Ons praat met

Bob Skinstad is trots SA

Wanneer party van ons (ons is vroue, dan nie?) die naam Bobby Skinstad hoor, dink ons nie noodwendig heel eerste aan Springbokrugby nie. Ons onthou die goed gedefinieerde bolyf, of daardie tong wat so sensueel uithang . . .

In dié dae van sokkerkoors is Bobby (34) in sy element – hy is gek oor sokker én hy speel dit self sosiaal. “Van al die Wêreldbeker-spanne is Bafana Bafana my gunsteling,”sê hy.”Ek is trots Suid-Afrikaans!” Hy vertel wanneer jy as sportman in sulke groot internasionale wedstryde speel, ervaar jy “‘n mengsel van vrees, spanning en hoendervleis”.

Hy sal weet, want op 22 was hy die jongste Springbokkaptein tot dusver.

Hy is wyd geprys vir sy leierskap, sy spoed én sy balvaardighede. Tog was die kritiek genadeloos. Hy is te jonk, het sommige gesê. Hy het ‘n gebrek aan ervaring. Dit was te veel te vinnig. Ook toe Bobby gekies is om in 1999 aan die Wêreldbekerrugbytoernooi deel te neem het baie Suid-Afrikaners hul hande in die lug gegooi. Boonop het hy voor die toernooi sy knie in ‘n motorongeluk beseer.

Sy spel het toe niemand beïndruk nie. In 2007, ná sowat drie jaar in Brittanje, het hy teruggekeer vir Super 14-rugby. Al het hy ‘n rib in ‘n wedstryd gebreek, is hy gekies om vir die Bokke in die 2007-Wêreldbeker-toernooi te speel. Maar die Springbokke het byna teen Tonga verloor en Bobby is uit die span gelaat.Op 6 November 2007 het hy as professionele rugbyspeler uitgetree.

Rugbykenners meen Bobby was op sy dag ‘n briljante speler – maar dat hy nie altyd goed bestuur is nie, nie deur rugby-administrateurs of homself nie. Sy eie siening was nog altyd: Ja, ek was jonk en ja, die verwagtinge en die druk was groot. Maar ek hét vele suksesse behaal.

Oor kritiek is hy filosofies:
“Ek hou daarvan, want dit laat my sien wat ander sien. Soms neem ek dit met ‘n knippie sout en ander kere leer ek daaruit. Solank dit op feite gegrond is.” En dis waar: Hy hét baie om oor goed te voel. Hy het in 42 toetswedstryde gespeel, 11 drieë gedruk en was in 12 wedstryde Springbokkaptein. Selfs al was hy so dikwels beseer. Byna elke plek in sy liggaam het al seergekry!

Nou nog is daar littekens en ek voel soms pyn. Maar ek kla nie,” vertel hy in sy restaurant The Toad in the Village op Noordhoek buite Kaapstad. (Hy is die hoof-aandeelhouer.) Dis ook op dié kusdorp waar hy en sy vrou, Debbie (Wolff), en hul twee kinders, Anna (3) en Tom (2), woon. Ontmoet jy hom, kyk hy jou reguit in die oë en glimlag só mooi. Hy maak seker jy is gemaklik en vra gereeld of jou tee nog warm is. Sy lyf is nog net so lenig, want hy leef baie gesond. Sy boarmspiere bult nét genoeg . . .

Terwyl ons gesels, gooi hy ‘n sin of twee Afrikaans in. “Ek wás mos ‘n Matie,” sê hy trots. Benewens sy community pub (die restaurant), besit hy ‘n paar selfoonwinkels in die Wes-Kaap en aandele in “enkele klein ondernemings”. Hy bestuur ook die Bobsforgood Foundation, wat liefdadigheidswerk doen. Tussendeur is hy ‘n SuperSportaanbieder en het hy sy eie leefstyl-en-sportprogram op radio, Saturday Mornings with Bob*.

Dan gesels hy oor sport en “al die positiewe dinge van Suid-Afrika”. Op die SuperSport-blog lewer hy kommentaar op rugbywedstryde en op rugbyjourney.com vertel hy van sy rugbylewe. Hy is boonop ‘n motiveringspreker vir maatskappye, banke en rugbyklubs oor onderwerpe soos leierskap of hoe om’n wenner te wees. Sy gunsteling-sêding vir hulle is: “The way to create the biggest impression is to under promise and over deliver.” Dít glo hy self. Nou en dan speel hy nog rugby. Hy draf byvoorbeeld uit vir die sogenaamde celebrity-spanne oorsee om geld vir liefdadigheid in te samel. En die toekoms? “Ek soek nou ‘n groot, interessante uitdaging. Dalk begin ek my eie rugbyspan of reis met ‘n Land Rover deur Afrika!”

Gaan loer ook na Bobby se foto-album!

Riette Rust, SARIE-joernalis, gesels met Bob:

  
Ons ken jou as Bobby. Wanneer het jy Bob geword?
Ek weet nie waar kommense daaraan nie.My regte naam is eintlik Robert en ek gee regtig nie om as mense my Bobby noem nie. Bob is seker net makliker.

Waar het jy die eerste keer met sokker in aanraking gekom?
As kind het my vriend Struan Dell se pa semi-professioneel sokker gespeel. Ons het altyd gaan kyk. Maar my groot liefde daarvoor het begin toe ek van 2003 tot 2007 in Engeland gewoon het. Daar eet, leef en slaap ‘n mens sokker. Arsenal was my gunsteling-span. Ek het sosiaal sokker gespeel en speel vandag steeds vir die lekker.

Watter SA sokkerspan ondersteun jy gewoonlik?

SuperSport United (wat in Pretoria gesetel is en aan M-Net behoort). Ek is baie beïndruk met hul afrigter, Gavin Hunt.

Wie is jou gunsteling- internasionale spelers?
Lionel Messi van Barcelona (in die Wêreldbeker speel hy vir Argentinië) en Wayne Rooney van Engeland – albei uitstekende doelskieters.

En Bafana Bafana-spelers?

Aaron Mokoena,Teko Modise en Matthew Booth.

In die lig van al jou rugbybeserings, sal jy jou seun, Tom, eerder aanmoedig om sokker te speel?

As hy rugby geniet, kan hy dit speel. Of sokker.Maar ek sal hom wel aanmoedig om branderplank te ry. Jy kan dit oral ter wêreld doen, is altyd naby die see en dis deel van SA se buitelug-leefwyse. En surfers is sulke aangename, goeie mense!

Jaco Kirsten, rugbygeesdriftige en skrywer, wil weet of rugbyspelers nie dalk jaloers is op al die geld wat sokkerspelers verdien nie.

Nee, sokker het ‘n groot mark en hulle verdien dit absoluut. Dalk kan rugby volg.

Rugby is ‘n unieke spel omdat . . .?

Dit voorsiening maak vir verskillende liggaamsoorte. Dis baie fisiek, soms selfs brutaal, maar dit word steeds op ‘n gentlemanly manier gespeel.

Mense het gesê daar is te gou te veel van jou verwag. Stem jy saam?

Nee, ek dink ek was gelukkig om in goeie spanne te kon speel en te kon deliver. As ‘n mens eers goed gedoen het, wil mense jou elke keer sien presteer. That is the nature of the (rugby) beast.

Jy het SA verlaat omvir ‘n kort rukkie in Wallis en later deeltyds vir Richmond in Brittanje te gaan speel. Hoekom?

Ek het nie van Rudolf Straeuli se manier van afrig gehou nie. Ons het ook nie gewen nie. Ek het dit nie meer hier geniet nie.

Jy was ook ‘n rugby-ontleder in Brittanje?

Ja,’n sportaanbieder vir SkyTV. Ek het programme oor SA se Curriebeker-wedstryde en die Super 14 aangebied.

Sal jy ooit permanent oorsee gaanwoon?

Ek verstaan dat mense wat deur misdaad geraak is die land verlaat. En ek glo ek en my gesin kan dit in enige land maak werk.Maar nee, ek sal nie weggaan nie. Ek is lief vir ons land. Ek hou van SA se energie, ons entrepreneurgees, ons oorlewingsingesteldheid, ons buitelewe.

Jy het al gesê jy hou van ‘n vrou wat jou kan laat lag en in wie se geselskap selfs die stil tye goed is. Is Debbie so ‘n vrou?

Sy is présies daardie vrou! Ons kan sommer sit en kyk na mense en dan laat sy my giggel. Sy beteken alles vir my. Sy is die anker van die gesin, ondersteun my en hou my voete op die aarde.

Watter pa-dinge doen jy alles?

Kinders is só ‘n voorreg. Ek het doeke omgeruil, ek lees stories en ek ken elke kinderprogram op TV – van Peppa Pig en Wonder Pets tot Noddy! 

Jy het onlangs namens die Bobsforgood Foundation 5 500 pare kinderskoene vir minder bevoorregte kinders in die Wes-Kaap ingesamel en beplan om dieselfde in Gauteng te doen. Jy moes onder meer vyf nagte in ‘n “tronksel” in die Kaapse Waterfront slaap. Hoe was dié ervaring?

Ek het maar gesukkel om te slaap, die Waterfront sluit mos nie. Ek is net soggens “uitgelaat”om te stort. Maar die blootstelling was goed en mense het bewus geraak van ons veldtog.

Raak jy ooit emosioneel?

Soms, ja. Soos toe ek die stories gehoor het van arm kinders wat vyf of ses kilometer sonder skoene skool toe moet loop. Dit was baie bevredigend om vir hulle skoene te kon gee.

Stephen Nell, sportskrywer, wil weet of jy spyt is dat jy nie in 2007 in die Wêreldbeker-eindstryd gespeel het nie.

Vanselfsprekend! Ek is vir die eerste keer uit die span ge-drop. Maar die feit dat ek wél die voorreg gehad het om kaptein te kon wees weeg veel swaarder as al die negatiewe dinge. My seun is boonop ‘n uur ná daardie eindstryd gebore en ek kon daar wees. Dit gee ‘n mens perspektief. Dalk het Iemand my só ‘n boodskap gegee . . .

Hoe hanteer jy teleurstellings?

Ek raak nie emosioneel geheg aan prestasies of teleurstellings nie. Ek beweeg gou aan.

JJ Harmse, sportskrywer, wil weet of jy eintlik ‘n closet-Bulls-ondersteuner is.

Ek hou van die manier waarop hulle speel. As die Bulls teen die Stormers speel, skree ek vir die Stormers. Maar as hulle teen enigiemand anders speel, vir die Bulls.

Het die feit dat jy as sekssimbool gesien is jou rugbyloopbaan beïnvloed?

Dis ‘n beeld wat geskep is déúr die mense vír die mense. Dit het beslis ekstra druk op my geplaas. Ek kon byvoorbeeld nêrens gaan sonder dat ‘n skare my bydam nie.

Is dit so dat jy in ‘n stadium probeer wegkom het van jou sexy beeld?

Ja, ek wou later nie meer my hemp vir foto’s uittrek nie. Ek het net gevoel ek moet eerder myself wees.

En die tong-ding?

My tong hang uit wanneer ek fokus en konsentreer. Selfs toe ek as kleuter-krieketspeler geboul het, het ek dit gedoen. My ma, Alana, het gesê ek gaan nog op my tong trap!

Kan die Springbokke volgende jaar die Wêreldbeker in Nieu-Seeland wen?

Ja. Die Springbokke is op ‘n baie goeie plek. Die spelers én die bestuur is goed.

Sal John Smit, die huidige kaptein, se bene hom nog kan dra tot dan?

Daar is nog baie rugby-ure in hom oor. Solank hy goed bestuur word en hulle seker maak hulle behou hom. Hy is ‘n ongelooflike leier,’n goeie lid van die gemeenskap en solid.

Kenners sê jy was ‘n goeie leier. Watter soort leierskap sou jy sê het ons land nou nodig?

Leiers wat bereid is om aanspreeklikheid te aanvaar sodat die job behoorlik gedoen kan word. Hulle moet ook besef dit gaan oor leierskap, nie oor hul posisies nie.

Jy toer deesdae dikwels as SuperSportkommentator saam met die Bokke. Hoe voel dit om aan die “ander kant” van die toergroep te wees?

Baie moeilik. Ek wil nie my vriende kritiseer nie – ek weet hulle doen hul bes – maar ek verteenwoordig ook baie mense se vrae. Ek kan nie sê iemand het onnosel opgetree nie,maar ek kan ook nie jok nie. Dis ‘n delikate lyn.

Hoe ontspan jy?

Ek hengel naby my huisie op Swellendam digby die Breërivier, of ek bring tyd saam met my gesin deur. Ek lees graag ander se reisblogs of tydskrifte oor bemarking. .

Watter karaktereienskappe sou jy wou verander?

Ek is soms temperamenteel, ongeduldig en vergeetagtig. Dis erg as ek vergeet om mense terug te bel of goed by die huis laat lê.Hoewel dié eienskappe beperkend is, leer ‘n mens gaandeweg daarmee saamleef.

Het jy jou piek as rugbyspeler bereik?

Daar is baie dinge waarop ek kon verbeter het. Ek het nie altyd so hard en gereeld in die gimnasium geoefen soos ek moes nie. Ek het gebots met afrigters soos Rudolf Straeuli en kon seker meer introspektief daaroor gewees het. Oor die algemeen sou ek nie dinge anders wou doen nie, dit sluit foute in. Want ek hét wonderlike prestasies bereik en my reis tot hier baie geniet.


  • UU94rb qgljepeyqqxt, [url=http://qrhocttvidtg.com/]qrhocttvidtg[/url], [link=http://szcfluzqgowq.com/]szcfluzqgowq[/link], http://eeccwdzldivw.com/