Ons praat met

Christi Panagio: Ons groot, vet (tweede) wittebrood

Son, liefde en ’n turkoois see.

Soos vroue hul troue beplan, het Nico Panagio besluit: Eendag gaan hy vir Christi Griekeland toe neem . . . Sy moet sien waar sy eintlike wortels lê. Toe maak hy dit ’n maand lange tweede wittebrood! Dié glanspaartjie is in Desember tien jaar bymekaar, vier jaar daarvan getroud.

Buitendien: Hulle het nodig gehad om ’n bietjie weg te kom van hul besige, gejaagde leefwyse.

Christi, wat veral bekend geraak het as Karien in die SABC2-sepie 7de Laan, is deesdae onder meer ’n gasaanbieder op die joernaalprogram Pasella (SABC2). Ons sien haar ook gereeld in advertensies as ’n Garnier-haarmodel en sy het al vir Queenspark modelwerk gedoen. Maar haar groot nuwe werkliefde is haar eie dekormaatskappy, Little Miss Decorator in Kaapstad, waar sy troues reël, huise versier en selfs ooievaarstees organiseer.

Haar eerste liefde bly egter Nico.

“Ek weet dit klink al corny dat ons so gelukkig is. Maar ons verhouding werk. Ons bid baie. God hou dit in stand. Ons sit dikwels by ons huis in die Kaap en kyk net uit oor die see en die berg en het ’n moment as ons saam Bybel lees en bid. Dis ontsettend kosbaar,” sê Christi.

Sy glo ook sy het goeie rolmodelle vir die huwelik gehad. Haar ouers, Babsie en Chris Botha van Pretoria, het vier jaar gelede, ná dertig jaar se getroude lewe, opnuut huwelikstrou aan mekaar gesweer.

Christi vertel hoe Nico se pa, Nick Panagiotopoulos, destyds ook sy jong Afrikaanse bruid, Loorita, uit Suid-Afrika Griekeland toe geneem het – en sy die Grieke betower het. Sy is vier jaar gelede aan kanker dood, kort ná Nico en Christi se troue.

“Nico was oneindig na aan sy ma – ’n sterk, dinamiese vrou vól lewe. Hy het gevoel die sirkel sal voltooi wees as hy my ’n maand Griekeland toe neem: Athene, die eilande Corfu, Mykonos en Santorini,“ sê sy.

Die sonsondergange, geurige kos en helder water in Griekeland het die Panagio’s laat herlaai.

“Wat wil jy meer hê?” vra Christi.“Dis nou, ná vier weke in mekaar se geselskap, byna moeilik om ’n paar uur van mekaar weg te wees.”

 

Dis nou, ná vier weke in mekaar se geselskap, byna moeilik om ’n paar uur van mekaar weg te wees,” sê Christi

 

Deel van die lekker was om onbekend te wees in Griekeland. Op die strand, selfs op die Griekse celeb-strand van Mykonos, Platys Gialos, kon hulle lekker magies uitstoot en sommer net wees. Hulle kon ’n duikbril opsit wat hul gesigopfrommel – die Griekse paparazzi het beslis nie in hulle belang gestel nie.

“In Suid-Afrika is dit soms vir my moeilik dat mense so vir jou kyk omdat jy  bekend is. Nico is beter daarmee, maar ek voel nogal blootgestel.”

Ná sy sukses met Survivor SA: Santa Carolina gaan die aantreklike Nico nou ook die vierde reeks van Survivor SA op die Maledive aanbied. Hy was mede-aanbieder van Top Billing en skiet die einde van die jaar aan die tweede reeks van Vallei van sluiers op kykNET, waarin hy die rol van Jacques de Bruyn vertolk.

Dan is hy boonop te sien in die Franz Marx-fliek Susanna van Biljon se storie, wat in September uitgereik word.

Op die eilande sou hulle dikwels ’n Mythos-biertjie drink, ure aaneen swem, met hul onderwaterkamera skouspelagtige seetonele afneem, weer ’n bier drink, hul lywe na die son keer, daarna aan iets geurigs gaan smul by ’n straatkafee, ’n  bietjie retsina (’n witwyn waarvoor die Grieke al die afgelope 2 000 jaar bekend is) afsluk of ’n bietjie ouzo.

“Heerlike, sonlekker dae. En die Griekse kos is hemels. Ek en Nico het albei 3 kg aangesit. Ons was veral dol op die pastitsio (’n soort ryspasta), die gilopitas  (vierkantige pasta) en ook varkvleis-schwarmas. Die romerige jogurt en heuning met ontbyt is ook verruklik.”

Nico kan homself help in Grieks, hoewel hy dit nie vlot praat nie, en Christi kan “ek is Christi” en nog ’n paar sinne sê. Maar met gebare en geluide kon sy oor die weg kom.

“Die Grieke is gul en verwelkom nuwelinge. Toe ons by Nico se tannie Stavroula en oom Iaonnis in Athene gekuier het, het ek probeer uitvind wat die wonderlike vleisgereg is waaraan die tannie so werskaf in die kombuis. Met ’n moe-hoe en mêê het die tannie gelag en toe begin snork. En toe weet ek dis varkvleis.”

Nico se familie in Griekeland het nogal gedink sy is heel uitheems met haar blonde hare en omdat sy byna net so lank is soos hy (1,8 m –’n outydse 5 voet 11). Hulle sal die vrygewigheid nie gou vergeet nie. Orals, veral by ’n oom van die dorpie Karmi in die Peloponnesos, en sy gesinslede wat nou in Athene woon, het elke lid van die familie vir haar geskenke aangedra: van ’n klein diamanthangertjie tot ’n serp en koekies. Daar was so tien van Nico se nefies met die familienaam Tassos en wie weet hoeveel niggies wat Angeliki heet.

“Hulle kan nie genoeg doen om jou welkom te laat voel nie. Hulle vertel jou heeltyd hoe mooi en spesiaal jy is. Dis ongelooflik!

“Dis waar Nico sy groot hart vandaan kry. Hy weet ook hoe om my spesiaal te laat voel en glo in gehalte. Dis ’n Griekse ding. Hulle het ’n baie besonderse gevoel vir die beste dinge. Hulle hou daarvan om mense te bederf en goed te laat voel. Nico kry dit ook van sy ouers. Hy sit die magic in ons huwelik ook deur die klein dingetjies, soos om saam met my vir ’n naweek die berge in te ontsnap met ons honde en fiets te ry. Sodat ons net kan wegkom van die stad se gejaag.

“Of ek en hy koop ’n paar sakke hout en maak ’n kaggelvuur in die winter en geniet twee bottels wyn en lekker romerige sjokolade en praat met mekaar in verskillende aksente. Of ons vertolk rolle voor mekaar en lag dan net heerlik! Ons skep momente. Dit hou die verhouding interessant.”

Sy glo ook dis baie belangrik om jou man te laat goed voel.

“Die vrou bepaal die mood in die huis. Daar was ’n tyd toe ek baie ek-gerig en ambisieus was. Maar soos jy ouer raak, besef jy dis lekker om vir jou man heerlike kos te kook en hom te bederf.

 

Soos jy ouer raak, besef jy dis lekker om vir jou man heerlike kos te kook en hom te bederf,” sê Christi

 

“Ek hou daarvan om heerlike, vars slaaie te maak, en maak ook graag filette met vars kruie. Nico is mal oor spaghetti. Dan maak ek ook baklava (’n baie soet Griekse filodeegpastei) en souvlaki (’n Griekse varkdis), en ek hou daarvan om Griekse frikkadelle en tzatziki (’n sous van ongegeurde jogurt, olyfolie, fyn  komkommer en geurmiddels soos swartpeper en sout) en interessante groot mezze-borde (’n versameling van Griekse en Midde-Oosterse klein geregte) voor te sit.

“Dis vir my ’n voorreg om ’n tuisteskepper te wees. Ons wil eendag graag kinders hê, maar dis in God se hande. Ons wil hulle met goeie waardes grootmaak.  Kultuur is belangrik. Hulle sal beslis ’n musiekinstrument moet bespeel, ander moet respekteer, God moet liefhê. As ek kyk hoe gedissiplineerd ons is met die diere – die Weimaraners Diego en Gia en die katte Mexiko (nou na Mykonos herdoop!) en Cuba – dan dink ek ons gaan goeie ouers wees. As ons weggaan naweke, dan kyk ons uit vir diervriendelike  gastehuise. En ons diere is baie goed geleer. Ek hoop ons kinders is ook so.

“Die belangrikste is egter om altyd daar te wees vir jou kinders en hulle hope liefde te gee. En om saam met hulle dinge te doen. Ek glo dis goed om by jou kinders te bly as jy enigsins kan en hulle groot te maak. Ons het ’n tradisionele verhouding. Nie omdat Nico dit vereis nie,maar omdat ek deur al die fases in ons verhouding gesien het dis wat vir ons werk.”

En tog, hoewel sy glo hul huwelik is soos ’n movie, gee sy toe daar is soms konflik.

“Natuurlik baklei ons. Oor klein dingetjies. Soos hoe ’n mens ’n foto moet neem. Albei van ons is hardkoppig. Maar die basiese raakpunte is daar. Ek en hy het mekaar ontsettend gemis toe hy ses weke weg was met die verfilming van Survivor SA: Santa Carolina.

 

Natuurlik baklei ons. Oor klein dingetjies!”

 

“Die eerste week was oukei. Ek het my vriendinne gesien en gaan fliek, lekker gelees. Die tweede week was ook oukei. Maar dan begin ek sy snaakse (en diep!) kommentaar op die lewe mis, en om sommer net met hom kaart te speel. Dis nie meer lekker om saans alleen te eet nie. Ek mis sy glimlag en dat hy in die boonste deel van die huis op die rekenaar werk terwyl ek onder in my binneversiering-ateljee besig is. Ons is sulke goeie maats. Jy verlang na daardie nabyheid.”

Sy is nie een dag spyt oor die groot JA wat sy vier jaar gelede, op 18Maart, voor die kansel geuiter het nie. Die rooi en pienk en helderrooi uitgepakte rooshart in die middel van die dansvloer by die restaurant waar die huweliksonthaal gehou is in Johannesburg, die klank van die bouzouki-orkes en die breek van ’n reuse-stapel wit borde, waarvan die stukke gemeng het met die rooi hart op die vloer, is vir ewig deel van die mooiste herinneringe in haar lewe.

“Die vloer het so dramaties en Grieks gelyk!”

Haar eie Big Fat Greek Wedding . . .

Nico, die Afrikaanse Griek van haar drome, het haar laat besef daar is soveel raakpunte tussen Afrikaners en Grieke.

“Albei kulture hou van lag, eet, sing, dans, die familie, die gulheid van die lewe. Dis mos waaroor leef gaan.”

En as sy die klank van bouzouki’s hoor, is sy dadelik in haar element.

[box:full:grey:both]

MOOIMAAK MET FANIE – KRY CHRISTI SE VOORBLADVOORKOM SÓ

[/box]

Ná ’n romantiese wegbreek is Christi sonbruin wat haar ysblou oë en blonde hare nog meer laat uitstaan. Ons het haar grimering by haar vakansievoorkoms aangepas. Verbronser is op haar voorkop, wange en slape gebruik en ’n tikkie nartjiekleurige blosser is op haar wangbene.

Ligte skakerings vlootblou, lila en ysblou is van binne na buite oor haar ooglede gevee. Swart roomoogomlyner is voor maskara aan die binnekant van haar ooglede aangewend om haar wimpers voller te laat lyk. Haar lippe is getik met ‘n lipkleur een skakering ligter as haar velkleur en met lipglans afgerond. Meer perfek vir ‘n voorblad kry jy nie!

[box:full:grey:both]

Kry Christi se hare só

[/box]

1 Blaas klam hare droog vir volume en tekstuur.

2 Wend waks met vingerpunte aan punte vir definisie.

3 Hou in plek met ’n bietjie haarsproei.

4 Werk laastens hare met vingers van bo na onder deur vir ekstra tekstuur.

 

Rooi is perfek vir blondines. Maar kies ’n rooi met ’n blou ondertoon. ’n Geel ondertoon sal jou vel oranje laat lyk,” is Fanie se raad.

 

Blond, natuurlik!

Christi is natuurlik blond, maar selfs sy kleur haar hare – uit ‘n boks en so na as moontlik as haar eie skakering – om haar haarkleur te lig. Soms speel sy met sonstrepies vir dimensie. Dit laat sy professioneel doen.

 
Skets van Christi se klere ‘n Moet hê: Ek het vir die voorblad sexy sonrokke gekies – dié seisoen se top-treffer. Met sagte vroulike lyne en blompatrone kan jy nie verkeerd gaan nie. Kies iets wat by jou lyf en bene pas. As jou bene, soos Christi s’n, jou beste bate is, kies enige lengte van die knie tot ses vingers bo die knie. As jy nie van jou knieë hou nie, dra jou rok tot net onder jou knie. En as selfs dít nie vir jou werk nie, onthou die maxi-rok is dié somer ewe stylvol en gewild!
Bronskleurige kandelaaroorbelle Onthou: Vervang jou sandale en sonbril met hoë ooptoon-hakskoene en groot, blink oorbelle en stapel jou hare bo-op jou kop–en jy’s reg vir jou partytjie!