Ons praat met

Chris van Niekerk

Chris van Niekerk van 7de Laan– en Binnelanders-faam het onlangs ’n nuwe teater (ná sy Rosendal-teater) geopen, hierdie keer op die skilderagtige Tulbagh. André le Roux het aan die platteland gedink.

Nog ’n nuwe teater op die platteland. Is dit lewensvatbaar?

Met die wye verskeidenheid wat ons die mense bied, glo ek so.

Beteken dit jy neem teater na die mense toe, soos in die ou dae?

Teater moet na die mense gebring word. Gehore wil nie meer myle ry vir vermaak nie.

Maak jy darem geld?

Op my ouderdom is geld totaal onbelangrik! (Hehehehehehe.)

Waar kom die naam Saronsberg-teater vandaan?

Die borg van die teater is Saronsberg Kelder en Kunsgalery net buite Tulbagh.

Hoe groot is die teater? Wat kan mense verwag?

Die teater het sitplek vir 140 mense. Ons gaan komedie, drama, kabaret, klassieke musiek, die hele spektrum van vermaak aanbied,
met die klem op goeie teater.

Julle open op 16 Mei met Die ryk weduwee van Uys Krige. Rolverdeling?

Elsabé Daneel speel die rol van die ryk weduwee. Ander karakters is ek, Waldemar Schultz, Johann Nel, Susanne Beyers, Martilize Kolfer, Raymond Randall, Roeline Daneel en Deon Stoltz.

Hoekom nie iets meer . . . e . . . modern nie?

Hei, wat is verkeerd met die classics? Dit is steeds een van die beste komedies wat nog in Afrikaans geskryf is.

Planne vorentoe met die teater?

Sukses, sukses, sukses!!! Om elke naweek vol te wees.

Wat is die uitdagings om ’n teater (2) te bedryf?

Die feit dat ek 40 000 kilometer die afgelope 8 maande afgelê het.

Is jy self nou van TV en die verhoog af?

Nooit van die verhoog af nie. Oor TV sal ons maar sien.