Ons praat met

Casper de Vries se hoop, vrese en lewenslesse

EK HOOP

dat mense in ons land minder eiewys en meer nederig sal wees en dat ons by mekaar kan leer om in vrede saam te leef. Ons moet vir elkeen sy plekkie in die son gun. Dit sluit ook respek vir elke groep se kultuur en geskiedenis in.
 
dat daar tydens my lewe op aarde nog ’n regte UFO êrens sal land en dat ons menslike spesie sal kontak maak en kommunikeer met ander wesens van ’n verre planeet. Dit sal mense dwing om hul bestaan op aarde en ons plek in die heelal van voor af te evalueer en te analiseer.
 
dat my werk mense nog lank ná my dood sal vermaak, inspireer en laat nadink. Ek kry ’n ongelooflike kick daaruit as mense my vertel hoe sinsnedes en bepaalde woorde uit my shows deel van hul taalgebruik geword het.

EK IS BANG

om ’n been te breek. Dis iets wat ek nog nooit gedoen het nie! Ek het wel einde Junie vanjaar gegly en ’n spier in my kuit geskeur. Dit was verskriklik seer en ek het ses weke lank met ’n spesiale beenstut geloop. As dít so seer was, wil ek nie weet hoe dit voel as jy ’n been breek nie. En ironies genoeg is goeie wense in my beroep nogal ewe “break a leg!”.
 
om alleen rillerflieks te kyk. As jy dit saam met ’n groep vriende doen, is dit vreeslik lekker en groot pret om te gil en te skree, maar as jy op jou eie met groot oë deur ’n intense riller wroeg, is jy bang vir alles in die huis ná die tyd. Ek het selfs al ’n onskuldige lamp uitgeskel.
 
dat ek een aand op die verhoog gaan staan en nie gaan weet wat om volgende te sê nie! Dit gebeur so elke nou en dan dat ek tot stilstand kom en my kluts kwyt raak. Veral noudat ek ouer word.

Casper de VriesCasper de VriesCasper de Vries

WAT EK NOU WEET

’n Mens moet deur al die verskillende fases van die lewe gaan en seerkry en foute maak en jou hart breek. Dis deel van groot word en wys word.
 
As ek twintig jaar kon teruggaan om my jonger self raad te gee oor besluite wat ek nou weet verkeerd was, sou die jonger ek tien teen een nie eens na die ouer ek geluister het nie.
 
’n Mens móét foute maak. En dit dan hérken en ook érken. Só word ’n mens volwasse en kundig met léwe.
 
Ek is baie aanpasbaar. Elke keer wanneer ’n krisis opdoem, het ek die vermoë om dit onmiddellik te verwerk en die negatiewes in positiewes om te skakel. Dit gebeur baie, veral as ’n mens ’n vertoning of TV-reeks vervaardig.
 
Ek kan soms baie ongeduldig en opvlieënd raak wanneer mense nie dinge vinnig begryp nie, maar ek probeer deesdae regtig om die ander kant van ’n saak in te sien, selfs al stem ek nie daarmee saam nie.
 
Iemand het eenkeer vir my gesê dat jy die meeste van jouself leer deur hoe jy dié mense behandel wat niks vir jou kan beteken nie. Só ontdek jy wie waarlik “goeie” mense is en wie ander net misbruik of dalk “goed” probeer oorkom, maar eintlik net afshow omdat iemand hulle dophou. Ek gebruik dít dikwels as barometer om mense te peil. Ek hoop en vertrou daar is meer goeie as slegte mense. Maar ek besef ook dat mense baie vinnig en maklik iets leliks aan ander kan doen. Dis maar altyd ’n innerlike stryd wat ons voer.

Jy word gebore sonder ’n instruksiehandboek en daarom skryf jy dit sommer self soos wat jy aangaan.
 
Jy kan jou drome en ideale verwesenlik as jy dit met selfvertroue en doelgerigtheid najaag. Moenie wag vir ander mense om dit vir jou te doen nie, want dan sal dit nooit gebeur nie. Jy het natuurlik ander mense nodig om jou te help, maar jy moet dit wíl bereik en self inisieer en hard daaraan werk.
 
Toegewyde, harde werk word altyd beloon met sukses. Mislukking haal altyd vir Slap-alies in wat met so min as moontlik werk probeer wegkom.                      

Besoek www.casperdevries.com.

Daar’s ook lekker Casper-kykstof op YouTube.

  • http://tlszobjzebwr.com/ obpawzurlt

    LG0ccm pepznsrxvedh, [url=http://nvcekpaslpxu.com/]nvcekpaslpxu[/url], [link=http://wnzvnzpubpha.com/]wnzvnzpubpha[/link], http://idnlsbcvocrl.com/