sr1204cover05
Ons praat met

Charlize, Candice en Tanya: Ons goue meisies

Hulle is drie van SA se top-uitvoerprodukte . . . Talentvol, beeldskoon. En bedrywiger as ooit.

Charlize Theron, SA se Oscar-bekroonde aktrise, ook bekend as die gesig van Dior se parfuum J’adore,  is vandeesmaand in Suid-Afrika te sien in die swart komedie Young Adult. Haar ander groot rolprente, Snow White and the Huntsman en Prometheus, begin in Julie hier wys en sy is ook betrokke by Mad Max 4: Fury Road wat vanjaar gedeeltelik in Namibië geskiet word.

Candice Swanepoel, top-onderkleremodel vir Victoria’s Secret, pryk gereeld op internasionale glansvoorblaaie en betree die loopplank vir ontwerpers soos Donna Karan, Dolce & Gabbana en Jean Paul Gaultier. Sy het verlede 
jaar met ’n geraamde inkomste van 3 miljoen dollar (sowat R24 miljoen) haar debuut gemaak as nr. 10 op Forbes se lys topverdieners in die modelwêreld.

Candice Swanepoel

En Tanya Fourie, wat op 15 New York toe is om oorsee naam as topmodel te maak. Sy het ook in Milaan, Parys en Londen gewerk en was ’n bekende gesig op voorblaaie van internasionale tydskrifte soos Elle en Allure. Vandag is sy saam met haar man, Mario Dos Reis, betrokke by die hul twee Kampsbaaise gastehuise, ’n binneversierwinkel in Bellville en ’n eetplek in Durbanville.

Tanya Fourie

SARIE het met al drie dié glansvroue ’n alledaagse geselsie aangeknoop.

Jou eerste en laaste skoonheidstaak van die dag?

Charlize: Ek reinig my vel soggens en saans. In die oggend wend ek vogroom met sonbeskerming aan. En saans net gewone bevogtiger.

Candice: Ek borsel en vlos my tande. En ek wend Olio Lusso-gesigolie van Linda Rodin aan.

Tanya: Bevogtig jou vel – duik sommer diep in die 
potjie room!

As jy kon, watter goue oomblik van jou lewe sou jy wou bottel?

Charlize: Die oomblik toe hulle my naam uitgeroep het toe ek ’n Oscar [in 2004 vir Monster] gewen het. Dit was absoluut surrealisties.

Candice: My aftrede! En dít moet ek nog ervaar. Ek geniet my modelwerk, maar om eendag op een plek te leef en ’n normale lewe te geniet, sal lieflik wees.

Tanya: Die dag toe ek my lewe aan die Here gegee het.

Dieetwenke?

Charlize: Jy wil dit beslis nie weet nie, want ek eet baie, maar ek doen oefening! Ek dink die beste dieet is balans, maak seker jy eet ’n verskeidenheid kos en eet gebalanseerde porsies.

Candice: Ek eet kos ryk aan proteïen vir sterk spiere.

Tanya: Ek is die laaste mens om te vra! Kos is nie my prioriteit nie. Ek hou van salm en slaai.

  • Elsie Combrink

    Sarie,
    Dankie vir 3 mooi vrouens, uitstekende foto’s, wens net ek kon ook so mooi lyk.

  • Katrien

    Wow! Tanya was nog altyd vir my n inspirasie. Sy is pragtige vrou, nie net van buite, maar haar lewe weerspieel dit.

  • Ansie Williams Klerksdorp

    Ek is so bly dat hulle Suid Afrika se naan hoog hou, hulle al 3 is pragtige vrouens en hulle bewys dat Suid Afrika se meisies nie hoef terug te staan, ons is trots op hulle!