Ons praat met

Charlize Theron praat eksklusief met sarie.com

Charlize, jy is een van Hollywood se pragtigste vroue, jy kry die beste werksgeleenthede en jy’t ‘n baie aantreklike kêrel. Het jy nog drome?
Ek sou graag wou kon vlieg! Ek wou nog altyd voel hoe dit voel. (Sy lag)

Waarom sien ons jou altyd in dramas en rillers soos The Road, maar nooit in komedies nie?
Ek dink nie regtig oor genre-tipes nie, dit dryf my nie. Ek glo aan ‘n goeie storie, dis die belangrikste. ‘n Akteur se werk is om geloofwaardig te wees en nie sy rolle uitgedink of meganies te vertolk nie – of dit nou drama-, komedie- of aksie-rolle is.

Vir my is rolspel soos terapie. Jy let op na mense, jy leer hulle ken en verstaan hoe hulle optree. Maar natuurlik, dit was wonderlik om ‘n paar maande gelede in ‘n komedie te kon speel. Hancock was fantasties, veral met Will Smith as mede-akteur.

Jy kom altyd oor as ‘n baie sterk persoon. Het jy enige swakhede?
Ja, kos! Ek sal enigiets doen daarvoor, en ek eet ook enigiets, enige plek. Ek beplan selfs my reise rondom kos. Ek vind eers uit hoe lank ek in ‘n stad sal wees en maak dan ‘n lysie van al my gunsteling-restaurante daar. En glo my, die lysie op my rekenaar is nou al lánk. Ek probeer regtig om by elkeen van hulle te gaan eet, want dis onmoontlik om net een te kies. Ek sê jou, dis mal, ek dink die heeltyd aan kos!

Is daar iets in die lewe wat jou irriteer?
Ja, wat my regtig irriteer is dat – selfs in 2009 – alles steeds om mans draai. Hulle kry beter werksgeleenthede en daar word nie teen hulle gediskrimineer nie. Dis onregverdig. Vroue is óók sterk en intelligent, en hulle kan verskillende situasies goed hanteer. Ek maak nou propaganda vir girl power!

Het jy ‘n lewensmotto?
Ja, ek probeer sonder ‘n skedule leef, want dit maak nie vir my sin nie. Ek wil nie planne maak en dink aan wat ek volgende jaar gaan doen nie – wie weet wat dalk in die volgende paar maande kan gebeur? So ek probeer in die oomblik leef, ek geniet die lewe en bekommer my nie veel oor die toekoms nie.

Wat sou jy maak as jy eendag nie meer filmrolle aangebied word nie?
Ek het vir baie jare op ‘n plaas in Suid-Afrika gewoon, en ek was mal daaroor. As Hollywood my nie meer wil hê nie, gaan ek ‘n tuinier word en diere versorg. Dit is wat ek regtig wil doen. Toe ek nog ‘n dogtertjie was, wou ek ‘n ballerina word. Ek het nooit gedroom om oorsee te gaan of iets opwindends te doen nie. Die lewe was toe vir my baie eenvoudig.

En nou is jy een van Hollywood se besigste akteurs. Hoe is dit om só bekend te wees?
Ek moet erken, ek word nog gewoond daaraan. Om ‘n ‘ster’ te wees is vir my vreemd. Almal wil iets van jou private lewe weet – wat jy dra, wat jy eet, wat jy drink. Mense is soms verstom dat ek normale goed doen soos om te kook. Genade! Mag ek dit nie doen net omdat ek op ‘n skerm verskyn nie? Maak dit my ‘n ander mens? Om akteur te wees is soos enige ander werk. Niemand verval in ongeloof wanneer ‘n prokureur erken dat hy domino’s speel nie.

Ek is ‘n normale mens wat wil doen wat almal daarbuite doen. Natuurlik is dit wonderlik as daar ‘n spul mense by jou huis opdaag om jou hare, naels en grimering voor ‘n geleentheid te doen, maar dit is nie ek nie.

Maar ek wil nie klink of ek kla nie. My lewe is wonderlik en te danke aan my werk kan ek opwindende dinge aanpak.

Maar wie is die ware Charlize Theron? Wat maak jou werklik gelukkig?
Ek is mal daaroor om vriende oor te nooi. Ons kook saam, drink ‘n paar bottels wyn en geniet die goeie tye. Ek hou nie daarvan om te gaan ‘klub’ nie, ek’s nie ‘n party girl nie. Ek sit eerder by die huis en kyk die nuus. Ek is verslaaf aan nuus, ek lees ook ‘n klomp verskillende koerante en weet wat in die wêreld aan die gang is.

Noudat jy jou vriende noem, jy en jou ma is baie na aan mekaar . . .
Ja, ons is, sy is my beste vriendin. Sy woon net om die draai van my en ons sien mekaar gereeld. So nie, SMS ons of sit ons op die telefoon. Sy is so sterk, slim en vasberade – sy’s my lewende inspirasie. Sy het my nog altyd ondersteun, maak nie saak hoe en waar nie, en dit sal ek nooit vergeet nie. Ek sal altyd daar wees vir haar.

Jy’s nou wettig ‘n Amerikaanse landsburger. Wat was die rede vir hierdie besluit?
Ek bly nou al jare in Los Angeles. Dit is frustrerend om nie deel te mag hê in iets soos die verkiesing nie. Ons het die laaste agt jaar gesukkel in die pre-Obama-era en mense het my gekritiseer omdat ek my politieke sieninge by verskeie geleenthede bekend gemaak het. Hulle sou byvoorbeeld sê: “Hoe kan jy so iets sê? Jy’s dan nie eens ‘n Amerikaanse burger nie!”

Nou kan ek sê wat ek wil, wanneer ek wil. (Sy lag.) Ek het wel steeds my Suid-Afrikaanse burgerskap – dit sal ek nóóit prysgee nie!

Het jy ‘n skoonheidsgeheim?
Nie regtig nie. Ek dink wel genoeg slaap is belangrik en dat jy jou gesig was voor jy inkruip saans, anders ly jou vel daaronder. Ek is baie aktief, ek hou van sport – dit hou my lyf sexy . . . En so terloops, ek’s nie ‘n voorstander van titels soos “sexyste vrou in die wêreld” nie. Ek’s skaam en dis vir my ‘n verleentheid.

Jy en Stuart Townsend is al lank saam. Het jy raad vir ‘n gesonde verhouding?
Ek dink nie daar’s ‘n formule vir ‘n lang, gesonde verhouding nie. Julle kom of met mekaar oor die weg, of glad nie. Maar persoonlik glo ek dat juis die verhoudings wat nie ‘n gelukkige einde het nie jou op die ou end sterker maak. Ons hou makliker vas aan moeilike tye soos dood, pyn of ‘n verbrokkelde verhouding as aan die goeie tye. Ek onthou toe my hart die eerste keer gebreek is. Die emosionele band met hom wat my rondgeneuk en nooit liefgehad het nie was groter as die een wat ek met my dierbare eks-kêrel gehad het. Dis hoe ons aanmekaargesit is: ons onthou die slegte tyd, vergeet die goeies.

Laaste vraag: Sal jy ooit met Stuart trou?
Ek weet al lank dat ek nie wil trou nie – dis nie vir my nie. Maar ek sal graag wil kinders hê.

* Haar nuutste fliek, The Burning Plain, begin 5 Junie by ons draai.


  • Elizabeth

    Ek dink Charlize het ‘n tipiese Hollywood meisie geword en dat als wat sy hier se aangeplak is. Hoe kan jy ‘n "normale mens" wees, maar in dieselfde asem se jy wil nie trou nie, maar kinders he?? – daar is niks normaal daaromtrent nie. Ek het nog altyd van haar gehou, maar sopas ‘n groot gly in haar gekry

  • Melanie

    Ek dink Charlize is soos sy sê, net doodgewoon, en elke mens se persepsie en uitkyk op die lewe verskil van ‘n ander. Ek het ‘n doodnormale vriendin wat ook nie wil trou nie, maar graag ‘n kind wou hê. Vandag het sy haar dogtertjie, glad nie getroud nie en so gelukkig en normaal as wat kan kom. Al wat ek vir Charlize wil sê is "YOU GO GIRL"!!!

  • Lydia

    Ja wat, ons lewe immers nie meer in die middeleeue nie. Sy en Stuart vorm ‘n hegte eenheid en dís wat vir ‘n kind belangrik is. Liefde en sekuriteit.

  • Debbie

    Miskien is trou nie alles in die lewe nie…solank n mens gelukkig is. En die egskeiding syfer in SA wys my dat daar baie paartjies daar buite is wat nie gelukkig was nie. Dit maak my hartseer. Soos Charlize se, mens moet lewe en gelukkig wees!!!

  • Marisa

    Charlize is beeldskoon en op elke foto lyk sy ‘anders’. Ek glo ook dat papiere die romanse uit ‘n huwelik neem. Daar moet altyd ‘n element van onsekerheid wees, sodat albei op hul tone bly en die beste voetjie bly voorsit. Hierdie ‘commitment’-sonder-papiere kan van die lewe saam ‘n opwindende ervaring maak. Outomaties gaan daar meer op mekaar se behoeftes gelet word, asook die manier waarop daar met mekaar gekommunikeer word. Dit sal tot gevolg he dat ook hul kinders die gewoonte sal aanleer om hul geliefdes nie as vanselfsprekend te aanvaar nie.

  • Erna Basson

    Dit is net ‘n sterk vrou wat kan se sy sien kans vir kinders sonder ‘n huwelik. Geluk kom immers van binne en nie van omstandighede nie. Charlize – jy bly ‘n bron van inspirasie vir die vrou van vandag, gister en van more.

  • Sonja

    Alles wat hier bo gesê word is goed en wel, maar hoekom wil Charlize nie trou nie? As sy en Stuart al so lank saam is en steeds saam is, het hulle mos geen rede om te twyfel aan hul verhouding en wat hulle vir mekaar voel nie? En as sy graag wil kinders hê, en sy wil hê Stuart moet die pa wees (ek aanvaar dis wat sy wil hê), hoekom wil sy nie met hom trou nie? Erna, ek sou nie sê dis ‘n sterk vrou wat kans sien vir kinders sonder ‘n huwelik nie, ek sou sê dis ‘n vrou wat nie haar kinders se belange op die hart dra nie. Navorsing het al hoeveel keer bewys dat dit vir kinders die heel beste is om groot te word by hul biologiese ma en pa – wat getroud is. (En daarmee sê ek nie kinders moet bly waar daar drankmisbruik, mishandeling, ensovoorts is nie. Ek praat van Charlize en Stuart se geval: alles is perfek vir ‘n normale gesin. Daar is geen rede hoekom hulle twee se kinders nie kan grootword by hul eie, getroude ouers nie.)
    ‘n Sterk vrou is ‘n vrou wat kans sien om met haar kinders uit ‘n huwelik stap (waar emosionele of fisiese mishandeling plaasvind) die onbekende, onsekere toekoms in.

  • Zj5ANs dryzmwknxlxj, [url=http://sfpnlilgikip.com/]sfpnlilgikip[/url], [link=http://yblqwuxglfbj.com/]yblqwuxglfbj[/link], http://dsxwqddlenon.com/