FOTO: Desk Lamp Pictures

Ons praat met

Boer soek ’n vrou-aanbieder herstel ná operasie

Aktrise en splinternuwe aanbieder van die realiteitsreeks Boer soek ’n vrou, Nadia Beukes, herstel tans nadat sy ’n rugoperasie ondergaan het.

Nadia gesels oor Boer soek ’n vrou

Nadia is Maandag uit die Wilgeheuwel-hospitaal in Roodepoort ontslaan nadat sy Donderdagaand ’n disektomie ondergaan het.

“Ek het my eie Grey’s Anatomy-ervaring gehad,” lag Nadia, wat aanvanklik dokter toe is omdat haar been lam begin voel het.

“Dit het eintlik so drie maande gelede al begin met ’n pyn in my boud en toe het dié pyn nou afgesak na my been toe. Ek het basies die krag in my been verloor,” sê sy. Die pyn was glo soos ’n erge vorm van pins and needles.

Nadia en haar ma, Eureke, in die hospitaal FOTO: verskaf

Nadia en haar ma, Eureke, in die hospitaal
FOTO: verskaf

Só het Nadia Beukes haar ekstra gewig afgeskud

Nadia se huisdokter, Ansua Steyn-Ahlström, het haar toe na ’n ortopeed, dr. Franz Snyman, verwys. Hy het haar toe na ’n neurochirurg, dr. Schalk Burger, verwys. Dié het ná toetse verduidelik dat daar ’n skyfie in Nadia se rug geskuif het en toe op ’n senuwee begin druk het. Dié drukking het veroorsaak dat haar been so lam begin voel het.

“Ansua, wat rooi hare het, was soos April Kepner op Grey’s Anatomy, dokter Franz was soos Callie Torres en dokter Schalk was McDreamy,” spot Nadia. Al drie dié dokters was ook in die teater toe Nadia geopereer is. “Hulle het my soos ’n VIP laat voel,” vertel sy en voeg by dat sy nou ook eendag in ’n mediese drama kan speel.

“Ek het mos nou die navorsing gedoen!”

Hoewel sy nou vrolik daaroor gesels, was dit nie vir Nadia maklik nie.

Pierre Spies herstel van operasie

“’n Mens is bang en skrik groot. Dis scary om te dink jy kan iets wat jy gehad het, verloor. Dit gee jou nuwe perspektief,” vertel sy. Sy is vandag, die sesde dag ná haar operasie, nog glad nie spyt nie.

“Vandat ek uit die operasiesaal is, is daardie pyn weg! Ek het soveel waardering daarvoor,” sê Nadia, wat tans by Ansua en haar man, Carl Ahlström, aansterk.

Ansua Steyn en Carl Alström, by wie Nadia aansterk FOTO: verskaf

Ansua Steyn-Ahlström en Carl Ahlström, by wie Nadia aansterk
FOTO: verskaf

“Tussen hul werk as dokter en ingenieur deur én hul sewe maande oue baba, Charlotte-Anne, kook hulle ook vir my kos en bederf my dat die sop spat,” sê sy en voeg by dat dit ’n voorreg en fees is om dié twee te ken.

“Ek het nou geleer ons druk onsself so hard en ver en stel altyd uit om ons gesondheid te prioritiseer – mens moet beter na jouself kyk,” gesels sy en vertel dat sy nou ekstra waardering het vir haar familie, dokters en vriende wat haar in dié tyd ondersteun.

Nadia moet haar op die oomblik baie stil hou, want daar is tydens die operasie ’n stukkie kraakbeen verwyder.

Nadia kom Maandag by Ansua en Carl se huis om te herstelna haar operasie FOTO: verskaf

Nadia kom Maandag by Ansua en Carl se huis aan om te herstel ná haar operasie
FOTO: verskaf

“Dis vir my ’n verskriklike groot uitdaging, want ek wil so graag werk,” sê Nadia, wat in April ’n nuwe fliek begin skiet én ook weer met Boer soek ’n vrou moet begin. “Maar ek is gereed daarvoor. Ek gaan nou die langnaweek rustig by my ma bly en volgende week ook rustig vat, sodat ek in April uitgerus is.”

Sy vertel die snaaksste oomblik van haar ervaring was ’n gesprek met nog ’n pasiënt in die hospitaal.

“Sy het gesê ek laat haar baie dink aan ‘daai Nadia Beukes-meisie’,” vertel sy. Toe Nadia die vrou vra waarom, het sy geantwoord dat haar persoonlikheid en voorkoms so baie dieselfde is.

“Toe ek vir haar sê dit ís ek, was haar reaksie dat ek nie soos ‘daai Nadia’ lyk nie,” lag die TV-ster oor die foon.