coenie_de_villiers_hart_van_glas
Ons praat met

Coenie de Villiers gesels oor sy nuwe album

Hart van glas is ’n baie groter, meer volwasse album. Dit voel vir die eerste keer vir my asof ek werklik iets van waarde maak, en nie net in die kantlyn saamspeel nie,” sê Coenie aan sarie.com.

Die CD bevat 14 snitte, waaronder “Thula” saam met Amanda Strydom en Sibongile Khumalo, en Wonder bo wonder saam met Die Heuwels Fantasties tel. Jan Blohm sing saam met Coenie die gewilde “Heimwee”, wat Mimi Coertse jare gelede bekend gemaak het en deur S. le Roux Marais en J.R.L. van Bruggen geskryf is.

“Ek hoop gewoonlik die mense wie se musiek ek geniet, is bereid om saam met my op te tree. Ek is ʼn groot aanhanger van almal wat meedoen op die album, en dit was heerlik om saam met hulle in die ateljee te werk,” vertel Coenie.  

Die CD is oor etlike maande in sewe verskillende ateljees deur sewe verskillende klank-ingenieurs opgeneem. Jaconell Mouton is die regisseur van die album, en Coenie verwys na haar as ’n musikale fenomeen.

Dit is ook sy wat Coenie en Grammy-wenner Jeremy Lubbock se paaie laat kruis het. Jeremy, wat die musiek vir Hart van glas met ’n volle simfonie-strykseksie in Kaapstad opgeneem het, het al met kunstenaars soos Céline Dion, Michael Jackson en Madonna saamgewerk.

Alhoewel Coenie nie gaan toer met dié album nie, gaan hy wel optredes doen waarin die nuwe musiek gehoor kan word.

“Die album is van internasionale gehalte, natuurlik te danke aan al die ongelooflike mense wat saam daaraan gewerk het,” meen Coenie.

Self luister hy na alles van rock tot jazz, en sy musiek word geïnspireer deur enigiets – van ’n frase hier tot iets wat iemand kwytraak daar … “Dis moeilik om te verduidelik, maar as jy dit hoor, weet jy net – dít gaan ’n liedjie word.”

Die vrystelling van Hart van glas is vir Coenie ’n hoogtepunt in 2011, maar ook die toekenning by Skouspel vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek staan vir hom uit in die jaar wat verby is.