FOTO: Aubrey Jonsson

FOTO: Aubrey Jonsson

Ons praat met

Só bly 7de Laan se Gita gesond

Jo da Silva, die giftige Gita in 7de Laan, vertel hoe sy gesond bly ondanks haar besige roetine.

Sy volg nie ’n oefenprogram nie, erken Jo da Silva. Haar lewe as enkelma van ’n baie besige tiener hou haar besig en aktief genoeg. Boonop doen sy haar eie huiswerk, soos stofsuig, wat sy glo help om die vet hok te slaan.

“Ek is ook baie betrokke by my dogter, Caitlin (16), se skool. As ek dink dat ek nog ’n oefensessie ook moet inwerk, mag ek dalk omval … Ek weet ek is so aktief as wat ek kan wees en is konstant aan die gang – ek dra net nie tekkies en ’n bypassende sweetpak nie!”

Wat is jou motivering vir ’n gesonde en aktiewe leefstyl?

Gesondheid en langlewendheid! Ek het 16 jaar gelede kanker gehad en het al verskeie ernstige siektes oorleef – twee net in die afgelope ses maande. Ek weet hoe kosbaar my gesondheid is en hoe weerloos ons werklik is. Ek doen dié jaar meer moeite met my gesondheid as verlede jaar. Ek is baie bewus van hoeveel goed ek aanpak en terselfdertyd ook van hoe gebalanseerd my dieet is.

Is dit vir jou belangrik om gereeld te oefen? Waarom?

Dis vir my onmoontlik om dieselfde dans- of joga-klas elke week op dieselfde tyd by te woon as gevolg van my verfilmingskedule. Dít sou my voorkeur gewees het. As ek die tyd en energie het, doen ek op my eie ’n Pilates-sessie by die huis.

My ma het ’n mediese geskiedenis van artritis en osteoporose, daarom is dit vir my baie belangrik om my beendigtheid en die beweeglikheid van my ledemate dop te hou. Ek gebruik ook glukosamien- en chondroïtien-aanvullings. Ek weet ek moet aktief bly om my spierkrag te behou.

Volg jy ’n spesiale dieet?

Ek is ’n vegetariër wat in die verlede elke nou-en-dan van die spoor af geval het – biltong en vis was nog altyd my swakheid. Hoe mal is dit om ’n vegetariër te wees wat lus kry vir biltong? Maar ek het myself toe voluit toegewy aan ’n volle, vegetariese dieet saam met my dogter.

Uit respek vir haar passie vir marinebiologie en besware oor visvang-kwessies [by-catch issues] raak ons ook nie aan vis nie. Dit beteken ons is baie bewus van ons yster- en proteïen-inname. Ons dink mooi oor elke ete en is daarom baie bewus van ons bestanddele.

Jo da Silva: sterk, onafhanklik, nederig. What a woman! FOTO: Simoné Nortmann

Jo saam met Simoné Nortmann by vanjaar se Royalty Soapie Awards
FOTO: Simoné Nortmann

Het iemand vir jou ’n eet- en oefenprogram uitgewerk?

Nie onlangs nie. Ek het oor die jare verskeie eet- en oefenprogramme laat opstel vir verskeie redes, soos gluten- en graanvrye kos. Teen nou weet ek genoeg om self my dieet volgens my eie behoeftes te kan balanseer.

Wat dink jy is belangrike beginsels vir iemand wat ’n gesonder lewenstyl wil volg?

Jy moet aanvaar dat daar geen vinnige oplossings is nie. Dis ’n verandering van jou leefstyl wat oor die lange duur resultate vir jou gewig én gesondheid bring. Enige drastiese aksie gaan net korttermyn-resultate bring en so begin die yo-yo weer. Vroue moet hul begrip van gesondheid en gewig van mekaar skei.

Maer is nie noodwendig gesond nie.

Wat motiveer jou om gereeld te oefen en gesond te eet?

Dis ’n belegging in my toekoms en my ou dag. Ek wil so lank as moontlik aktief en beweeglik wees. Die afgelope 20 jaar het so vinnig omgegaan en die volgende 20 sal net so gou verby wees. Daar is baie goed wat ek nog in my 60’s wil doen en dit is nóú in my hande om dit reg te kry.

Jo tydens 'n SARIE-fotosessie in 2009  FOTO: Aubrey Jonsson

Jo tydens ‘n SARIE-fotosessie in 2009
FOTO: Aubrey Jonsson

Môre gesels ons met TV-persoonlikheid Eloise Cupido oor haar nuwe oefenroetine.

  • http://batman-news.com Leon Naude

    deJo (Gita) you ere a very attractive woman I do not watch 7 de Laan regulary, the caracture you play I do not like but you play her very well
    Now the NEW hair style I DO NOT like LONGER hair is nicer