Ons praat met

Dan Skinstad se ma praat ná haar seun se epiese tog

Dan Skinstad (31), ‘n gekwalifiseerde regsgeleerde wat serebraal gestrem is en in Kaapstad woon, en sy roeimaat Riaan Manser het vandeesmaand hul epiese ses maande lange roeitog om Ysland voltooi. Alana Skinstad, Dan se ma, ’n huisvrou, en sy pa, Alvin, ’n huisdokter, woon op Hermanus. Alana vertel hoe trots sy op haar seun is…
 
“Dan het nog altyd gesê hy wil sy grense verskuif. Toe hy einde verlede jaar sê hy wil dié tog aanpak, was ek geskok. Die reis het so ver en afgesonder geklink. Maar ek het besef as dit hom gelukkig sou maak, móés hy dit doen. Ek en Alvin het al drie seuns, Bobby (die rugbyspeler), Andy (29), wat sy eie advertensie- en bemarkingsmaatskappy in Clapham, Engeland, besit, en Dan altyd ondersteun en aangemoedig om in hulself te glo. Soms is dit vir ’n ma moeilik om te laat gaan, maar jy móét. Ek het die seuns soms ’n bietjie pamperlang, want ’n ma wil altyd beskerm. Maar ek het vertroue in Riaan gehad en geweet Dan sal nie onverantwoordelik wees nie. Gedurende die ekspedisie het ons via Skype en SMS’e gekommunikeer.

“Ek het vooraf vir Dan gesê as dit swaar gaan, moet hy fokus op familie en vriende wat hom ondersteun. En hy glo dit hét hom deur moeilike dae gehelp. Ek was baie verlig toe hulle die tog voltooi het en besef opnuut hoe sterk my seun se karakter is. Hy laat hom sedert kleintyd nooit stuit nie. Dan is tien weke te vroeg gebore en moes eintlik nie geleef of selfs universiteit toe gegaan het nie. En kýk net. Met sy tuiskoms het sy vriende vir hom ’n wonderlike verrassingpartytjie gegee. Wie weet wat die toekoms inhou. Dalk word hy ’n motiveringspreker.”

  • Sorine Swanepoel

    Fastasties! Wat ‘n wonderlike inspirerende storie. Tien uit tien vir Dan en sy ma wat hul deur geen vrese of probleme laat onderkry nie.