Ons praat met

Charlene Truter oor haar eersteling, Mia

Wanneer en waar is Mia gebore?
Sy’s op die 19de September 2012 in die Kloof Medi-Clinic in Pretoria gebore.

Wat is haar volle name?
Mia Beulah Lackay (Mia van Maria vir my ma en Beulah vir my man se ma)

Was dit ‘n maklike swangerskap? Wat was die grootste uitdaging?
Ek was een van die gelukkiges wat geen oggendnaarheid of hoofpyne gehad nie. My grootste uitdaging was sosiaal: hoe jou lyf openbare besit word as jy sigbaar swanger is. Wildvreemde mense dink dis okay om aan jou maag te vat.

Hoe’t jy gevoel toe jy haar die eerste keer in jou arms hou?
Dit was eenvoudig onbeskryflik. Ek gaan nie eers probeer nie. Dis ‘n regte knop-in-die-keel en allesoorweldigende oomblik.

Sy is jul eersteling? Hoe’t die dinamika van jou en jou man, Adrian, se verhouding verander sedert haar geboorte?
Dit kos meer beplanning om alleentyd te hê. Ons praat dikwels eers Baba voor ons by ons uitkom. Vriende wat kan baba oppas word jou kosbaarste hulpbron:)

Wat is jou gunsteling-ritueel saam met Mia?
As ons klaar gevoed het, sing ek haar aan die slaap. Dit is baie spesiaal, of ek vertel storietjies.
 
Na wie lyk sy, ma of pa?
Ek dink eintlik sy lyk na haar oumas. Al twee van hulle. Ek sien beslis elke dag iets van my ma in haar.

Wat is jou drome vir jou dogter?
Ek hoop ons kan haar so voorberei om nooit besluite uit vrees te neem nie, om selfvertroue te hê en, die belangrikste van alles, selfrespek.

Wat is jou loopbaanplanne noudat jy ‘n ma ook is?
Sedert 24 November is ek terug by Pasella met shoots. Alles word maar om haar beplan. Soos die beantwoording van die vragies nou:) Vir eers doen ek net opnames in JHB en PTA-omgewing. Vryskutskryf- en vertaalwerk doen ek reeds van die huis af. Ek en ‘n vriendin beplan ‘n babadagboek. En ek sal graag weer wil begin optree. Daar is reeds in Januarie ’n optrede in die Kaap. Dit is moeilik om vir jouself te werk omdat dit so onvoorspelbaar is, maar aan die ander kant kan jy self jou tyd bestuur. Hopelik gee dit my die vryheid om soveel moontlik tyd aan haar te bestee.