Ons praat met

Cameron Diaz oor plastiese chirurgie en roem

Omgewingskwessies lê jou na aan die hart?
Ja, maar ek help nie die aarde omdat ek diere en die natuur wil beskerm nie. Ek doen dit omdat óns in gevaar is. Ek wil nie hê daar moet oor ‘n paar jaar nie meer mense op die planeet oor wees nie. Dis hoekom ek so baie veldtogte hou.

Wat is jou ander sterk punte?
Ek’s baie goed daarmee om nuwe dinge te leer. As ek nie weet hoe om iets te doen nie, maak ek ‘n punt daarvan om dit aan te leer. Omdat ek getrou en lojaal is, kan ek ook na ander mense se probleme luister. My vriende kan altyd op my staatmaak – maak nie saak in watter situasie hulle is nie.

n Ander onderwerp: Is jy bang om oud te word?
Nee, glad nie. Ek is selfs bly ek is nie meer twintig nie (sy’t pas 37 geword). Dit was harde werk om deur daardie tyd te kom en ek wil nou net vorentoe beweeg. Dis eintlik iets wat ek altyd doen: Ek kyk nie sommer terug nie, eerder vooruit na die opwindende tye wat nog vir my voorlê. Jy kan niks aan veroudering doen nie, so geniet net die lewe.

Wat is jou mening oor plastiese chirurgie?
Dis waar dat baie mense in Hollywood dit doen. Maar ek verstaan dit glad nie. Hoekom sal ek my gesig wil verander in iets anders – iets heeltemal onnatuurliks? Dit sal net ‘n kettingreaksie veroorsaak. Ná die eerste operasie sê jy “haai, wel, nou kan ek bietjie aan my lippe laat werk”. Daarna sê jy “nou het ek groter borste nodig” en ná vier of vyf operasies is jy heeltemal ‘n ander mens. Dis skrikwekkend. Maar ek wil niemand veroordeel nie. Solank hulle beter voel daarna is dit reg so.

Is dit soms moeilik om roem te hanteer?
Nie regtig nie. Ek is baie oop en mededeelsaam. Ek hou daarvan om met ander mense te praat. As ek byvoorbeeld winkels toe gaan, kom groet mense my. Ons gesels vir ‘n rukkie en dis fantasties. En dis wonderlik wanneer hulle na my toe kom en vir my sê ek het hulle in my komedies laat lag. Dis belangrike erkenning vir ‘n akteur. Dis eintlik een van die hoofredes hoekom ek hierdie soort werk doen: Ek’s mal daaroor om mense se harte aan te raak, hulle te vermaak, ‘n band met hulle te smee en met hulle oor my flieks te praat. Ek lewe nie in my eie wêreld waar ek almal net ignoreer nie. Dis nie wie ek is nie.