jun06praatmet1a
Ons praat met

Kurt Darren – die begin

Ek kry Kurt gepas by die Steak ’n Ale, ’n gewilde musiek-restaurant in ’n klein, onopvallende Centurion-sentrum, Pretoria. Die plek waar hy “so te sê grootgeword” het. “Ek het 30 jaar lank hiernatoe gekom – my pa het ook gereeld hier kom kuier. Hy is nog altyd lief vir die Afrikaanse musiektoneel,” verduidelik hy. “Dáár …” Hy wys na die oorkantste muur waar die hoë tafeltjies staan. “Hy en sy vriende kom nou nog soms hiernatoe vir ’n biertjie ná werk.”

Charlene, die eienares, het spesiaal vir ons vroeg kom oopsluit, stomende koffie gemaak en broodjies laat aandra. “Ja,” beaam sy. “Jy kan maar sê ons het vir Kurtjie voor ons oë sien grootword. Hy kom nou nog gereeld hiernatoe, kom luister dan na Anton of Gian of Jan …” Kurt het self ook al by “Steakies” opgetree – en hy het verlede jaar gratis hier saam met kunstenaars soos Gian Groen, Diff-olie en Anton Goosen aan ’n vertoning deelgeneem om geld in te samel vir ’n mede-kunstenaar se oog-operasie. Hy het ook einde verlede jaar saam met kunstenaars soos Frank Opperman en Ronell Erasmus aan ’n kinderalbum, Dierbare diere, gewerk. Maar dis die onbekende Kurt Darren.

Hy’s meer bekend om ander redes. Soos die duisende CD’s wat hy al verkoop het, die vol sale by kunstefeeste landwyd en sy gedaantewisseling die afgelope jare – van valerige seun tot sensuele modeman. En hy maak musiek wat die volk gelukkig maak, baie gelukkig. Sy blonde, blou beeld het sekerlik met die tyd net soveel soos sy wysies bygedra tot die ongekende sukses wat hy die afgelope vier, vyf jaar behaal het. Hy is baie trots daarop dat hy verlede jaar – toe Steve Hofmeyr die Sama vir die meeste CD-verkope gewen het – die tweede grootste CD-verkoper in die land was. “Die Afrikaanse mark is geweldig lojaal, en platemaatskappye en anderstaliges begin dit oplet, en natuurlik in-cash daarop …”

Vertel! Waar kom dit alles vandaan?

Ag, ek sing vandat ek kan onthou. Vandat ek sowat 5 jaar oud was, was dit altyd klein Kurtjie wat op verjaardae, troues, in die kerk of waar ook al moes sing. “Green, green grass of home” en “Jerusalem” was die familie se gunstelinge. Ons het baie verjaardae gehad – ek het baie broers en susters! In st. 3 het ek die hoofrol in die skool se operette gekry – ’n st. 5-meisie het die vroulike hoofrol gesing. Ek kan nou nie die blyspel se naam onthou nie, maar ek onthou ek moes in ’n stadium vir haar sing: “Let me shipwreck in your thighs!” Ek het natuurlik nie ’n idee gehad wat ek sing nie, maar die grootmense het geweldig hande geklap elke keer wanneer ons by dié reël kom …

Was jy ’n tipiese rebel op hoërskool?
Ek was ’n baie snaakse skoolkind. Ek hou nie vreeslik van gesag nie – veral nie van die misbruik daarvan nie. Ek het maar nog altyd my eie kop gevolg. Ek het baie gelees. Nou nog, wanneer ons op die pad is, sal ek ’n boek hier optel en begin lees – en wanneer ons in Kimberley aankom, is die boek klaar. Bryce Courtney, Wilbur Smith, sulke ouens. So, ek het baie gelees en nooit geleer nie. Hoewel ek darem al my vakke geslaag het – ek het selfs universiteitstoelating gekry. Op skool het alles maar hier in my kop gebeur.

 

GUNSTELINGE

KOS: Osstert en malvapoeding soos Charlene by Steak ’n Ale dit maak.
DRANK: Rooiwyn, verkieslik cabernet
LIEDJIE: In Afrikaans – Gian Groen se “Vier seisoene kind”
MUSIKANTE: Coldplay, Watershed
BOEK: Enigiets van Wilbur Smith. Ek hoop hy’t nog ’n hele paar in hom.
AKTEUR: Kevin Spacey
FLIEK: K-pax. Ek kyk dit oor en oor.
PLEK: Weg van die mensdom; enige plek met bosse
KLEUR: Ek is ’n blou ou.
GESEGDE: Moenie uitstel nie – môre is nie noodwendig nog ’n dag nie
JOU DOODSTEEK: Mense wat ander verkleineer.

 

Sport?
Ek het ook geboks, vandaar die neus. En baie sport beoefen, maar nooit spansport nie. Vandag is ek steeds sportief en doen onder meer swartbaarshengel en lugduik. As jy so uit ’n vliegtuig spring, voel jy baie in beheer van jou lot. Dit maak jou sterker vir ander goed.  Ek was al meer as een keer die slagoffer van gewapende roof en ná die tyd verbaas oor hoe kalm ek gebly het. Ek dink dis wat dié soorte sport aan ’n mens doen.

En ná skool?
Dit was mos nog die tyd van diensplig. Gelukkig, toe ek in 1989 army toe is, was die verpligte dienstyd al verminder na 18 maande pleks van twee jaar. Ons het ook nie kampe gedoen nie. Ek sal nooit vergeet nie: Ons is almal in ’n trein gebondel en geneem na Rooikop in Namibië. Die heel eerste aand was verskriklik. Onthou, ons was kinders! En bang. Baie ouens was vir die eerste keer weg van hul ouers af. Pas uit matriek. Jonk. Sewentien, agttien, en op pad om ’n oorlog te gaan veg wat ons nie verstaan het nie. So sit die hele spul bedremmeldes van ons die eerste koue nag op die beroemde Duin 7. En ek dog, hier is my kitaar. Al wat ek kan doen om self beter te voel is om te sing. En so sit ek toe in die middel van die woestyn en sing vir amper 3 000 troepe. “Don’t let the sun go down on me …” En “Lying eyes”. Almal het gehuil, ek ook. Snot en trane. Van vrees, van verlange, van iets wat groter as ons was. Toe het ek gewéét. Hierdie gaan my lewe word. Ek wil sing en mense entertain en hulle op die een of ander manier gelukkig maak.

Maar eers diensplig . . .
Ja, ek is later oorgeplaas na Potch. Ek was ’n sogenaamde G1K1. Dit beteken daar was op die aarde net mooi niks met my verkeerd nie. Uiters gesond en paraat om diensplig te verrig! Maar ek het toe mos al geweet: Ek wil eintlik sing. So, ek het hierdie baie devious plannetjie uitgedink … Ek het gemaak of ek my knie beseer het, en is na 1 Mil in Pretoria gestuur vir ’n operasie. My plan was natuurlik om by die weermag se vermaaklikheidsgroep uit te kom. Ek het vir ’n oudisie gegaan, en dit geslaag. Ek was die res van my dienspligtyd in die vermaaklikheidsgroep. Ons het vir kolonels en generaals gesing en niemand het ons rang geken nie. Dit was heerlik.

Hoe het jy die operasie vermy?
Ek het nie . . .!

En toe het jou loopbaan as sanger begin?
Nee, ek het ná diensplig nog ’n hele paar draaie geloop. Aanvanklik universiteit toe, maar dit het nie lank gehou nie. Ek hét darem ’n paar klasse in politieke wetenskap bygewoon. Toe het ek drie maande lank as ’n gids in die Kruger-wildtuin gewerk. My liefde vir die bos en wild is groot, en dit was ’n baie lekker ervaring. Ek moes een keer ’n groep van 42 Taiwannese lugwaardinne rondneem in die wildtuin en daarna na Sun City vergesel. Op die bus leer hulle my toe hul weergawe van ching chong chow – as jy verloor, moet jy van ’n kledingstuk ontslae raak! Dit gebeur toe dat ek in my onderbroek tussen ’n klomp pragtige girls beland – en die busbestuurder hou sy oë stip op die pad en ry voort …

Nee, regtig?
Ek het nie kanse gevat nie. Ek het mos geweet ek gaan eendag beroemd wees!

Nou hoe het jy van die Wildtuin tot by “Meisie meisie” gekom?
Wag, daar is nog báie stories voor “Meisie meisie”. My ma was baie lief vir musiek. Ons het gereeld na Piet (Botha) en Koos Doep gaan luister. En ek het altyd die liedjies van ouens soos Elton John en die Eagles gesing. Maar in ’n sekere sin het ek grootgeword op Koos Doep se musiek, en dit het uiteindelik daartoe gelei dat ek die moed gehad het om net op musiek te konsentreer.

Daardie dae is ons almal mos aangeraai om regte of medies of iets dergeliks te gaan studeer, en die feit dat ek net wou sing, was nie baie goed vir my sosiale lewe nie! Die meisies se pa’s was vreeslik gekant teen dié ou wat nie “ambisie” het nie, maar ’n bestaan as sanger wou maak . . . Ek het in ’n hele paar bands gesing – een was Keep Your Day Job en ons het in plekke soos hier in die Steak ’n Ale opgetree. Daardie tyd het ouens soos Mel en Dozi ook nog hier en oral gesing. Dit was nogal moeilike tye. Ek het hoofsaaklik in Engels gesing, goed van Led Zeppelin, AC/DC. Rock-musiek, meestal.

So, waar het die Afrikaans en die verandering in jou styl ingetree?
Ek het in 1995 my eerste CD opgeneem. Dit was meestal Engelse liedjies soos “I don’t know why” en “For your precious love”. Dit was eintlik baie depressing! Toe, op ’n dag in 2001 besluit ek om my eie songs te skryf. Ek speel mos kitaar en dit beteken ek kan Afrikaanse popmusiek skryf! Let wel, wat ek sing, is popmusiek. “Meisie meisie” was my eerste poging, en ’n groot sukses.

Wat van die mense wat sê ‘Meisie meisie’ klink darem baie soos ‘Baby baby’ uit Ipi Tombi?

Dis heeltemal waar. Hoewel ek dit nie daardie tyd besef het nie. Sowat vyf maande ná die liedjie se vrystelling is my aandag daarop gevestig. Ek het dadelik die CD van die blyspel gaan koop. “Baby baby” was nie daarop nie. Toe vra ek my ma of ons ooit Ipi Tombi geluister het in die huis. “Ja,” sê sy, “jy het op Ipi Tombi grootgeword! En wragtig, op haar dubbelplaat sien ek toe “Baby baby”. Die koor-gedeelte moes beslis in my onderbewussyn vasgesteek het. Ek het dadelik met Ipi Tombi se skeppers in aanraking gekom en tot vandag toe betaal ek regte vir die melodielyn aan die oorspronklike skrywer van “Baby baby”.

Wat het jy uit jou lewe sover geleer?
Dat ’n mens harder moet werk om te bly waar jy is as om daar uit te kom.

Wat is die ergste ding wat nog met jou gebeur het?

O, beslis die Durban-episode. Ek het ’n paar maande gelede daar opgetree. Dis altyd lekker in Durban, want die Afrikaanse mense daar kry bitter min Afrikaanse kunstenaars te sien. Ek is ook ’n fanatiese skuba-duiker. Elke keer as ek in Durban is, doen ek moeite om te gaan duik. Dié keer het ek die kans gekry om saam met haaie te duik, nie in ’n hok nie, nee. Só. (Hy druk sy hand plat voor sy gesig.) Só naby. Dit was wonderlik, en ek het heeltemal te lank in die water gebly. Toe ons net voor die vertoning by die plek opdaag, was die situasie skokkend. Klank en ligte: Niks! ’n Kurt Darren-show sonder ligte en harde klank? Onmoontlik. En daarna het iemand ’n baie mooi brief vir my geskryf om te sê hoe teleurgesteld hulle in my was. Dit was aaklig.

As dit nie musiek was nie, wat sou jy wou doen?
Ek is gek na diere en die veld. Ek sou maklik ’n veearts of ’n veldwagter kon wees. Ek gaan altyd bos toe om weg te kom en ’n bietjie af te skakel. Ek het geleer jy skuld die publiek iets, maar nie alles nie. As ek in die Spur ’n hotdog eet en die tamatiesous loop so teen my wang af, moet asseblief nie kom vra of julle ’n foto kan neem nie! (Hy lag – dit het duidelik al gebeur.)

Wat wil jy graag hê moet mense van jou weet?
Dat ek geen verskonings het nie. Dat my musiek mense gelukkig maak – dis genoeg vir my. My groot droom is om eendag iets meer spiritueels, meer inspirerends te maak. Musiek soos Jan Blohm s’n, byvoorbeeld – wanneer die tyd ryp is.

Waarop is jy die trotsste in jou lewe?

Dit was ’n lang, harde pad tot hier. Ek moes baie goed prysgee. Die lewe wat ons op die pad lei, is nie normaal nie. Dit het my 13 jaar ná die weermag gevat om tot hier te kom. Jare van meubelwinkel-promosies en klein kroeë. Dit was ’n harde leerskool. Ek het geleer wat mense in ’n show wil sien. Ek het geleer wat ekself moet doen om’n vertoning te laat werk. Selfs nou is dit moeilik, jy’s die hele tyd op die pad. Dié week alleen is ek in Polokwane, Potgietersrus, Nylstroom en nog een . . . Maar ek is uiters, uiters trots daarop dat ek uitgehou het, en aanhou probeer het. Dat ek nie moed opgegee het nie. Want kyk, hier is ek nou!

                      ***

Dit was ’n koue, siniese someroggend. Een van daardie groutes hang in die lug, die soort wat maak dat jy nie noodwendig met ’n lied in jou hart opstaan om met ’n celebrity te gaan gesels nie. Twee dae ná die onderhoud is Kurt benoem vir ’n Sama (Suid-Afrikaanse musiektoekenning) vir beste pop-album vir Vat my, maak my joune. En ek is bly ek het uit die bed opgestaan om met hom te gaan gesels. Daarna het die dag sommer blouer gelyk. En sonnig. Die man is werklik. Hy is tasbaar.