bok_van_blerk
Ons praat met

Bok van Blerk

Ná die sukses van ”De la Rey”, wat bykans 200 000 albums verkoop het, is Bok van Blerk terug met ‘n nuwe CD, Afrikanerhart. Hy gesels met Henriëtte Loubser daaroor én oor sy bestuurder wat bedank het. Was dit regtig oor hoe Bok meisies hanteer? Hy’s immers ‘n gesogte alleenloper!

Vertel meer van die nuwe CD?
Dit het vyftien oorspronklike snitte op. Ek en Sean Else en Johann Vorster het weer saam gewerk aan die musiek en lirieke. Dis ‘n nuwer, moderner klank en ons het ook nie net die volgende generaal op die lysie gevat en hom ”afgetiek” nie. Ek dink ons is ‘n trappie op van my vorige CD met die produksie en die musiek self.

Die titel laat dit klink of julle weer die Afrikaner-sentimente bytrek?
Die liedjie ”Afrikanerhart” kom uit die musiekblyspel Ons vir jou. Ek het baie daarvan gehou en ek en Johann het dit toe verwerk en ‘n bietjie meer kommersieel gemaak. Dis nie ‘n oproep tot revolusie en opstand nie. Die liedjie probeer sê Afrikaners het ook gebloei om die land te bou, en met respek vir alle kulture en hul geskiedenis kan ons SA saam selfs nog sterker maak.

Gaan dié liedjie die groot treffer op die CD wees?
Mense wat aanklank gevind het by De la Rey sal ook hiervan hou. Maar die eerste enkelsnit op die CD wat ons push is ”Tyd om te trek”. Dit speel reeds op radiostasies en die DVD is op TV. Dis ‘n liefdesliedjie en gaan oor ‘n girl wat waai en vra: ”Kom jy saam?” Tussen die lyne kan jy ook iets lees van mense wat hul goedjies vat en Australië en Londen toe trek.

Maar jy weet nooit vooraf watter snit die sterkste gaan wees nie. Nes met die vorige CD is daar ook ‘n paar fun liedjies – stories, staaltjies en grappe – soos ”Brandewyn het nie brieke nie” en ”Super Schalk’ (oor die rugbyspeler Schalk Burger). ‘Pa en Seun”, die duet tussen my en Steve Hofmeyr, is ook op die album.

Volgens ‘n berig in die koerant Sondag het jou bestuurder en ou skoolmaat, Johandre Swart, bedank en julle’s nie meer vriende nie. Een van Johandre se vriende beweer jou hantering van meisies het hom teen die mure uitgedryf. Is dit so?
Nee. Liewe ouers …

Wat het dan gebeur?
Die hoofrede is dat ‘n mens nie besigheid en vriendskap moet meng nie. As daar verskille by die werk is, raak dit dan moeilik om ná werk saam ‘n bier te gaan drink. Dis nie nodig vir stories opmaak en moddergooiery nie.

Wat doen jy noudat die CD klaar is?
Ek het in Mei deur die land begin toer met die nuwe liedjies. In Julie gaan ek vir twee weke Australië en twee weke Londen toe. Ek het al tevore agt shows in Londen gehou en gewoonlik gaan dit baie goed. Dis die eerste keer dat ons Australië toe gaan en die kaartjieverkope lyk ook sterk. Ek sien baie daarna uit.