FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Ons praat met

Quanita Adams se beste Binnelanders-herinneringe

Die borrelende Zadie sal vanaand vir oulaas op die kassie te sien wees in Binnelanders. Sy gaan die hospitaal en sy mense verlaat om haar droom as sangeres te vervul.

“Ek het van die begin af gesê ek gaan net vir twee jaar in Binnelanders speel,” vertel sy aan SARIE.com. “Leave when people are sad to see you go.” Tog was die verbasing groot die dag toe sy haar bedanking indien. “Almal was baie geskok, want niemand het dit verwag nie, maar vir my was dit tyd om huis toe te gaan.

“Daar loop blykbaar stories dat ek móés weggaan by Binnelanders, maar dit is nie waar nie. Ek is terug Kaap toe uit eie keuse en om my familie te ondersteun.” Haar pa is onlangs met ’n hartsiekte gediagnoseer en sy wil juis nou by haar ma wees om haar emosioneel én fisiek te ondersteun.

Hegte vriendskappe

Quanita vertel dit is die hegte vriendskappe en pret op stel wat sy die meeste gaan mis. “My kollegas by Binnelanders het vir my soos familie geraak. Ek hou nog met die meeste van hulle kontak en ek mis hulle geweldig. Ek gaan veral die poetse op stel mis,” sê sy met haar kenmerkende lag.

Sy vertel ook hoe hulle verlede jaar komberse gebrei het vir Madiba-dag. “Almal op stel het gebrei, selfs die kameramanne! Die een dag moes ek skielik my breiwerk los om ’n toneel te gaan skiet. Toe ek dit weer soek, het Je-ani Swiegelaar (Naomi in Binnelanders) die wol letterlik óm die gebou gedraai. Dit was oor die stel, om tafels en net oral,” lag sy. “Uiteindelik het ek opgegee om dit te probeer oprol en net alles stukkend gesny.”

Beste herinnering

’n Herinnering wat haar altyd sal bybly, is die ongelooflike ondersteuning wat sy van haar Binnelanders-kollegas gekry het nadat daar by haar huis in Greenside ingebreek is. “Ek het in die middel van die nag wakker geword en daar was ’n man in my kamer. Hy het my twee uur lank in my huis aangehou, maar gelukkig kon ek hom daar uitboender. Hy het baie goed gesteel, maar ek was ongedeerd.”

Vir Quanita was die skok en vrees traumaties. Sy het daar en dan besluit om te bedank en terug te trek Kaapstad toe. “Maar gelukkig het dinge uitgewerk soos dit moes. Die ondersteuning wat ek gekry het, het my totaal oorweldig. Twee dae later het ek sak en pak by Nadia Valvekens (Pippa) ingetrek met die hulp van my Binnelanders-familie.

“Daardie span mense is regtig na aan mekaar. Wanneer hulle werk, werk hulle hard, en hulle sal in hul swaarde val vir mekaar.”

Grootste uitdaging

Quanita se grootste uitdaging as Zadie was dat sy Afrikaans moes praat. Min mense sal glo dat haar moedertaal Engels is. “Ek het nogal gesukkel in die begin, veral met die dubbele negatief. Ons moes soveel tonele weer skiet omdat ek die tweede ‘nie’ vergeet het,” onthou sy. “Maar almal was baie gaaf en het my gehelp tot ek dit reggekry het. Selfs oom Hans (Hans Strydom wat die rol van At Koster vertolk) het my mooi reggehelp.”

Die snaaksste fout wat sy begaan het, lag sy, is toe sy in karakter voorstel hulle moet vir Naomi ’n verassingspartytjie hou in plaas van ’n verrassingspartytjie!

Quanita sal haar vriende en die wonderlike herinneringe by Binnelanders nooit vergeet nie, maar nou geniet sy dit om terug te wees by haar familie en haar kêrel in die mooie Kaap.

Lees ook