sr0908chrischameleon_4
Ons praat met

Chris Chameleon se hoop, vrese en lesse

EK HOOP

op goeie gesondheid tot die dag dat ek dood neerslaan. Ek is mal oor my twee bene. Daar was al dae dat dit só sleg met my gegaan het dat die enigste lig aan die einde van die tonneltjie my bene was. Ek is mal oor stap en klim en nael. As ek nooit weer siek word nie, sal ek nie kla nie.
 
om ’n skooltjie in ’n minder bevoorregte landelike gebied finansieel te ondersteun en om Zoeloe vlot te leer praat.
 
om die Comrades-marathon te kan voltooi. Ek het in standerd vier verlief geraak op Zola Budd. Lag maar lekker. Ek het sulke dik fantasieë gehad van ons wat myle saam draf en dan tuiskom en melkskommels drink. Ek wil dié marathon hardloop omdat ek dink dít is soos bungee jump en ’n bottel 2006-Diemersfontein Pinotage op ’n Sondagmiddag – iets wat ’n mens voor jou dood op jou CV moet kan sit.
 
dat Suid-Afrikaners mekaar almal as volwaardige, gelyke landsgenote sal beskou, ons politici eerlik sal word en korrupsie heeltemal hokgeslaan sal word, ons ’n sterk opposisie in die regering kan hê, opvoedkunde en onderwys ons grootste prioriteite sal word, en alle Suid-Afrikaners ’n huis en ’n werk sal hê.
 
dat die mensdom belangstelling in wapentegnologie sal verloor.
 
dat ons volkome onafhanklik van brandstof sal word en alle energie uit die son, see, wind en water sal put. (Daar is oorgenoeg energie in daardie bronne beskikbaar vir al ons doeleindes!)
 
dat ons nie ’n enkele taal of spesie sal laat uitsterf nie.
 
om op ’n nie té hoë ouderdom nie op my plasie in die Oos-Vrystaatse berge te kan aftree en boeke te kan skryf. Dis daar so verruklik mooi dat ek nooit weer iets anders hoef te sien nie.
 
dat my Johannesburgse munisipaliteitsrekening geloofwaardig sal raak.
 
dat ons oorbevolking ernstig sal aanpak deur individuele verantwoordelikheidsin.
 
EK IS BANG

Ek beskou vrees as een van die grootste kankers van die menslike siel, wat vreet aan ons potensiaal vir goedheid. Vrees laat ons dinge om die verkeerde redes doen. Dit skep haat en is die eerste bewys dat ons in ons geloof weifel. Ek het eerder bekommernisse. Soos dat ek een van die dae daardie “groot mediese ondersoek van mans van veertig” sal moet deurleef.
 
dat ek ingroei-toonnaels kry – ek het gehoor dis vrek seer!
 
oor elke haar wat uit my kop val – drie jaar se toegewyde groei en reiniging in ’n ommesientjie op die badkamervloer tot niet!
 
soos dinge nou lyk, gaan die treffer van die toekoms een noot met ’n doef, doef, doef wees. Met die teks bybie, bybie, bybie.
 

WAT EK GELEER HET

Moet nooit met ’n bokser boks nie. Stoei as jy moet. Daardie les het ek met ’n blou oog geleer!
 
Die lewe is nie regverdig nie – gelukkig ook nie teenoor die onregverdiges nie.
 
As jou oog jeuk terwyl jy rissies skil, moenie krap nie.
 
Vertrou jou eerste vyf sekondes se ervaring van alle mense en omstandighede.
 
As dit seermaak, is dit nie liefde nie.
 
My beste eienskap is nuuskierigheid. Dit hou my uit die kwaad, lewenslustig en in verwondering. As jy my ’n maand met ’n glas water in ’n kamer toesluit, sal ek maniere kry om soveel moontlik daaroor te leer.
 
Alles van waarde kos nie ’n sent nie.
 
Die mooiste woorde wat ek nog gehoor het, is oor die liefde in 1 Korintiërs 13.
 
My ma het my geleer: “Men work from sun to sun. Women’s work is never done.”         

* Besoek ook www.chrischameleon.co.za                    

  • Glodina

    Ek bly maar net mal oor Chris Chameleon!!!! Chris hierdie is vir jou xxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxx
    xxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxx
    xxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxx

  • Christy

    As ek nou vir iets mag wens, dan wens ek vir ‘n dag saam met Chris Chameleon, ek dink hy sal baie interessante geselskap wees.

  • http://xehdozjdijmt.com/ qobtue

    qy7WgC fqxulolskyff, [url=http://spigrmtlkszh.com/]spigrmtlkszh[/url], [link=http://sayftdidcexx.com/]sayftdidcexx[/link], http://wgifuaihilku.com/

  • Selma Swarts

    Wow ek wens Chris kan n week by ons kom kuier, by vreemdelinge in n vreemde land, en ek glo elke oomblik sal volmaak wees ..om dinge deur sy oe te kan sien, en so mooi woordeskat soos hy asook die gawe om daai woorde in alledaagse taalgebruik te kan inwerk, jy inspireer my CC