Ons praat met

Chester Williams

Chester Williams, op sy dag sélf ‘n Springbok-rugbyspeler, gaan sorg dat Matt Damon soos François Pienaar ”rugby speel” in die nuwe fliek The Human Factor wat tans plaaslik verfilm word. Toe Matt die draaiboek gelees het, wou hy dadelik die rol hê. Die verhaal is geskoei op die boek van John Carlin, Playing the Enemy: Nelson Mandela and The Game that Made a Nation. Chester het verlede Vrydag saam met Matt begin oefen en sal nog sowat 2 maande tydens die verfilming van die rolprent vir hom raad gee.

Wat leer jy vir Matt?
Hoe om te tackle, die bal in die lynstaan te vang, in die skrum te druk, hom op die veld te posisioneer … Ons oefen sowat 3 tot 4 uur op ‘n slag en het al 5 sessies agter die rug. Hy kom oefen nes ‘n gewone rugbyspeler in ‘n kortbroek, T-hemp en rugby-toks.
Is hy ‘n aangename mens?
Plat op die aarde. Hy luister goed en pas alles wat hy leer vinnig en reg toe. Hy kom uitstekend met mense oor die weg.
Raak hy opgewonde oor die spel?
Ja, veral noudat hy die reëls beter verstaan. Ek het hom al saamgeneem Nuweland toe om na ‘n game tussen die Stormers en die Blues te gaan kyk. Hy sê dis ‘n baie interessante spel.
Dink jy hy sal François se rol kan vertolk?
Beslis, hy is nie so groot soos François nie, maar hy is baie fiks en hardwerkend. Hy’s ‘n harde mannetjie.
Kry julle kans om soms ná “werk” te kuier?
Verlede Sondag het ek en my familie saam met hom en die rolprentmense gebraai. Hy het gedink ons vleis is fantasties. Hy is regtig ‘n baie nice ou.

*Chester werk deesdae as bemarkingsdirekteur vir ‘n maatskappy wat spysenieringstoerusting voorsien. Hy tree ook as konsultant vir rugbyklubs in Roemenië en vir die nasionale span van Uganda op.