duifie_casper_de_vries_and_faan_andre_stolz_rz
Ons praat met

Casper de Vries

Casper de Vries en sy karakters krap rond in hul verre verlede en hul voorvaders se geskiedenis met sy vertoning vir 2009, BroedersAncestors. Casper is net so kwaad soos Bloemfontein se mense omdat hy nie hierdie jaar daar kan optree nie, want hy kry nie die Sand du Plessis-teater bespreek nie. Hy’t ‘n paar vrae van Charis Labuschagne per e-pos beantwoord.

Op jou webtuiste sê jy jou nuwe vertoning wys ‘n ander kant van jou. Watter kant is dit: ‘n Preutse en sedige kant wat suiwer taal gebruik, dalk?
Nie maklik nie! Ha-ha! Wat ek met ”’n ander kant” bedoel is dat ek my herkoms bestudeer het en interessante geraamtes opgegrawe het. Ek deel hierdie inligting met my gehoor.

Die mense in Bloemfontein is nogal kwaad omdat jy nie daar gaan optree nie. Het jy planne om in ‘n ander teater op te tree?
Ongelukkig kan ek nie BroedersAncestors in ‘n ander teater daar opvoer nie omdat die vertoning vir ‘n groot teater soos die Sand (waar ek al lank elke jaar optree) geskep is. Die mense moet hul woede maar op die onbevoegde bestuur van die Sand uithaal, wat nie lekker weet wat hulle aanvang nie.

Hoe’t dit gebeur dat jy die rol van Duifie in Egoli gekry het?
Ek is gevra of ek die rol wil speel.

Ene Christin sê op jou webtuiste oor Duifie: “Duifie is dierbaar. Ek wens eintlik ek kon ‘n vriend soos Duifie hê, want hy laat mens lag, hy het die oulikste sê-goed.” Is jy seker jy het net ‘n rol gespeel en die karakter was nie eintlik op jou gegrond nie?
Ek het vir seker net ‘n rol gespeel. Mens noem dit toneelspel. In ‘n soap moet jy so natuurlik as moontlik oorkom, dan glo kykers daai karakter bestaan regtig. Dis hoekom ek nie lank in ‘n sepie sal wil speel nie. Ek sal dit nie kan hanteer as mense my permanent met my karakter verwar nie.

Hoekom identifiseer mense met jou humor?
Dis eg, aards, natuurlik en sonder pretensie.

Wie is vir jou snaaks?
Die NPA (Nasionale Vervolgingsgesag).

Idees vir slagspreuke vir Casper-T-hemde stroom in op jou webtuiste. Wat is jou gunsteling-slagspreuk sover?
Ek is mal oor FOK US uit WalgWors (1997) en U R a > on (you are a moron) uit CasperRasper3, want ek het al daarvan vergeet. Die mense wat voorstelle ingestuur het, het my weer aan daardie slagspreuke uit my shows herinner. Ons het genoeg voorstelle gekry vir ‘n honderd verskillende hemde. Dit maak jou baie gelukkig as jy agterkom so baie van die sinsnedes uit jou shows het deel van mense se daaglikse gesprekstaal geword. Wat meer kan ek vra om onthou te word deur die nageslag?