sr0805toenou_1_
Ons praat met

Claire Johnston, Mango Groove

Die Suid-Afrikaanse band Mango Groove reik in September hul eerste CD in veertien jaar uit – Bang the Drum, met sestien liedjies. Marguerite van Wyk het met die hoofsanger, Claire Johnston, gesels.

Hoekom het julle so lank geneem voor julle ‘n nuwe CD uitgereik het?
Dit was altyd in ons agterkoppe en verlede jaar het ons daarop begin fokus. Ons het almal op ander projekte gefokus en dit het ons ‘n vars perspektief op Mango Groove gegee en ons het besef hoe spesiaal dit vir ons is. Oor die afgelope paar jaar het ons al hoe meer Mango Groove-gigs gedoen en baie positiewe terugvoer van mense gekry. Ons het veral baie reaksie per e-pos op ons website www.mangogroove.co.za gekry.

Is daar baie nuwe liedjies op, of ‘n kombinasie van nuut en oud?
Dis áls nuut. Aanhangers kan ‘n post-millennium Mango Groove-klank verwag. Baie uitbundige, prettige, goedvoel, lighartige ‘Mango-popliedjies’ asook ‘n paar ballades en ons hoop ons gaan ráák tref.

Wat is Mango Groove se planne vir die volgende jaar?
Ons wil uiteraard die nuwe CD bemark en dít sal baie lekker wees en ons beplan ‘n Suid-Afrikaanse toer aanstaande jaar asook ‘n paar internasionale vertonings.

Wat is jou gunsteling-liedjie op die CD?
Hmm, moeilike vraag, want ek hou van alles. Ek gaan dit moet sny tot vier, as jy nie omgee nie. ”It’s OK”, ”Hey”, ”Belong” en ”This is not a party”.

Was dit fun om die CD op te neem?
Ongelooflik! Dit hele CD gaan oor pret en feesvier en dit is tipies Suid-Afrikaans. Dit is so lekker om die nuwe liedjies in die Mango Groove-styl te hoor en hoewel sekere liedjies ‘n bietjie ekstra denke geverg het, het dit betreklik lekker gevloei. Om saam met EMI te werk was ‘n groot vreugde en ons het hope ondersteuning van hulle gekry.

Hoekom, ná al die jare, dink julle dit gaan steeds ‘werk’ vir Suid-Afrikaanse gehore?
Mango Groove was deel van die Suid-Afrikaanse ‘klankbaan’ gedurende baie historiese, heugelike en onstuimige tye en ons het nog altyd sulke fantastiese ondersteuning van die publiek en die media gekry. Ons hoop dat dié CD goeie herinnering gaan terugbring terwyl dit ook gaan inpas by die hedendaagse Suid-Afrika. Dit is ‘n ‘gelukkige’ CD en ons hoop dat dit Suid-Afrikaners gaan aanraak.

Wie was verantwoordelik vir die musiek en lirieke?
John Leyden, Mduduzi Magwaza, Kevin Botha en ek het die liedjies geskryf. John het die musiek en die produksie gedoen sodat dit baie klink soos die Mango Groove wat mense kén. Maar daar is ook ‘n varsheid aan die nuwe produk. As mense in die verlede van ons gehou het, sal hulle nou ook daarvan hou.

Wat was die grootste uitdagings van dié CD?
Dit was eintlik baie ontspanne en als het maklik gebeur. En die belangrikste, dit was fun. Daar was so nou en dan bietjie angstigheid, maar dis als deel van die kreatiewe proses en dít maak die produk net sterker.

Met watter ander projekte hou jy jou besig?
Die nuwe CD is my hooffokus. My man, John, en ek is altyd baie geïnteresseerd in natuurbewaring en is altyd besig om projekte te ondersoek oor hoe die gemeenskap meer betrokke kan raak in onder meer ‘groen’ projekte.

Hoekom geniet jy dit so om musiek te maak?
Ek besef hoe ‘n voorreg dit is om my lewe te maak deur te doen waarin ek glo en waarvoor ek lief is. Ek is regtig dankbaar dat Suid-Afrika oor die jare so ondersteunend was. Al is my bydrae hoe gering, hoop ek net ek kan mense aanhou gelukkig maak deur my sang en deur ons pragtige land te besing. En ek hoop ek kan dit nog baie lank doen.

  • ERNA SCHREUDER

    WANNER EN WAAR KAN EK DIE NUWE CD KOOP?