ramey short_25rz
Ons praat met

Binneland se dr. Quinton: ‘Nou’s ek ook deel van ‘n gesin’

Vir die eerste keer in sy lewe wag ’n ware familie-Kersfees op die Binneland-akteur Ramey Short, nadat hy soveel jare as weeskind nooit gevoel het hy ‘behoort’ nie . . .

“Ek het nog nooit ’n régte familie-Kersfees gehad nie,” sê Ramey Short. Dis kort voor die feestyd en hy sit op ’n rusbank by die luukse Binneland-ateljee in Randburg. Die aantreklike donkerkop met wie Binneland-kykers ’n liefde-haat-verhouding het weens sy arrogante karakter, wys vandag ’n dapper tog brose kant terwyl hy sy hart oopmaak oor sy lewe.

In die Durbanville-kinderhuis waar hy grootgeword het, het Ramey (32) sommige feestye en verjaardae by vriende se huis deurgebring. “Maar jy voel nooit regtig asof jy iewers behoort nie. Daarom het Kersfees en verjaardae nie eintlik vir my iets beteken nie.”

Hierdie Desember is anders. Vir die eerste keer in sy lewe wag daar ’n familie-Kersfees. Hy beplan om tyd by sy halfsuster, Charlene Boshoff, haar man, Sarel, en hul drie kinders, Bennie (17), Chanay (14) en Dihan (10), in Windhoek deur te bring. “Ons gaan lekker kuier en geskenkies vir die kinders uitdeel.”

Charlene susFOTO: Ramey en sy halfsuster, Charlene Boshoff

Hy smag al na hierdie saamwees sedert hulle twee saam in die kleuterafdeling van die kinderhuis geplaas is toe sy vyf en hy twee jaar oud was. Ons ma was ’n alkoholis. My pa het die pad gevat toe ek nog ’n pap baba was. Die dag voor my tweede verjaardag is ons in die kinderhuis geplaas,” vertel Ramey. “Toe Charlene ses word, het haar biologiese pa haar kom haal. Ek het vandat ek sewe jaar oud was tien jaar lank vir haar briewe geskryf na die adres in Namibië wat die kinderhuis gehad het. Ek het aanhou skryf maar nooit enigiets gehoor nie. Niks. Ek het nie geweet hoekom nie.” In matriek het hy maar opgegee.

In 2009, ’n jaar nadat hy in Binneland begin speel het, het hy ’n Facebook-boodskap
ontvang van Sarel: “Is jy Ramey wat in die kinderhuis was? Jou suster probeer jou opspoor …” “Sy het my op televisie herken. Ná 22 jaar!” sê hy, asof hy dit self skaars kan glo. “Ek het dadelik vir haar e-pos gestuur en ’n paar maande later gaan kuier. Dit was ongelooflik om haar ná al die jare te ‘ontmoet’. Ons het heeltyd foto’s van ons gesigte saam afgeneem om te kyk hoe baie ons na mekaar lyk! Sy kon my nie vir ’n sekonde uitlos nie en ons kon nie ophou gesels nie.”

Later het sy hom vertel sy’t afgekom op ’n pak briewe – sy briewe – wat haar pa weggesteek het. “Ek weet nie hoekom nie. Maar ek gee nie meer om nie. Ek het haar gevind.” Hy glimlag breed. “Vir die eerste keer voel ek: I belong.” Vanweë sy besige dagboek het hy haar en haar gesin twee jaar laas gesien toe hy in September 2011 saam met ander kunstenaars Windhoek toe is vir ’n musiekfees. Daarom sien hy so uit na dié Kersfees wanneer hulle saam gaan wees. Intussen praat hulle daagliks met mekaar. “As ons nie Facebook nie, dan bel of SMS ons. Sy’s net so sportief soos ek. Ons hou albei van flieks. Ek is so lief vir haar kinders, ek sal die wêreld vir hulle gee. Ek het hulle laas
saamgeneem na die musiekfees sodat hulle ander bekendes kan ontmoet en hulle was mal daaroor.” Hy doen deesdae byna niks sonder dat Charlene daarvan weet nie. Wanneer hy op die rooi tapyt verskyn of sommer net uitgaan saam met vriende en dan foto’s op Facebook laai, sal hy haar daarin “tag” dat sy ook daarin kan “deel”, sê hy.

Hul ma, Lynette, is twee jaar gelede aan servikale kanker dood, vertel hy. Sy pa bly in die Kaap, maar hulle het nie meer kontak nie. “Toe ek in matriek was, het hy vir die eerste keer sedert my babatyd kontak gemaak en wou kom kuier. Ek was so kwaad, want hy’t maar twintig kilometer van die kinderhuis af gebly. Ek het tóé gewonder: Hoekom nou?
Hy’t ’n paar verskonings gehad, wat alles nonsens was. “Toe ek klein was, het ek my ma nog party vakansies gesien. Sy’t haar eie verduidelikings gehad oor my pa. As kind het ek haar geglo, maar soos wat jy groter word en die invloed van die drank sien – ek was tien toe sy voor my haar lewe probeer neem het – dan besef jy jy weet nie eintlik wat die
waarheid is nie.” Daarom het hy in matriek besluit hy wil daardie hoofstuk van sy lewe
afsluit, hy stel nie belang in die verduidelikings of verskonings nie. Wil niks meer met sy ouers, of die suster wat nooit sy briewe beantwoord nie, te doen hê nie. “Dit was ’n nuwe begin.”

Al was die kinderhuis-personeel goed vir hom, het hy homself dikwels afgevra: “Hoekom kan ek nie in ’n warm bed slaap met ’n ma wat my saans ’n drukkie gee nie? Wat is die
doel? Jy word as die buitestander beskou, gespot. As iets wegraak by die skool, dink almal jy’t dit gevat.” Wanneer iemand sou diskrimineer teen ’n kinderhuismaat, het hy vir
hom opgekom. Sy toevlug was sport. “Dit was my manier om te wys ek is beter as my omstandighede. Ek het eerstespanrugby gespeel, krieket, atletiek, tennis – álles gedoen.”
Tog het die gevoel van verwerping hom sy hele lewe lank bygebly. “Dit is en bly jou grootste uitdaging.” Hy maak dit nou sy doel om by kinderhuise te gesels, om weeskinders te inspireer deur sy ervarings. “Ander kinders besef nie wat dit is om nie alles net so te kry nie, nie in ’n liefdevolle huis met ’n ma en ’n pa, of selfs net een ouer, groot te word nie. Ek het van kleins af nog altyd gevoel ek wil beter wees as wat die wêreld my gebied het.”

Hy het al op elf geweet hy wil ’n akteur wees. “Ek het foto’s van die akteur Mark Wahlberg gesien en was geïnspireer. Op daardie oomblik het ek geweet.” Toe Wahlberg bekend word as Calvin Klein-onderkleremodel, het Ramey, tóé in matriek en gespierd vanweë sy sport-deelname, ook kaalbolyf-foto’s van homself laat neem en op al wat ’n modelagentskap is se webblad gelaai. Intussen moes hy besluit wat om te studeer. Hy skilder goed, en het kuns of drama oorweeg. “Maar oom Cilliers het aanbeveel ek swot iets waarmee ek eendag kan geld verdien,” skerts hy. Dié “oom”, Cilliers Louw en sy vrou, Lana, ’n skoolvriend se ouers, was kleintyd “die ouers wat hy nooit gehad het nie”. Hy het party naweke en vakansies by hulle gekuier, en hy gaan kuier steeds by hulle op hul plaas wanneer hy Kaapstad toe gaan.

Ramey het vir ’n graad in sport en bemarking aan die Universiteit Stellenbosch ingeskryf. Die meeste van sy vriende was onbewus daarvan dat hy ’n “kinderhuiskind” is. “Ek het dit van kleins af probeer wegsteek. Pêlle kry my jammer en dis die laaste ding wat ek wou hê. Jy ontmoet ’n mooi meisie, maar sodra sy uitvind jy’s ’n kinderhuiskind, verdwyn sy. Ek het keer op keer verwerp gevoel,” onthou hy. Hy het as student sy beste vriend, Gordon Johnston, ontmoet. Sedertdien het Gordon en sy ouers, Flip en Sona, Ramey se “tweede familie” geword en gaan hy nou nog baie vakansies saam na hul Hermanusvakansiehuis.

In sy tweede jaar het ’n Amerikaanse talentsoeker op Ramey se modelfoto’s afgekom en hom genooi om in Los Angeles drama te studeer. Ramey het “op oom Cilliers se aandrang” eers sy studies voltooi en toe dié kans in 2004 aangegryp. Hier het hy ’n jaar lange kursus aan die bekende Vincent Chase-filmskool voltooi. “Ek het saam met bekendes soos Paris Hilton, Shane West, Simon Rex, Michael Dudikoff en Michael
Biehn gekuier. Dit was onwerklik.”

Terug in Suid-Afrika het hy by die ACT-filmskool in Kaapstad gestudeer en in ’n paar internasionale advertensies verskyn terwyl hy as kelner vir sy studies betaal het. “Ek het geleer as ek iets wil hê, moet ek self daarvoor werk – sonder ouerhulp. Maar dit het my geleer om selfstandig te wees, om elke dingetjie te waardeer.” In 2010 het hy sy
debuut gemaak in More Than Just a Game, die amptelike Wêreldbekersokkerfliek. Later het hy ook rolle losgeslaan in 7de Laan, Binneland en Egoli en hy moes een kies. Binneland se aantreklike, arrogante vrygesel dr. Quinton Meyer het gewen – ’n rol wat hy
sedert Maart 2008 vertolk en waarvoor hy onlangs benoem is as beste ondersteunende akteur in SA se eerste Royalty Soapie Awards. Die wenners word vroeg in Maart aangekondig.

Ramey self word dikwels deur sy vriende as “’n bietjie windgat” beskryf, erken hy. “Maar dis omdat ek eintlik net reguit is. Mense sê ek’s ’n bietjie flirty ook. Maar daar’s ’n baie dieper kant aan my. Ek vat nie nonsens nie, as gevolg van my agtergrond. Ja, ek hou partykeer ’n front voor, want ek laat nie maklik mense in my binnekring
toe nie. As ek sien jy’s opreg en ek kan jou vertrou, sal ek jou inlaat.” Hy is die laaste paar jaar, en onlangs weer, deur liefdesteleurstellings, erken hy. “Dis nie meer my agtergrond wat in die pad staan nie. Deesdae weet ek nie of ’n meisie saam met my wil wees omdat ek Quinton van Binneland is en of sy Ramey self wil leer ken nie.”

Binneland het ’n groot rol in sy reis tot aanvaarding gespeel. “Skielik het ek besef mense kyk op na mý as ’n rolmodel. Ek het gevoel: Ek het dit gemáák.” Dit het gehelp om sy vrees vir verwerping te oorkom. “Jy moet jou vrese oorkom om jou drome uit te leef. Nou weet ek hoekom ek moes deurmaak wat ek deurgemaak het. Vandag is ek nie skaam oor wie en wat ek is nie. Dit het my ’n platform gegee om ander weeskinders te help.” Hy vertel altyd in sy motiveringspraatjies aan kinderhuiskinders om in hulself te glo. “Jou omstandighede maak jou sterker. Jy kan enigiets bereik, jy gaan net harder moet werk. Die lewe is nie regverdig nie, maar jy kan kies om nie te gaan lê en jouself te bejammer nie.”

Hy was verlede jaar weer in Amerika om sy droom van ’n internasionale loopbaan na te jaag – en het selfs ’n rol in Grey’s Anatomy losgeslaan. Maar weens werkspermitprobleme moes hy terugkeer. Deesdae het hy nie meer groot Hollywood-planne nie. Nee wat, skud hy sy kop. “Vir my gaan sukses nie oor roem en rykdom nie, eerder of jy tevrede is met jou lewe. Ek is nog nie 100% tevrede nie, want ek wil nog trou en kinders hê. Om akteur te wees is my passie, maar ek wil nie eendag bekend, oud en alleen wees nie. Al wat
ek nodig het om gelukkig te wees, is ’n goeie vrou wat lojaal, liefdevol en opreg is; en wonderlike kinders. Ek dink ek sal die beste pa wees. Ek het baie liefde om te gee en ek sal oor my dooie liggaam toelaat dat my kinders Maar hulle sal ook moet leer om hard
te werk vir dit wat hulle wil hê.”

Hy trek sy asem diep in en laat dit stadig uit. “Dít sal my ultimate sukses wees: ’n liefdevolle gesin van my eie.” Intussen is “Sussie”, soos hy Charlene noem, in sy lewe om raad te gee en hom te ondersteun. En die kosbare feesdae saam te geniet wat hulle kleintyd ontneem is.

 WAT EK GELEER HET

  • Veg altyd vir dit wat jy wil hê in die lewe – al is dit ook soms swaar om die geveg te hê.
  • Moet nooit nee vat vir ’n antwoord nie.
  • Don’t judge a book by its cover. Mense wat dit al met my gedoen het, moes later hul persepsies oor my verander.
  • Kies jou rolmodelle versigtig.
  • Die wêreld is nie regverdig nie en niemand skuld jou enigiets nie. Al voel dit soms so. Die rede hoekom ek so ’n sterk persoonlikheid het, is omdat ek taamlik baie klappe deur die wêreld gegee is toe ek jonger was. Terugslae berei jou voor vir wat later oor jou pad kom.
  • Die lewe is kort. Moenie wag vir goed om te gebeur nie – máák dinge gebeur.
  • Be ballsy! In Hollywood het die agente dit vir my gesê, juis omdat ek nie die normale roete gevolg het nie. Daar is ’n rede hoekom Robert Frost (in The Road Less Travelled) geskryf het: Kies die roete wat vir jou werk – nie omdat dit vir ander mense werk nie.