FOTO: Facebook/ Carike Keuzenkamo

FOTO: Facebook/ Carike Keuzenkamo

Het jy gehoor?

Carike Keuzenkamp oor kanker

Sy loop nie met ’n donker wolk oor haar kop nie. Sy is positief, sy is gesond. Maar die geliefde sangeres Carike Keuzenkamp sê sy het nie kanker oorwin nie, dit bly vir altyd in remissie.

Twintig jaar gelede is borskanker by haar gediagnoseer. “Toe ek ‘n kind was, het ek niemand geken wat kanker gehad het nie. Nie my ma of my pa nie. Ek was die eerste een in ons familie wat dit gekry het. Dis seker maar die manier hoe ons destyds geleef het,” sê Carike aan SARIE.com

“Ek dink nie dit was dapper om my ander bors [in 2012] te laat verwyder nie. Dit was eenvoudig ’n kans op oorlewing. As jy dit nie doen nie, gaan jy altyd bekommerd wees.”

Carike sê die aktrise Angelina Jolie se dubbele mastektomie en verwydering van haar eierstokke was ook ’n poging om te oorleef. “As jy iemand met die siekte geken het, sal jy dit nie doen omdat jy dapper is nie. Jy doen dit, want jy wil oorleef.”

Carike Keuzenkamp en haar kleinkind, Olaus. FOTO: Facebook

Carike en haar kleinkind, Olaus. FOTO: Facebook

Vandag is Wêreld-kankerdag

“Kanker is ’n epidemie. Almal ken deesdae iemand met kanker,” vertel Carike.

Sy het direk die impak van kankernavorsing beleef. “My medikasie het in die twintig jaar drasties verander. Dit wat ek in 2012 gebruik het, het dag en nag van my vorige medikasie verskil. En dis ongelooflik.”

Carike sê dis belangrik om na jou liggaam te luister.

“As jy onrustig voel en jy vind niks fout nie, gaan tog maar dokter toe. Moenie wag vir die tekens dat iets verkeerd is nie. Jou liggaam sê iets vir jou.”

Met albei borste het geen mammogram, sonar of bloedtoetse enige tekens van kanker gewys nie. “Maar ek het geweet iets is fout. Iets het verander. Met my laaste bors was die kanker soos ’n spinneweb in my bors versprei. Moenie jouself blind en doof hou nie.”

FOTO: Carike Keuzenkamp

FOTO: Carike Keuzenkamp

Die 5 kankers wat wêreldwyd die meeste lewens in 2012 geëis het:

Longkanker – 1,59 miljoen sterftes

Lewerkanker – 745 000 sterftes

Maagkanker – 723 000 sterftes

Kolorektale kanker (kolonkanker) – 694 000 sterftes

Borskanker – 521 000 sterftes

Bron: World Cancer Day

Lees nou