Brandon October FOTO: BrandonOctober.com

Ons praat met

Brandon October praat oor sy vrese vir Alzheimer-siekte

Idols SA se Brandon October het gesien hoe sy oupa gevangenis gehou word in sy eie brein. En dadelik het hy besluit – hy gaan alles in sy vermoë doen om geld vir navorsing oor Alzheimer-siekte in te samel, selfs die hoogste bergpiek in Afrika uitklim. 

SARIE.com gesels met Brandon hieroor.

Jy help Alzheimers SA bewustheid kweek. Hoe het jy betrokke geraak by dié organisasie?

Ek het hulle genader ná my laaste besoek aan my oupa [wat op 75 met Alzheimer-siekte gediagnoseer is]. Die laaste keer wat ek hom gesien het voor sy dood ongeveer 3 jaar gelede, was ek ’n week by hom. In daai week het hy gedink ek is iets van als: ’n dokter, ’n ou vriend, ’n paramedikus. Op die dag toe ek huis toe moes vlieg, het hy geweet wie ek is. Dit sou ook die laaste keer wees …

Ek het besluit dat ek die res van my lewe alles in my vermoë wil doen om die nodige aandag aan dié saak te skenk en ook geld vir navorsing in te samel. Kilimandjaro is die grootste projek sover.

Vertel meer oor Kilimandjaro

Ek beoog om vroeg in September te gaan en het al ’n paar pêlle oorreed om saam te gaan: sanger André Venter, radio-persoonlikheid Cato Bekker, Mev. SA-finalis Talitha Oosthuizen en sangeres Carly Bailey.

Ek het al twee jaar gelede begin voorberei toe ek die eerste keer aan die idee gedink het. Ek het my dieet verander en baie stysel uitgesny. Ek doen ook ’n meer gefokusde oefenroetine in die gim wat kragoefeninge en kardiovaskulêre oefening insluit.

Brandon by 'n geleentheid van Alzheimers SA FOTO: Twitter  (@BrandonOctober)

Brandon by ‘n geleentheid ten bate van Alzheimers SA
FOTO: Twitter (@BrandonOctober)

Wat was die moeilikste van jou oupa se siekte?

Natuurlik was die moeilikste dat hy mense begin vergeet het, maar die hartseerste is die vrees wat ek in sy oë kon sien. Hy was verlore.

Hy was ’n gevangene in sy eie brein, toegesluit agter deure waarvoor daar nie ’n sleutel was nie.

Wat het jy geleer uit sy siekte?

Jy moet jou brein soveel moontlik gebruik. Hoewel daar nog nie ’n geneesmiddel is nie, is daar sekere breinoefeninge wat jy kan doen om dié siekte te vertraag.

Is jy bang dat jy dit ook sal kry?

Ek sal nie sê dat ek bang is nie, anders sou ek iets vrees wat nog nie bestaan nie. Ek wil nie krag vir my vrese gee nie. Ek dink wel aan hoe moeilik dit gaan wees vir my vrou, Kathi, en ons kinders Adam (7) en Kaid (5) as ek dit ook kry.

Wat doen jy om dit te voorkom?

Daar is niks wat gedoen kan word om dit te voorkom nie. Daarom lewe ek elke dag met alles wat ek het en lees geweldig baie, doen blokkiesraaisels en speel Sudoku en skaak.

Brandon praat met SARIE.com oor gerugte van ’n duet saam met Steve Hofmeyr … Lees HIER.

Meer oor Alzheimer-siekte op SARIE.com