Ons praat met

Binneland-ster praat oor haar gebroke liefdes

Toe ons by die onderwerp van mans kom, sug sy. “Kyk, ek is ook nou al 34 en ek het al geleef en ek
het al geleer. Is jy reg?” vra sy en loer onder haar swaar kuif uit, asof sy wil waarsku hier kom drama. Báie. Dan begin sy vertel: “Daar was net twee. Eintlik drie. Maar met die eerste een was ek verskriklik jonk en ons het vreeslik vinnig verlief geraak.”

Ons begin dus by nommer twee. Die grote. Hulle was vyf jaar lank saam – van 2005 tot 2010. “En hy was wonderlik in die begin. Weet jy wat kom ek agter, nè, ek sit mans baie maklik op ’n troontjie.”
Begin 2010 het sy hul verhouding beëindig. “Agt dae voor my verjaardag,” onthou sy. “Dit was vir my baie sleg. Ek was gelukkig by my vriendin. Ons het ’n glasie wyn gedrink. Toe raak die glasie ’n bottel en toe’s dit net verdriet.”
’n Maand later het sy gehoor hy het ’n verhouding met iemand anders. “Ek het hom gebel en gevra of hy lief is vir haar.Toe sê hy ja. Weet jy hoe seer het dit gemaak?” Nog twee maande later het sy gehoor hy’s verloof.
“Tsjjj . . .” blaas sy haar asem uit en skud haar kop, asof sy die skok herleef. “Ek is deur verskriklike hel. Toe wou ek vir hom wys: ‘Kyk, ek beweeg ook aan.’ Ek het net gegryp na iemand.”

Dis ’n man wat sy een aand in ’n kuierplek ontmoet het.
“Toe besluit ek cool, hierdie persoon lyk half decent, stabiel, hy’t sy eie plek, sy eie job . . . Ek wou net wys ek het ook iemand. Dit was so ’n warboel van ontkenning, net sodat ek vir myself kon sê: ‘Kyk net hoe goed gaan dit nou met my.’”
Hulle was ’n paar maande lank in “’n baie emosioneel afbrekende verhouding”. Sy haal diep asem, dink ’n ruk lank na. “Dis maar moeilik, jong. Ek het ook maar deur ’n donker tyd gegaan.”

Haar skilpaddop-kat wals in, skuur lui teen die bank. Rolanda tel haar op. “My naam is Charlotte,” sê sy in ’n hoë stemmetjie, hou haar soos ’n baba vas en voer eers “vir die tannie” ’n mini-konsert op, wys hoe oulik Charlotte praat, hoe oulik sy loop. “Og, sy’s die liefde van my lewe,” sê sy en druk haar so styf dat daai katbeentjies sommer so kruis. “Nè, my dingetjie.”

Dan terug by die eks-liefdes. Sy het besef die nuwe verhouding werk nie en het dit verbreek. Dis toe dat ’n destruktiewe spiraal begin, want toe eers tref die hartseer oor haar vorige verhouding haar regtig. “Ek het letterlik iets soos vyf kilogram in ’n week verloor. Ek was sielkundige toe, ek was op antidepressante.”
Dis in dié tyd dat sy by haar suster ingetrek het “en daardie hele Desember was ek by my ma-hulle. Hulle het my gelei en my versorg. Ek het myself ook begin oppas, my pilletjies gevat. Nou’s ek heeltemal fine. Ek’s al omtrent ’n jaar fine.”

In hierdie tyd het sy glad nie belanggestel in ’n nuwe verhouding nie, “glad nie uitgegaan nie, glad nie op dates gegaan nie, was glad nie geïnteresseerd in manlike geselskap nie”.

En op ’n punt het sy besef sy’s oor daardie vreeslike hartseer. “Ek het net gelukkig begin voel, vreeslik tevrede. Ek en my kietie, vroeg in die bed. Wanneer jy voel jy’s gek daaroor om op jou eie te wees, dán is jy reg vir ’n verhouding. En as daar iemand is wat net so in jou wêreld inpas, dan’s dit ’n bonus.”

Toe gebeur dit, toe skuif daar een so mooi netjies in haar wêreld in. “Hy’s die regisseur van Wolwedans in die skemer. Jozua Malherbe. Hy’s 30, so ek’s ’n cradle snatcher,” sê sy
en lag. “Ons het op stel ontmoet, so ons het totaal en al op ’n professionele vlak gewerk, maar daar was so nou en dan sulke oomblikke, so ’n smile. En stadig maar seker toe ontwikkel daar so ’n ietsie.”

Sy trek haar bene op en haar voete krul oor mekaar van skaamheid, laat haar soos ’n klein dogtertjie lyk. “Maar omdat ek in die fliek was, het ek besluit niks gaan gebeur nie.Want dis daai tipiese cliché, die aktrise wat nou met die regisseur… Ek meen dis so embarrassing, ek skaam my eintlik dood. Ek skaam my dood dat ek verlief geraak het op die regisseur.” Sy lag hard, lekker.

“En ek kon my verkyk aan hom, ek het letterlik so gestaar na hom soos ’n verliefde.” Hoe lyk hy? vra ek. “Tall, dark and handsome,” giggel sy asof dit ’n noodwendigheid is. “Nóg ’n cliché. Og, hy’s oulik. Hy’s baie, baie oulik.”

Dan, asof rede skielik intree: “Maar dis nog baie vroeg, jy weet. Soos my ma altyd sê, tyd sal leer,” maak sy haar na in ’n hoogdrawende stem.

  • Yolandie

    My hart is vrek seer omdat jy nie meer in Binneland is nie. Dis net nie dieselfde sonder jou en "Conrad" nie!!!! Jy "was" Binneland!

  • Elizabeth Avenant

    Baie bly vir jou Rolanda! Ek dink jy verdien nou ‘n oulike man! Ek hoop dit gaan baie goed met julle! Ek mis jou in Binneland, want jy’t die hele storie gemaak!!! Wens jy kan weer terugkom! (Hulle moet asb daai Hollandse dokter verwyder, want sy gee my ‘n groot pyn!!! As SY in die prentjie verskyn, sit ek die klank af en lees die onderskrifte!) Kom terug Binneland toe – ons soek jou ALMAL daar!!!

    Sterkte vir jou – Elizabeth Avenant

  • Rozanne

    Rolanda soos ek jou storie lees van die hartseer waardeur jy is huil ek sommer van vooraf!!:(EK gaan nou ook deur ‘n brake-up van 5 en half jaar en dis nou maar 2maande verby!!aai al daardie gevoelens wat mens so versmoor!!Is bly jy het weer nuwe hoop!!:)Dit gee my nuwe hoop!;)Hoop jou sprokie eindig op ‘n hoogte punt!!

  • Elsebè Scheepers

    Elizabeth ek stem saam met jou oor die Hollandse dokter. Sy gee my net so ‘n pyn, kan haar nie vat nie en verstaan ook nie wat sy praat nie. Ag nee, seker is daar beter aktrises as sy. Mis ook baie vir Conrad, Tertius en ou Quinten. Ai Binneland, word wakker, julle verloor kykers!!!

  • Mona Henn

    Ek kuier nou al vir 2 mnde in die VSA gaan die einde van die maand terug, kan nie wag om Binnelanders te kyk nie……en nou? Nou moet ek hoor al my sitkamer palle is weg. Binnelanders verloor nog ‘n kyker. Rolanda dit sal goed gaan met jou, ek het al gehoor die regte Rolanda verskil hemelsbreed van die feeks op T.V.

  • Alet

    Is daar n kans dat jy terug gaan kom na Binneland.Alet

  • Jorrie Jordaan

    Rolanda jy is beeldskone vrou! Jou rol in Binnelanders het jy fantasties gespeel en ek dink jy is besonders in die werklike lewe. Wens jou ‘n genotvolle liefdesverhouding toe met tonne geluk!

  • Leana Bothma

    Ek dink regtig Binneland se produksiespan moet dit oorweeg om Stefanie terug te bring, al is dit net vir ‘n rukkie. Kan julle dink hoe lekker gaan die vonke spat as Stefanie en Delia met mekaar te doen kry?