Ons praat met

Binnelanders se Zadie: “Dít het my ma my geleer”

Sy laat ons gereeld skaterlag as die borrelende Zadie September in die kykNET-sepie Binnelanders. Tog is daar ‘n ernstige kant aan die aktrise Quanita Adams

Hoe word ‘n nederige meisie van die Kaapse Vlakte ‘n bekroonde aktrise wat al wêreldverhoë verken het?
Ek’s een van min mense uit ons gemeenskap wat so bevoorreg grootgeword het. Ek het in ’n polities interessante tyd (die jare tagtig) in Lotusrivier grootgeword. Van die armste mense het in ons straat gebly, en oorkant ons ’n bendeleier en dwelmhandelaar. My ouers, Felicity en Nazeem, was vasbeslote dat die beperkings van ons gemeenskap ons nie terughou nie. Hulle het ontsettend hard gewerk – sy in die klerebedryf en hy met sy eie dekor-besigheid – om vir my en my jonger broer, Tauriq, na private Katolieke skole te kon stuur. My familie is half- Christen, half-Moslem. Ek’t van kleins af geleer om alle klasse en rasse te respekteer. En om my drome na te streef.

Na watter Binnelanders-akteurs kyk jy op?
Ek leer by almal. Ek’s nie ’n baba in die bedryf nie, maar taamlik nuut op stel (ek speel Zadie die afgelope jaar). Ben Kruger het my grootste mentor geword. Hy’s soos ’n pa, en ek sy mal kind! Ons is bevoorreg om soveel sterk vroue- akteurs op stel te wees.

Is dit ‘n uitdaging om as Moslem-vrou sekere rolle aan te pak?
Moslems is baie konserwatief. Jy sal nie sommer ’n Moslem-vrou sonder ’n tradisionele kopdoek (burka) of op die verhoog sien nie. Nog minder een wat kliphard praat en (nagemaakte) bier drink, soos Zadie. My ouers kom dikwels vir my op in ons familie en gemeenskap. Hulle sê ek maak hulle trots, ek maak iets van my lewe. My tannies mag dalk hul oë rek, maar die meeste kyk Binnelanders en woon my verhoogproduksies by!

Watter soort kind was jy?
My ouers sê ek was nog altyd die performertjie. Ek was nog altyd lief vir lees, skryf en teken ook. Een van my sketse, An African Bird, is in die Nasionale Kunsmuseum uitgestal toe ek 10 jaar oud was en later as ’n kaartjie verkoop.

Watter werk is vir jou aktrise die lekkerste?
Teater is my eerste liefde. Die gehoor reageer dadelik, daar’s geen tweede kanse nie en elke aand is anders. Ek het ook gehou van die aanbiederswerk op Pasella, maar foei tog, ek’t nie lank daar gehou nie. Ek dink ek was te lewendig!

Wat was jou grootste uitdaging?
Ek het ses jaar (tot 2008) met ’n verhoogproduksie oor die Waarheids-en-versoeningskommissie, Truth in Translation, getoer in lande waar daar al konflik was, onder meer Serwië, Noord-Ierland, Zimbabwe, Rwanda en Bosnië. Ons het werksessies gehou waar die gehoor hul eie stories kon vertel. Ek was bittermin tuis, moes my destydse verhouding opsy skuif, ou wonde uit my eie kinderdae oopkrap en na ander mense se trauma luister. Ek het depressief geraak. Ek moes leer ek kan nie as akteur emosioneel betrokke raak nie.

 

quanita adams_11 quanita adams_15Jy’t ook tien jaar lank wêreldwyd getoer met At Her Feet. Wat’s jou gunsteling-plek?
New York, loshande! Ek’s baie sexy daar! Ek loop by die straat af en mense kyk, want ek lyk ánders, eksoties, kroeskopvrou vannie Kaap. Ek’s ook mal oor Sarajewo in Bosnië. Dis ’n romantiese stad. Tog is niks mooier as my gunsteling-plek (naas Kaapstad) nie: Genadendal in die Wes-Kaap. Daar’s geen beter plek as Suid-Afrika nie.

Jy het in Forgiveness teenoor Arnold Vosloo en in die Amerikaanse TV-reeks ER gespeel. Het jy ooit gedroom van Hollywood-roem?
In my vroeë twintigs het ek die kans van die hand gewys om in New York te studeer by die vooraanstaande The Actor’s Studio. Ek was nog net een keer spyt, toe ek ’n ruk werkloos was. Ek kyk nie terug nie. Dit was nooit my plan om ryk en bekend te word nie. My enigste doel is om my rekeninge te betaal en my ouers nie in die verleentheid te stel nie! My plek is hier.

Wat het jy by jou ma geleer?
Moet nooit vergeet wie jy is en waar jy vandaan kom nie. Toe ek die eerste keer private skool toe is, het sy gesê: “Onthou, jy moet steeds van die taxi afklim, verby die gangsters loop en by ons huis inkom.” Sy het my ook geleer om nie te veel bykomstighede te dra nie. Less is more!

Hoe daag jy mense se persepsies uit?
Wanneer rolle wat ek vertolk wegbreek van die stereotipe en mense laat praat, het ek in my doel geslaag. Soos met At Her Feet, waarin ek as jong Moslemvrou belangrike vrae oor onder meer terrorisme ná 9/11 gepak het. Ek voel sterk oor vroueregte en haat vooroordele.

Jy het al ‘n rits toekennings gewen, onder meer die Fleur du Cap vir Boesman & Lena. Wat beteken sulke erkenning?
Wanneer die gehoor vir my hande klap, ek my ouers trots gemaak het, ’n regisseur gelukkig is met my spel, of mense op straat my herken, is dit beter as enige toekenning.

Jy het ‘n nuwe liefde in jou lewe. Vertel meer…
Mmm, ek wil nie nou nie. Ek’s net bly hy dink hy kan hierdie hair-do aan sy ma voorstel!

Jy is glo die grapjas op stel. Jy’s ook ‘n skerpskertser. Hoe maklik of moeilik is dit om mense te laat lag?
My grappe kom uit my eie ondervinding. Ek sien die humor in alles raak en neem myself nie te ernstig op nie. Op stel spot ek gereeld met my kollegas. Eintlik het ons almal snaakse stories uit ons kultuur en agtergrond. Komedie verenig mense, dis ’n uitlaatklep vir al die negatiewe dinge om ons, soos Nkandla en e-tol.

Grootste lewensles?
Tensy iemand se lewe in gevaar is, is daar geen kwessie wat nie opgelos kan word nie. So hoekom jou bekommer?