‘wat as’ . . . Wat as ek in Suid- Afrika gebly het, wat as ek nie verkrag is nie, wat as ek nie vir twaalf jaar lank met daai geheim rondgeloop het nie? Sou ek ’n skrywer geword het, sou ek my brein gebruik het vir die wetenskap? Partykeer dink ek ek is ’n aktrise omdat ek moes toneelspeel om deur my kinderjare te kom. Ek moes voorgee dat alles oukei is. Ja, dis die dinge waaroor ek wonder.

Maar my molestering en verkragting is nie wie ek is nie. Dis net iets wat met my gebeur het. En dis in die verlede. Dit hoef nie my hele toekoms te kleur nie.

  • anita

    hi op ‘n televisie program het sandy oor haar klere en die klerereeks wat sy ontwerp se naam genoem – waar kan mens dit sien en bestel?

  • Lenie

    Sandi: Ek haal my hoed af vir jou wat deur soveel treurige jare moes gaan. Jy is my gunsteling aktrisie in Binneland, en ook daar kruk jy jou stempel af as n onafhanklike vrou. Jy is n ware voorbeeld vir elke vrou in ons land. Ons lief jou baie baie.

    Lenie du Venage

  • Kaas

    Hi Sandi, kan die draaiboekskrywers nie ‘n stukkie dans / hoelahoepel / vuurspeel in Binneland inwerk nie?
    Ek sal dolgraag jou talent op die gebied wil sien. Is daar dalk iets daarvan op die web beskikbaar?

  • Charline

    Anita, haar klerereeks is Sass

  • Charline
  • trudy

    En aan die getroudes beveel ek-nie ek nie,maar die Here-dat die vrou nie van haar man moet skei nie:
    en as sy tog van hom skei,moet sy ongetroud bly,of haar met haar man versoen,en dat die man sy vrou nie moet verstoot nie.1korinthiers 6 v 10-11….n vrou is deur die wet gebonde so lank as haar man lewe;maar as die man ontslaap het,is sy vry om te trou met wie sy wil,maar net in die Here.sy is egter
    gelukkiger as sy so bly.{ongetroud bly en haar lewe saam Christus deur bring}…..1korinthiers 7 v 39…

  • north face windstopper

    Hello! I could have sworn I’ve been to this website before but after reading through some of the post I realized it’s new to me. Anyhow, I’m definitely happy I found it and I’ll be bookmarking and checking back often!
    north face windstopper http://www.northfacewindstopperclearance.org/

  • Fabiano Nathaneal

    No one can go back and change a bad beginning,
    but anyone can start anything at anytime and create
    a successful ending. So never wait to be happy, you
    will wait forever.If you start to be happy, you will be
    happy forever…..

  • anita

    dankie charline vir die info oor die klerereeks – sy is formidable vrou…en kreatief daarby. nogal iemand om na op te kyk.